Pastorale Brief: 4de Kwartaal 2022

Laai die PDF weergawe hier af (om maklik te e-pos of uit te druk):

Pastorale Brief 4de Kwartaal 2022_2 DES

INHOUD

– GROETE
– ‘N FOKUS OP ONS GEESTELIKE BASIS
– WEEK VAN GEBED EN VAS: 16-20 JANUARIE 2023
– ‘n TERUGBLIK OP 2022: HOOGTEPUNTE –
– KERSFEES GROETE


INLEIDING

Beste AGS Familie,

Sentraal tot die gesprek oor missionale kerkwees lê daar ‘n uitdaging: Om ons Geestelike identiteit en lewe as Christene in ‘n post-Christendom wêreld te herstel en te verdiep. Dit is veral relevant vir ons as ‘n kerk wat leef en werk in diverse gemeenskappe, omring deur kulture wat nie meer vanselfsprekend Christene voortbring nie. In hierdie uitgawe van die jongste Pastorale Brief deel ek meer oor die Geestelike grondslag van ‘n missionale kerk. Ek doen ook ‘n beroep op ons lidmate en Gemeentes om aktief deel te neem aan ‘n kerkwye week van gebed en vas vanaf 16-20 Januarie 2023. Laastens, besin ons oor 2022 en die belangrikste hoogtepunte van die jaar.

‘N FOKUS OP ONS GEESTELIKE BASIS

Dr H.J. Weideman (President van die AGS van SA)

In “A Missional Theology of Spiritual Formation” (2012, pg.3) haal Dr Dwight J. Zscheile, Professor in Gemeente Missionaliteit en Leierskap aan die Luther Kweekskool in Minneapolis, aan uit Christian Smith en Melinda Lundquist Denton, se “Soul Searching: The Religious and Spiritual Lives of American Teenagers (New York: Oxford University Press, 2005), en verwys na ‘n verskynsel wat hulle “Moralistiese Terapeutiese Deisme” noem.

Hierdie verskynsel wat algemeen voorkom onder Amerikaanse volwassenes en beslis ook in Suid-Afrika, beskryf ‘n spiritualiteit waarin:

    • Daar ‘n God bestaan wat die wêreld geskep en georden het en nou toekyk hoe die mense op aarde lewe.
    • God wil hê dat mense goed, gaaf en regverdig teenoor mekaar moet wees, soos geleer word in die Bybel en deur die meeste wêreldgodsdienste.
    • Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en goed oor jouself te voel.
    • God nie besonder betrokke hoef te wees in ‘n mens se lewe nie, behalwe wanneer hy benodig word om probleme op te los wanneer hulle sterf.
    • Goeie mense hemel toe gaan.

Kortom, dit beskryf ‘n spiritualiteit wat moralisties van aard en terapeuties in praktyk is. Dit help jou om ‘n gerespekteerde persoon te wees en om goed oor jouself te voel. ‘n Onrusbarende aanduiding van die bestaan van hierdie verskynsel is die opvallende onvermoë van die meeste jongmense in Smith se studie om hul geloof op ‘n pragmatiese manier te verwoord.

Indien ons AGS Missionale Strategie en sy vyf drywers: Dissipelskap, Bemagtiging, Ekumeniese Betrokkenheid, Gemeenskapsbetrokkenheid en Goeie Bestuur nie gebaseer is op ‘n outentieke Heilige Gees geankerde Spiritualiteit nie, sal dit net mooi klinkende slagspreuke en akademiese oefeninge oplewer, maar geen werklike vrug en Lewe nie. “Die kern Christelike praktyke, soos aanbidding, gebed, diensbaarheid, gemeenskap en getuienis, het almal missionale dimensies. Deur hulle vorm God ons tot ‘n geroepe volk wat gestuur word om te getuig van die inbreking van God se heerskappy in ‘n wêreld van baie gelowe en geen geloof nie. Daardie getuienis ontvou deels deur die openbare praktyke van die Christelike gemeenskap, omdat dit ‘n lewenswyse leef wat gekenmerk word deur genade, vergifnis, vrygewigheid, versoening en hoop. Deur die Heilige Gees bied hierdie gemeenskap ‘n lewende, sigbare alternatief vir ‘n samelewing wat deur vyandskap, verdeeldheid, gierigheid, onreg en hopeloosheid geskend word.” (Dwight J. Zscheile, “A Missional Theology of Spiritual Formation” 2012, Bl. 26.)

“Al ons lidmate is sendelinge, nie net ‘n paar uitgesoektes nie”

As ‘n missionale kerk moet ons missionaliteit (sending) beskou as omskrywend van wat die kerk IS, want die kerk is ‘n produk van en ‘n aktiewe deelnemer aan God se sending. Al ons lidmate is sendelinge, nie net ‘n paar uitgesoektes nie. Elke gelowige en elke plaaslike Gemeente staan sentraal in God se sending, en moet onderskei waar en hoe Hy in hulle spesifieke konteks beweeg – en met Hóm saamwerk. As ons nie voortdurend ‘n hernude Geestelike identiteit en lewe as ‘n gemeenskap van Jesus-volgelinge kweek nie, sal ons ons vermoë om van die verlossing in Christus te getuig en diensbaar te wees in God se wêreld, verloor. Dit sal veroorsaak dat ons slegs in ons naam ‘n Pinksterkerk is.

Die Nasionale Ampsdraers het gelei gevoel om te fokus op die versterking en meedeling van die Geestelike fondasie van Missionaliteit in 2023, en om tyd te spandeer aan wie ons as Heilige Gees vervulde mense en -kerk is en hoe ons prakties leef.

Tydens die Streekbemagtigingsbesoeke sal ons fokus op die tema: “Hou die Vuur aan die Brand”  en sal ons meer deel oor: (i) Ons Roeping as Gelowiges en Pastore; (ii) Daaglikse tyd met die Woord en Gebed; (iii) Die Karakter, Waardes en Norme van Heilige Gees vervulde Mense; en (iv) Ons Gesinslewe  en Toekomsbeplanning. Ons vertrou om jou daar te sien!

WEEK VAN GEBED EN VAS: 16-20 JANUARIE 2023

Dr H.J. Weideman (President van die AGS van SA)

Gebed is die grondslag van ons geloof as Pinkstergelowiges. Die geskiedenis toon duidelik dat alle geestelike verdieping, verfrissing of herlewing, in die konteks van gebed gebore is. 1 Tessalonisense 5:17-18 (NLV) leer ons die volgende: “Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag, omdat julle met Christus Jesus verenig is.”

Gebed word soms net gebruik as ‘n manier om ons lys van versoeke na God te bring. Filippense 4:6 leer ons om oor niks besorg te wees nie, maar om ons behoeftes deur gebed en smeking aan God bekend te maak. Gebed is egter bedoel om ‘n manier te wees wat ons help om ‘n beter verhouding met God te bou. ‘n Manier om in gesprek met Hom te wees en na Sy stem te luister.

“Ons moet bid vir geestelike verdieping en krag en nie vir besittings of vir ‘n gemaklike lewe nie.”

Gebed moet nie as ‘n tegniek gebruik word om van probleme te probeer ontsnap nie, maar moet eerder ‘n stimulus vir groei wees. Ons moet bid vir geestelike verdieping en krag en nie vir besittings of vir ‘n gemaklike lewe nie. Vas en gebed kan ‘n belangrike rol speel in die herstel en versterking van ons intimiteit met God. Baie jarelange Christene vind dat vas hulle help om hulle toewyding aan God te versterk en om hulleself aan die Woord en wil van God te onderwerp.

As die leiers van die AGS in Suid-Afrika doen ons ‘n beroep op al ons Pastore, Gemeenteleiers en lidmate om ‘n doelbewuste poging aan te wend om ons tradisionele fokus op gebed gedurende Januariemaand te laat herleef en energiek aan te wakker. Hiermee rig ek ‘n dringende versoek dat jy jou Gemeente gedurende die week van 16 tot 20 Januarie 2023 in gebed en vas sal lei.

Vyf kort videogrepe sal vanaf 13 Januarie 2023 op sosiale media beskikbaar gestel word. Dit kan gebruik word as ‘n vertrekpunt tydens gebedsbyeenkomste, of in WhatsApp-kommunikasie oor die vyf dae as ‘n instrument om te lei en te bemagtig.

Die volgende onderwerpe sal  behandel word:
BID: Wat en waarom.
BID: Doelgerig.
BID: Vurig.
BID: Gereeld.
BID: En vas.

Ons erken die feit dat ons Gemeentes in verskillende kontekste funksioneer en daarom wil ons nie voorskriftelik wees oor hoe jy hierdie week van gebed en vas moet struktureer nie. As die Nasionale Ampsdraers doen ons egter ‘n beroep op Gemeentes om aandag te gee aan hierdie belangrike saak en om ‘n manier te vind wat effektief in jou Gemeente se konteks sal werk.

Ons glo dat die belofte wat in 2 Kron 7:14 (NLV) gemaak is, vandag nog waar is: “Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak.

‘n TERUGBLIK OP 2022: HOOGTEPUNTE
Past. Barend Petersen (Adjunkpresident van die AGS van SA)


Wanneer ons nadink oor die wêreld- en Suid-Afrikaanse gebeure in 2022, die eerste jaar ná COVID-19, is ‘n mens amper verbysterd oor die toestand van krisis waarin die wêreld verkeer. Die wêreldwye pandemie het baie lewens geneem en was die grootste bedreiging vir wêreldgesondheid in meer as ‘n eeu – met verwoestende gevolge op lewens en lewensbestaan. Dit het gelei tot ‘n wêreldwye ekonomiese resessie, onsekerheid en onomkeerbare verandering. Dit het ‘n mens weereens laat besef hoe lande en mense onderling verbind is met mekaar en kan die manier waarop ekonomieë funksioneer verander.

Net toe die wêreld begin herstel het van die verwoestende impak van die pandemie, het die oorlog tussen Rusland en Oekraïne onsekerheid oor die herstel van die wêreldekonomie veroorsaak. Die oorlog het ‘n groot negatiewe impak op: die wêreldwye voorsieningsketting, die vloei van goedere, dramatiese kostestygings en produktekorte en bedreig die verskaffing van sleutelvoedselbronne soos koring – wat die moontlikheid van wêreldwye hongersnood verhoog.

Suid-Afrika word geteister deur veelvuldige uitdagings, insluitend die skadelike gevolge van die pandemie, dalende vertroue in die politieke stelsel, korrupsie, armoede, ongelykheid, ‘n gebrek aan samehorigheid, swak dienslewering en die verswakkende vermoë van die staat om die lewens van Suid-Afrikaanse burgers te verbeter – eintlik te veel uitdagings om op te noem. Dit tesame met ‘n gebrek aan sosiale kohesie, die meedoënlose strewe na eiebelang en die dalende waarde van  algemene goeie gedrag kan, indien dit nie voldoende aangespreek word nie, verwoestende gevolge vir Suid-Afrika inhou.

Dit is belangrik om te onthou dat dit nie die eerste keer is dat die wêreld onstuimigheid, onsekerheid, oorloë, hongersnood en korrupte leiers in die gesig staar nie en erken dat God uiteindelik seëvier – dat al ons hulp van die Here kom. Laat ons herinner word aan Klaagliedere 3:22-24 (AFR83): “…deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”

Op 5 April 2022 het ons die kerk se 26ste herdenking van die geskiedkundige dag op 5 April 1996 gevier toe Dr Isak Burger en Past. Frank Chikane aangespoor deur die Heilige Gees, in die teenwoordigheid van baie getuies en op regstreekse televisie hulle plekke op die verhoog ingeneem het. ‘n Historiese versoening tussen ons rasverdeelde kerk is aanskou. Op 3 April 1996 het die AGS van SA strukturele eenheid bereik toe die gesamentlike Werkersraad oorweldigend ‘n nuwe grondwet aanvaar en Nasionale Ampsdraers vir die verenigde AGS verkies het. Ons is nog nie wat ons behoort te wees nie, maar ons is nie meer wat ons was nie – aan God kom die eer toe.

Gedurende Januarie 2022 het die nuutverkose Nasionale Ampsdraers die strategiese posisionering en impak van die AGS in Suid-Afrika oorweeg, terwyl ons poog om ons hele kerk te inspireer en te mobiliseer rondom die volgende: “The whole church taking the whole gospel to the whole world!” – en in besonder met verwysing na ons eie land. Ons glo vas dat die Gees van God aan gelowiges gegee word om dinamiese en oorwinnende lewens te lei en dat gelowiges die karakter, liefde en krag van hul Here, Jesus Christus, in hul daaglikse lewens kan demonstreer.

In Maart 2022, na gebed en oordenking, het die Nasionale Leierskapsforum (NLF) die Strategiese Missionale Fokusareas goedgekeur wat deur die Nasionale Ampsdraers ontwikkel is om op die uitdagings van ons tyd te reageer. Die Strategiese Planne is tydens die Julie 2022 NLF-vergadering goedgekeur. Ons begeerte is om ons gemeenskappe te voed met die teenwoordigheid van God en die beginsels van Sy Koninkryk – om die sout en die lig van die wêreld te wees.

Die Nasionale Ampsdraers bid dat jy hoop en groot vreugde sal ervaar terwyl ons die verjaarsdag van Jesus Christus ons Verlosser vier.

Lukas 2:9-14 (AFR83):

Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

KERSFEES GROETE

Elke jaar lyk dit vir my asof die kleinhandelswêreld, veral in die winkelsentrums in die groter dorpe en stede, sowel as op elektroniese media, al hoe vroeër en vroeër Kersversierings en promosies tentoonstel. Dit lyk asof daar geen einde is aan die kommersialisering van een van die belangrikste gebeurtenisse in die Christelike lewe en kalender nie. Ons betree weer hierdie sogenaamde “silly season” waar baie mense geskenke vir hul kinders en geliefdes koop, wat hulle eintlik nie kan bekostig nie en dikwels nie regtig nodig het nie. Ek moedig jou aan om nie in die strik te trap van die kommersialisering van die geboorte van Jesus en die gedagte dat geskenke verpligtend is en groot en duur moet wees nie.

Kersfees gaan oor die geboorte van Jesus Christus, ons Here en Verlosser, en moet as sodanig gevier word.”

Kersfees gaan oor die geboorte van Jesus Christus, ons Here en Verlosser, en moet as sodanig gevier word. Daar is ‘n mate  van kontroversie oor die oorsprong en datum van Kersfeesvieringe. Dit is egter een van die kulturele gebeurtenisse wat Christene geheilig het en gebruik om die geboorte van Jesus te vier en om ons geloof te bevestig. Indien geskenke betrokke is, moet dit dien as ‘n herinnering aan die grootste geskenk van almal: Verlossing deur die geboorte, lewe en dood van Jesus.

Ek wens al ons lidmate, Gemeenteleiers, Pastore, streeks- en departementele leierskap en komitees sowel as alle NLF-lede ‘n geseënde en vreedsame viering van die geboorte van Jesus Christus toe.  Mag jy aangename tye van samesyn met familie en geliefdes beleef, en mag 2023 ‘n jaar van nuwe groei en vrug vir ons almal wees.

“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy en vrede sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie.” Jesaja 9:5-6 (NLV)

Seëninge!
Henri Weideman

Spread the word...