Pastorale Brief: 4de Kwartaal 2024
December 5, 2024
Pastorale Brief: 2de Kwartaal 2025
June 26, 2025
Pastorale Brief: 4de Kwartaal 2024
December 5, 2024
Pastorale Brief: 2de Kwartaal 2025
June 26, 2025

AGS Familie,

AGS Familie,

Tydens ons geloofsreis, word ons herinner aan die belangrikheid van geestelike en praktiese balans in ons lewens. In hierdie uitgawe besin ons oor “Goddelike Genesing” as ’n kern waarheid wat diep verweef is in die DNA van ons Kerk – ’n getuienis van God se krag en getrouheid deur ons geskiedenis heen. Mag hierdie artikel jou geloof hernu in Sy vermoë om te herstel en te onderhou.

Ons ondersoek ook beginsels vir die gesonde balans tussen bediening/werk en die lewe. Elke gelowige, of dit nou in voltydse bediening of in die werksplek is, is bekend met die uitdaging om ‘n gesonde lewensritme te handhaaf. Hierdie praktiese insigte sal jou aanmoedig om met passie te dien en te werk, terwyl jy omsien na jou persoonlike welstand, verhoudings en geestelike groei.

1. GODDELIKE GENESING: GOD SE HART OM TE HERSTEL

Dr Henri Weideman - President van die AGS van SA

Goddelike genesing is wanneer God bonatuurlik gesondheid en heelheid herstel. Dwarsdeur die Bybel sien ons Sy begeerte om mense te genees en fisies, emosioneel en geestelik heel te maak.

Die Bybelse Grondslag van Genesing. Van die begin af het God Homself as ons geneser geopenbaar. In Eksodus 15:26 het Hy vir Sy volk gesê dat as hulle na Hom luister en Sy weë volg, Hy hulle sal enees:“…Dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” Dit is waar ons die naam Jehovah Rafa kry, wat "Die Here wat genees" beteken. In die Nuwe Testament het Jesus hierdie belofte herbevestig. Markus 16:17-18 sê dat diegene wat in Hom glo, tekens van genesing sal sien: “…Hulle sal siekes die hande oplê en die sal gesond word.” 

Genesing in die Bediening van Jesus. Genesing was die kern van Jesus se bediening. Matteus 4:23 vertel ons dat Jesus van plek tot plek gereis het, gepreek en geleer het, en elke siekte genees het. Dit het vervul wat die profeet Jesaja gespreek het: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” (Matteus 8:17). Een kragtige voorbeeld is die vrou wat 12 jaar lank gely het. Sy het Jesus se mantel aangeraak en in Sy genesende krag geglo en Hy het vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees.” (Mark 5:34) Genesing is nie net 'n demonstrasie van God se krag nie, maar ook van Sy liefde en deernis. Jesaja 53:5 sê vir ons dat ons deur Jesus se offer aan die kruis genesing ontvang: “…Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

2. GEANKER IN JOU DOEL: DIE BALANS TUSSEN ROEPING, GESIN & GEMEENSKAP

Pastoor Barend Petersen Adjunkpresident van die AGS van SA

Roeping. Hierdie punt is veral gerig aan ons Pastore. Pastore word op ’n unieke manier deur God geroep om te bedien, net soos Hy Moses geroep het in reaksie op die uitroepe van Israel. Die Evangelie van Jesus Christus bring hoop, en die boodskap is lewens veranderend. Ons moet getrou saam met God wandel, ons paaie reg navigeer en ons verhouding met die Here – wat ons tot Sy diens geroep het – beskerm, soos Paulus ons vermaan in 1 Korintiërs 15:58. Ons put krag uit die Here in alle lewens seisoene en verdien respek as geestelike leiers – deur wie God werk, deur wie God spreek, en wie Hy gebruik om die lewens van Sy kinders te beïnvloed. Ons toegewyde en voorbeeldige lewe, ons toewyding aan die boodskap van die kruis, ons begeerte om in Sy teenwoordigheid te wees en ons deernis vir die welsyn van ander sal die respek van jonk en oud verdien en ’n voorbeeld stel wat nagevolg kan word. Die tyd waarin ons leef vra vir sigbare Geestelike Gesag, gegrondves op ons daaglikse wandel met God, soos Paulus ons beveel in Kolossense 2:6-7.

Huwelik en Gesinsdinamika. Ons verhouding met ons gesin is die belangrikste verhouding wat ons moet beskerm. Maak tyd om ’n liefdevolle, passievolle en blywende verhouding met jou huweliksmaat te bou, te koester en te ontwikkel.

As gelowiges, bedien ons en leef ons ons lewens binne die lewensiklusse en ervarings van dié wat ons in hierdie gebroke wêreld bedien. Toewyding aan ons Goddelike roeping keer nie dat ons en ons gesinne die beproewings en uitdagings van die lewe ervaar nie – gelowiges ervaar ook verlies, pyn, lyding, moedeloosheid, teleurstellings en die dood.

Ons beleef ouerskap uitdagings, huwelik uitdagings, finansiële uitdagings, gesondheidsprobleme en moeilike verhoudings - net soos ander mense. Soms vind ons nie antwoorde nie, selfs wanneer ons desperaat op God vertrou vir ’n wonderwerk en ons geloof gekonfronteer word met ‘n doodse stilte van God af (of te wel, dit is hoe ons dit ervaar). Tog weet ons dat God, deur Sy Gees, ons in pyn en siekte vertroos en genesing aan ons siele kan bring.

Ons almal het ’n openbare (voorgrond) en privaat (agtergrond) lewe. Die voorgrond is die publieke wêreld. Dit is waar ons gesien word, waar die kollig op ons val, en waar mense ons bekragtig en beaam. Hier lyk alles ordelik en netjies. Dit is waar ons visie deel, ander inspireer en met vaardigheid lei. Die voorste verhoog gaan oor “doen”.

Ons het egter ook ’n privaat (agtergrond) lewe – en die twee is verbind. As ons die agtergrond lewe verwaarloos sal die voorgrond uiteindelik in duie stort. Terwyl die voorgrond die publieke wêreld van die gelowige is, is die agtergrond die private wêreld van die gelowige. Dit is altyd privaat, donker vir ander en soms deurmekaar. Dit is waar kwesbaarheid blootgelê word, swakhede bekend is en diepste vrese na vore kom. Geen gehoor word daar toegelaat nie. Daar is geen kollig of eer nie, maar dit is die plek wat ons voorberei en bemagtig vir dit wat op die voorgrond plaasvind. Die privaat agtergrond lewe gaan oor “wees”.

Ek bid dat ons tyd sal maak om ’n gesonde privaat lewe met ons huweliksmaats en kinders te verseker en om doelbewus kwaliteit tyd saam met ons geliefdes deur te bring.

Gemeenskap en Sosiale Verbintenisse. Suid-Afrika is ’n nasie ryk aan kulturele diversiteit, met ’n geskiedenis wat steeds weerklank vind in hedendaagse maatskaplike uitdagings. Dit maak ons samelewing uniek en veelsydig. AGS-leiers en -lidmate op alle vlakke van die samelewing word geroep om te reageer op die groot uitdagings wat ons land in die gesig staar. Die lewensbestaan van Suid-Afrikaners hang nie net af van hul fisiese en ekonomiese welsyn nie, maar ook van hul emosionele en geestelike gesondheid. Die AGS speel ’n belangrike rol deur pastorale dienste, morele- en geestelike leiding, en hoop aan ons samelewing te bied.

Die sleutel tot ’n blywende impak in ons samelewing lê in sterk verhoudings, sosiale netwerke en samewerking met ander - om sodoende ons bedienings gebiede te beïnvloed. Verhoudings verg tyd en toewyding om te bou. Om ’n mentor te hê wat jy respekteer en wie se ervaring en insigte jy hoog op prys stel, is van onskatbare waarde wanneer jy werk met die uitdagings van jou gemeenskap en jou doel om ‘n Christelike invloed uit te oefen.

3. DIEN EN LEEF MET KRAG: KULTIVEER GEESTELIKE, EMOSIONELE & PERSOONLIKE BALANS

Pastoor Selby Khumalo Hoofsekretaris van die AGS van SA

Die balansering van uiteenlopende en veeleisende bedienings- of werk verantwoordelikhede saam met die kompleksiteite van die lewe, kan dikwels oorweldigend voel. Tog is dit noodsaaklik om hierdie delikate balans te bereik - nie net vir persoonlike welstand nie, maar ook vir die doeltreffendheid van ‘n gelowige se bediening/werk. Hierdie strewe na balans gaan verder as blote noodsaaklikheid; dit is ’n kuns wat doelgerigte inspanning, deurdagte prioritisering en ’n standvastige toewyding vereis om verantwoordelikhede in lyn te bring met persoonlike vervulling. Deur hierdie balans te verstaan, kan gelowiges ’n meer vervullende en verrykende ervaring in hul geestelike en persoonlike lewens geniet.

Koestering van Geestelike Welstand. Geestelike welstand vorm die kern en dien as die fondament vir emosionele en verstandelike krag in tye van uitdagings. Gereelde gebed, meditasie en diep besinning is ’n noodsaaklike ondersteuningsisteem wat krag en insig bied gedurende stormagtige tye. Deur aan gemeente-aanbidding deel te neem en skakeling met ander gelowiges, verdiep ons ons persoonlike geloof en versterk ons verbintenisse wat die gesamentlike geestelike reis verryk. Dit is ook belangrik om duidelike grense te stel wat ‘n gelowige se tyd saam met die Here beskerm en sodoende ’n koesterende ruimte skep vir geestelike vernuwing. Deur hierdie kosbare tyd opsy te sit, bly ons gewortel in ons geloof en is ons beter toegerus om die vinnige en dikwels onvoorspelbare aard van die lewe met kalmte en duidelikheid te hanteer.

Emosionele en Verstandelike Gesondheid. Selfversorging is noodsaaklik vir die behoud van energie en veerkragtigheid in die veeleisende veld van bediening en die daaglikse lewe. Om vroegtydig die tekens van uitbranding te herken – soos aanhoudende moegheid, liggeraaktheid en afgetrokkenheid – is die sleutel tot die voorkoming van emosionele uitputting. Die bewuste toepassing van doeltreffende stres bestuurstegnieke kan ons vermoë om uitdagings te hanteer aansienlik verbeter. Gereelde fisiese aktiwiteite – of dit nou ’n vinnige draf sessie, ’n rustige stappie in die natuur of ‘n diep-asemhaling of skryf sessie is in ‘n joernaal – hierdie tipe aktiwiteite bevorder fisiese welstand en bring innerlike vrede. Boonop help gereelde refleksie om selfbewustheid te verhoog, wat ons bemagtig om ingeligte besluite oor ons emosionele gesondheid te neem. Hierdie deurlopende self-evaluering verseker ’n meer gebalanseerde leefstyl wat ruimte skep om persoonlike behoeftes en aspirasies te oorweeg.

Omhels Persoonlike Ontwikkeling en Groei. Elke uitdaging in die lewe bied ’n unieke geleentheid vir persoonlike groei en transformasie. Deur hierdie uitdagings te benader met ’n lewenslange leer-mentaliteit, kan ons ervarings omskep in katalisators vir betekenisvolle ontwikkeling. Deelname aan professionele werksessies, gevorderde opvoedkundige geleenthede, of tyd vir persoonlike refleksie verdiep ons begrip en versterk ons selfidentiteit. Wanneer ons verantwoordelikhede in lyn bring met persoonlike doelwitte, skep dit ’n harmonieuse balans waarin elke area mekaar aanvul en versterk - wat lei tot ’n dieper gevoel van vervulling. Realistiese en haalbare doelwitte dien as ’n padkaart vir persoonlike groei, bied geleenthede om vordering te meet en suksesse te vier, en verseker dat groei bestendig en betekenisvol bly.

4. ‘N ELEGANTE BALANS: BESTUUR JOU TYD, GESIN & FINANSIES

Pastoor Rudi Coertzen Hooftesourier van die AGS van SA

Tydbestuur is 'n groot uitdaging. Ons sukkel dikwels om ons bedienings-/werksverpligtinge met ons persoonlike lewe te balanseer. Ons mag voel dat ons altyd beskikbaar moet wees, maar dit kan tot uitbranding lei. Vir beter tydbestuur moet ons duidelike grense stel tussen ons persoonlike en bedienings-/werkslewe en onnodige onderbrekings vermy - veral tydens gesinstyd. Byvoorbeeld, om nie-dringende oproepe te ignoreer of sake later aan te spreek, kan onderbrekings voorkom en gemoedsrus bied. Beplanning is uiters noodsaaklik. Ons moet ‘n situasie vermy waar ons aanhoudend aan die werk is sonder gereelde breuke of blaaskanse. Hierdie patroon kan maklik lei tot moegheid en verminderde doeltreffendheid. Tyd vir ontspanning en refleksie is verder noodsaaklik vir geestelike gesondheid. Soos Stephen Covey voorstel moet ons almal onsself tyd te gun om te herlaai (“sharpen the saw”). Laastens moet ons rus prioritiseer deur ‘n weeklikse afdag in te skeduleer. Hierdie tyd moet saam met familie spandeer word of aan stokperdjies gewy word – ontspanning verseker dat ons energiek en doeltreffend in ons bediening/werk bly.

Finansiële rentmeesterskap is van kardinale belang, maar baie mense sukkel om hul finansies te bestuur en leef dikwels van salaris tot salaris. ’n Groot uitdaging is die druk om ’n beeld van sukses te handhaaf, wat dikwels tot skuld lei. Die poging om lenings, kredietkaarte en ander uitgawes betyds te betaal kan oorweldigend wees - veral as die ingesteldheid is dat meer inkomste altyd nodig sal wees. Die eerste stap na finansiële sekuriteit is die opstel van ’n begroting. ’n Begroting help jou om inkomste en uitgawes te monitor, sodat jy nie meer spandeer as wat jy verdien nie, wat tot skuld kan lei.

Laastens moet ons ’n voorbeeld stel wanneer dit by tiendes kom. Tiendes weerspieël vertroue in God as die Voorsiener en is ’n toets van geloof. Deur ons finansies goed te bestuur en getrou te bly in tiendes, kan ons God se voorsiening ervaar en ’n getuienis wees vir ander.

Gesinslewe. Hierdie punt is veral bedoel vir ons Pastore. Die bediening kan uitdagend wees, en baie pastore gaan deur moeilike tye wat hul toewyding tot hul roeping toets. Dit is veral moeilik om die bediening en ‘n gesinslewe te balanseer - aangesien baie pastore gesinstyd opoffer om aan die kerk se verwagtinge te voldoen. Vroeg in die bediening kan die druk om suksesvol te wees grense vervaag, wat tot persoonlike opofferings en gesinsuitdagings lei.

Ek het self ’n hartseer gebeurtenis in my gesin beleef wat my gedwing het om my prioriteite te herevalueer. Ek het besef dat, alhoewel ek beweer het my gesin eerste kom, my bediening dikwels die oorhand gekry het. Ek moes moeilike keuses maak en my vrou en kinders prioritiseer, sodat hulle naby aan God kon bly en Hom getrou kon dien. Ek het ook my kinders beskerm teen onnodige druk van die kerk en hulle toegelaat om hul eie persoonlikhede te ontwikkel sonder inmenging. Die sleutel tot ’n volhoubare bediening en ’n gesonde gesinslewe is om nie-onderhandelbare grense te stel - soos om teenwoordig te wees vir jou gesin en jou geliefdes te beskerm teen die eise van die kerk.

Pastore moet hul prioriteite reg hou en verseker dat gesin en geloof in God boaan die lysie bly. Dit is belangrik dat pastore nie ‘n afhanklikheid kultuur onder gemeentelede kweek nie, aangesien dit hul gesinslewe negatief kan beïnvloed. Delegasie is ook ’n kernaspek. Pastore moet die gawes en talente van ander in die gemeente erken en ontwikkel om hul werklas te verlig. Deur take te delegeer, kan stres verminder en uitbranding voorkom word - sodat pastore op hul belangrikste roeping kan fokus.

SLOT

Kom ons vertrou God as ons Geneser, glo in Sy beloftes en bid vir mekaar om Sy herstellende krag te ervaar. Soos Psalm 103:2-3 ons herinner: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees.”

Die balansering van bediening/werk en persoonlike lewe is ’n komplekse en verweefde reis. Alle gelowiges kan ’n vervullende lewe kweek wat beide hul roeping en persoonlike behoeftes respekteer. ’n Holistiese benadering skep die weg na ’n volhoubare en verrykende lewenstyl wat die siel voed en ‘n gelowige effektief maak in bediening of werk. Deur dit te doen, leef gelowiges opreg volgens die beginsels wat hulle aan hul gemeenskappe wil oordra en bied hulle ’n lewende getuienis van geloof en welstand wat ander inspireer.

Vriendelike Groete
Dr Henri Weideman