Pastorale Brief: 3de Kwartaal 2024
October 3, 2024
Pastorale Brief: 3de Kwartaal 2024
October 3, 2024

AGS Familie,

Ons staan aan die einde van nog ’n jaar en kyk terug met dankbaarheid vir alles wat God vir ons gedoen het. 2024 sal onthou word as ’n jaar van dinamiese beweging en vooruitgang binne die AGS van SA. Tydens die Nasionale Konferensie in September was ons weer herinner aan ons Pinksterwortels en die Heilige Gees-vuur wat ons geestelike “vuur” aan die brand steek en hou - sodat ons ‘n verskil kan maak in die wêreld as Heilige Gees gevulde volgelinge van Christus. Die wêreld en Suid-Afrika het die teenwoordigheid van God baie nodig.

Vir die laaste Pastorale Brief het ek my mede-Nasionale Ampsdraers versoek om hul gedagtes te deel oor die volgende drie temas: (i) ‘n Terugblik op 2024 en ‘n Vooruitsig na 2025, (ii) ’n Pastorale Refleksie: Die Balans tussen Bediening en Gesinslewe en (iii) Finansiële Rentmeesterskap: Insette & Wenke. In die slot deel ek ’n boodskap van hoop en bemoediging en stel die geestelike toon vir die nuwe jaar. Ek vertrou dat jy die boodskappe nuttig en prakties sal vind.

‘N TERUGBLIK OP 2024 EN ‘N VOORUITSIG NA 2025

Dr Henri Weideman; Pastor Barend Petersen; Pastor Selby Khumalo; Pastor Rudi Coertzen

Dr Henri Weideman:

As ons terugkyk op 2024, is daar soveel om voor dankbaar te wees en om as 'n kerk-familie te vier. Hierdie jaar was die begin van die AFM Legacy Leadership Program, 'n belangrike stap in die toerusting van leiers vir die toekoms. Ons het ook gesien hoe die Welsyn Departement stabiliseer. Dit help ons om te verseker dat ons kan voortgaan om behoeftiges meer effektief te ondersteun. Ons Teologiese Opleiding het groot vordering gemaak en die grondslag vir gesonde opleiding en dieper geestelike groei is versterk vir alle lidmate wat die roeping van God tot bediening ervaar. Ons het ook 'n stewige fondament gelê om Kerkgroei te versnel. Dit sal ons voorberei om ons reikwydte en impak in die komende jare uit te brei.

Deur dit alles is ons dankbaar vir God se leiding en die toewyding van almal wat saamgewerk het om hierdie prestasies moontlik te maak. Waarlik, 2024 was 'n belowende jaar van vooruitgang! Ons sien uit na nuwe hoogtepunte en prestasies in 2025.

Pastoor Barend Petersen:

Die momentum van die AGS Kerkplanting- en Herlewingsstrategie het in 2024 werklik spoed opgetel. Deur omvattende opleidingsmodules en praktiese riglyne word die leiers van ons kerk toegerus met strategieë om nuwe gemeentes te plant en om nuwe lewe in bestaande gemeentes te blaas. Deur hierdie opleiding fokus ons biddend (2 Timoteus 1: 6-7) om ons pastore en leiers toe te rus en te bemagtig om ons AGS-gemeentes te laat groei vir ’n groter impak om die Koninkryk van God te vestig. Die momentum wat deur die sukses van die opleidingsprogram geskep is, het ’n nuwe toewyding aan proaktiewe evangelisasie en kerkplanting aangewakker. Dit posisioneer die AGS vir volhoubare groei en relevansie te midde van ‘n voortdurende veranderende landskap t.o.v. geloof en samelewing. In ’n wêreld wat meer verdeeld is as ooit tevore, is ’n verenigde AGS se Goddelike mandaat om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees.

Die AFM Campus Ministries is aktief by tien (10) universiteite, en hul aktiwiteite sluit in: leierskap werkswinkels, evangelisasie- en herlewingsuitreike, gebedsaksie vir eksamens, Sondagdienste en weeklikse gebedsbyeenkomste. Die resultate van navorsing deur die AGS Nasionale Jeugdepartement oor die redes waarom ons baie van ons “AGS-kinders” verloor, word tans deur die Nasionale Ampsdraers oorweeg.

Pastoor Selby Khumalo:

Terwyl ons terugkyk op die afgelope jaar was ons aktief besig om drie strategiese dokumente te ontwikkel wat daarop gemik is om die AGS se operasionele doeltreffendheid te verhoog en verder alle vlakke van die Kerk sterk in belyning te bring met ons missie. Hierdie dokumente verseker ook dat ons benadering tot die toekoms versterk is:

  1. Die AGS Kommunikasie Strategie
  2. Die AGS Nasionale Konferensie Koördinasie Strategie
  3. Die AGS Pastorale Welstand Strategie

Hierdie strategiese planne is geskep om betekenisvolle innovasie en sigbare vooruitgang in ons Kerk te bewerkstellig. By die Nasionale Kantoor bly ons ook toegewy aan hoë standaarde van data-integriteit en deeglike verifikasie prosesse vir al ons gemeentes en pastore. Dit is noodsaaklik om vertroue te versterk, akkuraatheid te verseker en verantwoordbaarheid te bevorder.

Soos ons ’n nuwe seisoen betree, bly ons standvastig in ons toewyding aan die kernwaardes van die Pinksterbeweging. Ons put krag uit die versekering dat "God alles ten goede laat meewerk" (Romeine 8:28). Met optimisme en vasberadenheid sien ons uit na die positiewe impak van ons pogings op ons gemeentes, gesinne en gemeenskappe. Saam sal ons die pad vorentoe met geloof en doelgerigtheid navigeer.

Pastoor Rudi Coertzen:

Dit is werklik ’n voorreg om deel te wees van die AGS. Hierdie Kerk verpersoonlik die roeping wat God op ons geplaas het deur ons optrede en bediening. Hierdie jaar het ons nie net numeriese groei beleef nie, maar ook persoonlike groei in ons eie lewens sowel in die lewens van ons lidmate. Oral waar ek gereis het in die land, het ek die verskil gesien wat ons gemeentes in hul gemeenskappe maak. 

Sommige reik uit na kwesbare groepe en bejaardes, terwyl ander daagliks die behoeftiges voed. Ons pastore en lidmate, as dienaars van God, implementeer ons visie van vergrote impak deur die Goeie Nuus te verkondig en die geestelike “vuur” aan die brand te hou. Mag God ons almal die moed gee om voort te gaan met hierdie goeie werk.

’N PASTORALE REFLEKSIE: DIE BALANS TUSSEN BEDIENING EN GESINSLEWE

Dr Henri Weideman; Pastor Barend Petersen; Pastor Selby Khumalo; Pastor Rudi Coertzen

Dr Henri Weideman:

Dit is dikwels moeilik om bedienings werk en gesinslewe te balanseer, maar dit is noodsaaklik vir pastore en hul gesinne om gesond en effektief te bly. Begin deur duidelike grense tussen jou werk- en huis lewe te stel en skeduleer ononderhandelbare gesinstyd. Prioritiseer jou gade en kinders deur by hulle teenwoordig te wees, nie net fisies nie, maar ook emosioneel. Kommunikeer openlik met jou gesin oor jou bedienings rooster/skedule en betrek hulle waar moontlik by besluite oor jou program. Delegeer take in die Kerk aan betroubare leiers sodat jy nie alles alleen dra nie. Die belangrikste is om te onthou dat God jou gesin net soveel waardeer as jou roeping – albei is deel van Sy plan vir jou lewe.

Redelik vroeg al in my bediening het ek en my vrou een aand elke week as 'n "date night" geskeduleer. Ons gaan iewers heen om 'n koffie te drink, of net tyd saam deur te bring - sonder om oor "werk" te praat. Deur die jare moes ons soms die aand met 'n ander een uitruil as daar iets dringend was wat aandag moes kry - maar ons het aangehou om dit te doen. Nog iets wat ek gevind het help is om van "werksklere" na "huisklere" te verander wanneer ek by die huis kom - dit help ‘n mens om sielkundig die oorgang te maak vanaf “werk” na “tuis saam met jou gesin”. Terwyl ons dogter nog aan huis was, het ek gereeld 'n "afspraak" met haar geskeduleer waartydens ons sou praat oor waaroor sy ook al wou praat. Dit het baie gehelp om te verseker dat ons tot vandag toe steeds 'n goeie en oop verhouding het. 

Pastoor Barend Petersen:

Ons almal het ’n openbare (voorgrond) en privaat (agtergrond) lewe. Die voorgrond is die publieke wêreld van bediening. Dit is waar ons gesien word, waar die kollig op ons val, en waar mense ons bekragtig en beaam. Dit is die plek waar ons ander inspireer en met vaardigheid en Goddelike gesag lei. Die voorgrond gaan alles oor doen.

Ons het egter ook ’n privaat agtergrond lewe – en die twee is nou verbind. As ons die agtergrond lewe verwaarloos insluitend ons gesin, gebedslewe, persoonlike wandel met God of die bestuur van ons persoonlike sake en finansies, sal die voorgrond uiteindelik in duie stort. Terwyl die voorgrond die publieke wêreld van leierskap is, is die agtergrond die private wêreld van die leier. Die gehoor het geen toegang daar nie – daar is geen kollig of glorie nie. Wat agter die skerms gebeur fasiliteer en bemagtig dit wat op die voorgrond plaasvind.

Die agtergrond gaan alles oor wees. Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.

Pastoor Selby Khumalo:

In ons rolle as geestelike leiers is ons diep gewortel in gesinswaardes wat ons koester en hoog op prys stel. Ons besef dat doeltreffende leierskap nie net gaan oor die leiding van ander nie, maar ook oor die koestering van diepere verhoudings binne ons gesinne. Daarom prioritiseer ons gebed en die studie van die Skrif, met die begrip dat geestelike groei noodsaaklik is vir ons gesamentlike geestelike reis. Net so beklemtoon ons die belangrikheid daarvan om kwaliteit tyd aan ons gesinne te wy, aangesien ’n gebalanseerde omgewing by die huis direk bydra tot algehele geestelike welstand.

Pastoor Rudi Coertzen:

Hierdie onderwerp word maklik deur baie van ons leiers verwaarloos. Baie glo dat jy net rus wanneer jy moeg is, en dikwels rus ons eers ná ’n waarskuwing van uitbranding – maar dit is nie hoe God dit vir ons beplan het nie. Sy droom is dat ons vanuit ’n plek van rus moet bedien. Ons moet rus voor ons ons take aanpak, sodat ons verfris is en op ’n baie hoër vlak kan bedien. Wanneer ons uitgerus is, is ons gewoonlik makliker om mee saam te leef. Ons gesinne, wat dikwels aan die ontvang kant staan van ons spanning en gejaagdheid, sal ‘n beter weergawe van ons beleef by die huis en by die werk. Terwyl ons ’n rus-seisoen betree, onthou dat die lewe nie net oor harde werk gaan nie – ons het tyd nodig om te reflekteer, te dink en te beplan sodat ons die beste weergawe van onsself kan wees. Geniet hierdie tyd van rus!

FINANSIËLE RENTMEESTERSKAP: INSETTE & WENKE

Dr Henri Weideman; Pastor Barend Petersen; Pastor Selby Khumalo; Pastor Rudi Coertzen

Dr Henri Weideman:

Om persoonlike finansies verantwoordelik te bestuur is belangrik om onnodige stres te vermy en 'n goeie voorbeeld vir ander te stel. Begin deur 'n eenvoudige begroting te skep wat jou inkomste en uitgawes lys - maak seker dat jy binne jou vermoë leef. Vermy onnodige skuld, en as jy lenings het werk daaraan om dit getrou af te betaal. Spaar gereeld 'n gedeelte van jou inkomste (al is dit 'n klein bedrag) om voor te berei vir noodgevalle en toekomstige

behoeftes. Wees wys met jou uitgawes - onderskei tussen behoeftes en begeertes, en prioritiseer noodsaaklikhede soos behuising, kos en om te gee. Laastens, soek advies wanneer nodig, hetsy van 'n finansiële adviseur of betroubare mentor, om te verseker dat jou finansies op koers bly. Sedert my eerste maand as pastoor tot vandag toe, hou ek 'n maandelikse begroting in 'n swart A4 (toonbank) boek. Dit sluit my tiendes in, sowel as inkomste en uitgawes. Deur 'n begroting te hou, maak ek seker dat ek nie meer spandeer as wat ek ontvang nie. Ek maak ook seker dat ek iets spaar om voorsiening te maak vir aftrede. Elkeen van ons kan iets "opoffer" en daardie geld gebruik vir 'n aftree-annuïteit of iets soortgelyks. In ons geval het ons nooit DSTV gehad nie (en het dit nog steeds nie).

Pastoor Barend Petersen:

Ons definieer onsself dikwels aan die hand van wat ons besit, en die advertensie bedryf herinner ons gereeld aan dit wat ons nie het nie en wat ons glo ons behoort na te streef. Om ’n balans te vind tussen ons behoeftes en begeertes binne die konteks van ons beskikbare inkomste, bly ’n voortdurende uitdaging. Dit verg van ons om wysheid en goeie rentmeesterskap toe te pas in ons persoonlike finansies en om binne ons vermoëns te leef.  Ek het byvoorbeeld geleer dat vroeë beleggings in bates met groeipotensiaal, soos eiendom en aftreefondse op die lang termyn baie meer waarde toevoeg as die gereelde vervanging van motors, waarvan die waarde net met tyd afneem.

Pastoor Selby Khumalo:

Ons is toegewyd aan verantwoordelike rentmeesterskap van die hulpbronne wat aan ons toevertrou is. Gesonde finansiële beplanning en die opbou van spaarfondse vir onvoorsiene omstandighede is nie net verstandige praktyke nie, maar noodsaaklike komponente van ons welstand. Deur ’n vooruitdenkende benadering tot ons finansiële bestuur aan te neem, versterk ons ons veerkragtigheid en vermoë om ons gesinne en gemeentes doeltreffend te dien.

Pastoor Rudi Coertzen:

Die beste manier om jou finansies te bestuur, is om jou geld na die regte “plekke” te stuur. Hoe doen ons dit? Ons doen dit deur met ’n begroting te werk. Sonder ’n begroting sal jy waarskynlik vind dat jou geld klaar is voordat jou volgende salaris betaal word. Dit sal ook moeilik wees om rekenskap te gee van waarheen jou geld gegaan het. ’n Begroting is ’n riglyn om jou geld te spandeer op dinge en dienste wat vir jou en jou gesin belangrik is.

Sonder ’n begroting koop ons dikwels dinge wat ons nie nodig het nie en beland ons maklik in die skuld. Jou begroting help jou om vooruit te beplan. Elke huishouding behoort ’n veiligheidsnet te hê – in ‘n toeganklike rekening - wat minstens drie maande se uitgawes dek. Op hierdie manier hoef geen krisis werklik ’n krisis te wees nie, aangesien jy die middele het om finansiële struikelblokke te oorkom en te bestuur. Die gemoedsrus wat ’n noodfonds bied, stel jou in staat om ’n lewe sonder finansiële stres te lei.

SLOT

Dr Henri Weideman - President van die AGS van SA

Soos ons die nuwe jaar binnestap, laat ons dit omhels met hoop en geloof dat God groter dinge in gedagte het vir ons as pastore, gesinne en lidmate. Ek glo dat 2025 nie 'n jaar is om net tevrede te wees met net die handhawing van wat ons reeds bereik het of om te hou by wat gemaklik voel nie. In plaas daarvan is dit 'n seisoen om nuwe grond te breek - geestelik, emosioneel, in ons persoonlike lewens en in ons bedieninge.

Ek glo God roep ons om groter te droom, Hom dieper te vertrou en gebiede in te stap wat ons nog nooit vantevore verken het nie. Uitdagings kan kom, maar onthou dat Sy krag volmaak word in ons swakheid. Laat ons saam met moed vorentoe gaan, in die wete dat Hy wat 'n goeie werk in ons begin het, dit tot voltooiing sal bring. Hou aan glo, hou aan bou en hou aan om vorentoe te beweeg – want met God lê die beste nog voor!

Vriendelike Groete
Dr Henri Weideman