
Pastorale Brief: 2de Kwartaal 2025
June 26, 2025
Pastorale Brief: 4de Kwartaal 2025
December 5, 2025
Pastorale Brief: 2de Kwartaal 2025
June 26, 2025
Pastorale Brief: 4de Kwartaal 2025
December 5, 2025
AGS Familie,

AGS Familie,
Die AGS se missionale roepingbeklemtoon eenheid en samewerking onder Christen-gelowiges, met die erkenning dat ons deel is van God se groter Kerk en nie afsonderlike entiteite is nie. Gegrond op Jesus se gebed vir eenheid in Johannes 17:20-21 en Paulus se vermaning in Efesiërs 4:3-6, daag hierdie roeping ons uit om verder as eksklusiwiteit te beweeg en ’n Koninkryksgerigte perspektief te omhels. Deur ander kerke te eer en saam met hulle te werk, streef ons daarna om die krag van Christelike eenheid te demonstreer, en aan die wêreld te wys dat Jesus werklik deur God gestuur is. Hierdie eenheid gaan nie oor eenvormigheid of kompetisie nie, maar oor wedersydse respek, ’n gedeelde doel, en die gesamentlike bevordering van die Evangelie.
Die AGS glo dat die groei van God se Koninkryk sterk verhoudings met ander lewegewende kerke en aktiewe deelname aan ekumeniese pogings vereis.
Of dit nou is deur saam belangrike Christelike geleenthede te vier, hande te vat in gemeenskapsuitreike, of saam te werk op nasionale en internasionale platforms – die doel bly duidelik: om die getuienis van die Kerk te versterk en ’n groter impak te maak.
In hierdie uitgawe van die Pastorale Brief het ons vir Dr. Henri Weideman (President van die AGS van SA) gevra om verslag te doen en sy insigte en refleksies te deel oor die onlangse ekumeniese uitreike van die AGS op internasionale platforms. Ons vertrou dat dit jou persoonlike bediening sal inspireer en verryk terwyl ons saam voortgaan om die Evangelie te deel en siele vir die Koninkryk te wen.
'N WÊRELDWYE PINKSTERBEWEGING


"...uitgedaag om strategies te dink oor die vermenigvuldiging van kerke regoor die wêreld."

- Bediening in die krag van die Heilige Gees.
- Bereiking van die volgende generasie ("Gaan en maak" in die volgende generasie).
- Gemeenskap transformasie.
- Die Evangelie en die werksomgewing.
- Innovasie in kinderbediening.
- Kerkherlewing en kerkplanting.
- Mentorskap vir die volgende generasie.
- Kreatiewe kommunikasie in die bediening.
- Die bou van Christelike eenheid.

“Ons kerkfamilie is goed geposisioneer om betekenisvol by te dra tot die voortgaande wêreldwye Pinkstergesprek.”
LEER BY M4 EUROPA: KERKPLANTING IN NOORWEË
Van 11 tot 13 Junie 2025 het die Nasionale Ampsdraers van die AGS van SA, en ook Pastoor Nico Nel, die M4 Europe Kerkplantingskonferensie in Kristiansand, Noorweë bygewoon. Aangesien ons reeds geskeduleer was om in die nabygeleë Finland te wees vir die Pentecostal World Fellowship konferensie, was dit 'n wonderlike geleentheid om ook by leiers en praktisyns in Europa te leer oor kerkplanting en -hernuwing.
Die visie van M4 is beide ambisieus en inspirerend: Om kerkplantingsbewegings aan te wakker wat uiteindelik sal lei tot die planting van ‘n nuwe kerk in Europa elke dag. Wat M4 uniek maak, is hul fokus op spanne eerder as individue. Kerkplanting word nie gesien as 'n taak vir 'n enkele individu nie, maar as 'n roeping om in ‘n span of gemeenskap uitgeleef te word. Die model beklemtoon: nie "ek" nie, maar "ons". Die kern van M4 is die Groot Opdrag uit Matteus 28:18-20. Die beweging is gebou rondom vier kernbeginsels: Bemeestering, Missie, Vermenigvuldiging en Beweging. (Mastery, Mission, Multiplication & Movement). Hierdie beginsels bied 'n raamwerk vir hoe hulle nuwe kerkplantingspanne oplei, toerus en vrystel. Die opleidingsreis begin met assessering. Potensiële kerkplanters word biddend en noukeurig geëvalueer op vier belangrike gebiede: roeping, karakter, onderlinge samewerkingsvermoë en bekwaamheid. (Calling, character, chemistry & competency). Dit help om te verseker dat spanne geestelik voorbereid, verhoudingssterk en prakties toegerus is vir die taak wat voorlê. Na assessering ontvang planters deurlopende afrigting (coaching). Afrigters stap langs hulle, begelei hulle in leierskap en ondersteun die plantingprojek, sodat dit so effektief en vrugbaar moontlik kan wees.
Nog 'n belangrike kenmerk van die M4 proses, is die gebruik van leergemeenskappe. Dit is samewerkende groepe waar leiers en spanne bymekaarkom om te worstel met die mees kritieke kwessies en uitdagings van kerkplanting. In plaas daarvan dat opleiding in isolasie plaasvind, word dit gedoen in 'n gees van gedeelde leer en aanspreeklikheid. Die opledingsprogram word grotendeels aanlyn gelewer, wat dit vir die meeste leiers toeganklik en volhoubaar maak.

Ons tyd by die konferensie was baie bemoedigend. Ons het kragtige lofprysing en aanbidding ervaar en is geïnspireer deur die passie van Øivind Augland, die stigter en leier van die M4-beweging. Sprekers soos Mark Sayers (Australië), Matt Markins (VSA) en Anne Lene Otterøen (Noorweë) het waardevolle insigte gebring oor die geleenthede en struikelblokke wat kerkplanting vandag in die gesig staar.
Een van die treffendste oomblikke het gekom toe 'n jong kerkplanter uit die Oekraïne sy storie gedeel het. Ten spyte van die oorlog en die vernietiging in sy land, plant hy en sy span moedig nuwe kerke. Sy getuienis het ons herinner aan die veerkragtigheid van die Evangelie en die onstuitbare krag van God se sending, selfs in die moeilikste omstandighede.
Ons het teruggekeer huis toe met vars idees en 'n hernieude verbintenis om die AGS se eie kerkplantings en -hernuwingspogings versterk en volhoubaar te sien. Die uitdaging wat voor ons lê, is om dit wat ons geleer het, te kontekstualiseer sodat dit tot die Suid-Afrikaanse realiteite spreek. Ons begeerte is dat die AGS sal voortgaan om kerke te plant en te laat groei wat hoop, genesing en transformasie in ons gemeenskappe bring. Die M4-konferensie het ons weer herinner: God se sending is groter as enige persoon of nasie.
Wanneer ons in eenheid saamwerk, word die kerk van Jesus Christus werklik 'n missionale beweging van impak.
AGS DEELNAME AAN DIE WÊRELDRAAD VAN KERKE SE SENTRALE KOMITEE
Die Sentrale Komitee van die Wêreldraad van Kerke (WRK) vergader elke twee jaar, en vanjaar se byeenkoms het van 18–24 Junie 2025 by die Birchwood-konferensiesentrum in Johannesburg, Suid-Afrika, plaasgevind. Die WRK is 'n wêreldwye gemeenskap van 356 Christelike kerke, wat meer as 'n half miljard gelowiges regoor die wêreld verteenwoordig. Alhoewel sommige mense verkeerdelik glo dat dit deur die pous gelei word, is die Rooms-Katolieke Kerk nie 'n lid van die WRK nie.
Die huidige hoofsekretaris van die WRK is Prof. Jerry Pillay, 'n Suid-Afrikaanse teoloog en predikant in die Verenigde Presbiteriaanse Kerk van Suider-Afrika. Die moderator (voorsitter) van die Sentrale Komitee is Dr. Heinrich Bedford-Strohm van die Evangelies-Lutherse Kerk in Beiere, Duitsland. Een van die belangrikste verantwoordelikhede van die Sentrale Komitee is om 20 leiers uit sy geledere te kies om die Uitvoerende Komitee te vorm, wat leierskap aan die WRK gee.

As deel van die program het byeenkomsgangers op die Sondag van die vergadering saam met plaaslike gemeentes in en om Johannesburg aanbid. Die AGS Woord en Lewe gemeente in Boksburg het gaste van regoor die wêreld ontvang tydens hul multikulturele (Engelse) diens.
Dr. Henri Weideman, wat in 2022 tydens die vergadering in Karlsruhe, Duitsland, tot die Sentrale Komitee verkies is, dien op die Beleidsverwysingskomitee (Policy Reference Committee), wat bestuurs- en lidmaatskapsake hanteer. Hierdie komitee het na die nodige prosesse gevolg is, vier nuwe kerke vir WRK-lidmaatskap aanbeveel - drie uit Afrika en een uit Duitsland, insluitend 'n Pinksterkerk. Behalwe bestuur, bly die WRK diep daartoe verbind om wêreldwyd vir vrede en geregtigheid te werk. Huidige areas van betrokkenheid sluit in konflik sones soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, Soedan, Oekraïne, Colombia, Papoea-Nieu-Guinee en Israel-Palestina.
Een van die betekenisvolste dele van die Sentrale Komitee-byeenkomste is die ryk ervaring van aanbidding. Deelnemers deel in die gebede en liturgieë van verskillende Christelike tradisies en geniet kameraadskap tydens informele gesprekke oor tee en etes. Hierdie tye bied geleenthede om van mekaar te leer, verhoudings te bou en bande oor kulture en verskillende Christelike tradisies heen te versterk. Die AGS het ook 'n sigbare rol gedurende die week gespeel. 'n Aanbidding span van die Ophir-streek het tydens die openings diens gelei, terwyl een van die aand oordenkings deur die AGS gelei is en Pinkster uitdrukkings van aanbidding beklemtoon het. Dr. Weideman het verder bygedra deur die AGS van SA se eenheidsreis tydens 'n oggendrefleksiepaneel te deel.
Vanjaar se Sentrale Komitee vergadering was 'n spesiale oomblik, nie net vir die wêreldwye kerk nie, maar ook vir die AGS familie, wat ons weer herinner het aan ons stem en plek in God se breër werk regoor die wêreld.
SLOT



Sien jou daar!
"Preach the Gospel, Live the Gospel – Sustain the Fire!" Maak gereed om aangevuur, bemagtig en uitgestuur te word! Ons is verheug om jou uit te nooi na ons Nasionale Konferensie 2025, 'n kragtige byeenkoms van gelowiges, leiers en passievolle boodskappers van Christus, verenig onder een goddelike roeping - om die Evangelie te verkondig, die Evangelie te leef en die vuur in stand te hou!
Vanjaar se tema daag ons uit om terug te keer na die suiwerheid van die boodskap, die integriteit van die boodskapper en die relevansie van die metode. Soos Paulus Timoteus beveel het: "Verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig..." (2 Tim. 4:2). Ons word daaraan herinner dat die roeping dringend is, die boodskap ononderhandelbaar is en dat die oes volop is.
Dit is meer as 'n konferensie: Dit is 'n Goddelike afspraak. Of jy nou 'n pastoor, aanbidder of koninkryksbouer is, kom gereed om versterk, herbelyn en aangevuur te word! Verwag geesgevulde aanbidding, lewensveranderende lering en ‘n volgehoue passie vir die Evangelie. Registreer vandag en bring iemand saam. Kom gereed om getransformeer, toegerus en aan die brand gesteek te word vir Sy heerlikheid!
Vriendelike Groete!
Henri Weideman




