Pastorale Brief 3de Kwartaal 2020

Laai die PDF-weergawe hier af (om maklik te e-pos en te druk):

AGS Pastorale Brief 3de Kwartaal 2020

INLEIDING

AGS Kollega,

Alles dui daarop dat ons verby die eerste piek van Covid-19 is. Ek moet beklemtoon dat die moontlikheid van nog ‘n infeksiegolf werklik is. Ek doen ‘n beroep op jou om waaksaam te wees en aan alle Covid-19 veiligheidsmaatreëls te voldoen. Sommige van die kwessies in hierdie brief is gebed en selfversorging.

DIE KRAG VAN GEBED
Past. M.G. Mahlobo (President van die AGS van SA) – mmahlobo@afm-ags.org

Tereg kan ‘n mens die vraag stel: “Waarom is dit nodig om oor die krag van gebed te praat in ‘n kommunikasie aan Pastore?” Dit is belangrik om daarop te let dat ons deel is van ‘n samelewing wat meer vertrou op wat menslik moontlik is. Dit is ‘n generasie wat skepties is oor Goddelike ingryping en eerder op die wetenskap en ander hulpbronne wil staatmaak om die lewe se uitdagings aan te pak. Om hierdie rede moet ons van tyd tot tyd besin oor die belangrike aspekte, sowel as die doeltreffendheid van gebed.

Belangrike Aspekte van Gebed

In Matteus 6: 9-13 is daar ses belangrike eienskappe van gebed. Dit is: (1) verhouding met God (Ons Vader in die hemel), (2) erkenning van God se natuur (Laat u Naam geheilig word), (3) besef en aanvaarding dat ons werklikheid nie in lyn is met die wil van God nie (Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel), (4) ontvanklike houding teenoor God se voorsienig (Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het), (5) beleiding van sonde en berou (En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het), en (6) redding van die kwaad (Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die bose).

Doeltreffendheid van Gebed

Die Bybel gee baie voorbeelde van die krag van gebed. Ek wil drie hiervan uitlig.

1. Hanna: 1 Samuel 1: 1-28

In 1 Samuel 1:10-11 lees ons oor Hanna se gebed: 10Hanna was baie ontsteld en terwyl sy onbedaarlik huil, het sy tot die Here gebid. Sy het 11’n gelofte gemaak: “O Here, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee, sal ek hom vir U teruggee. Lewenslank sal hy aan U behoort. As teken daarvan sal sy hare nooit gesny word nie.” Hanna rig haar gebed tot die HERE, die Almagtige. Sy verklaar haar verhouding met YHWH met wie hulle ‘n verbond het. Sy erken ook die almag van God. Sy noem God “O Here, Almagtige” (of van die leërskare). Dit was die eerste keer dat hierdie titel, “HERE van die leërskare”, deur ‘n individu in gesprek met God gebruik is. Hannah voel aangeval deur haar mededinger, en daarom roep sy op “O Here, Almagtige” om haar beskermer te wees. Haar gebed is beantwoord in 1 Samuel 1:20.

“Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.”

2. Josafat: 2 Kronieke 20: 1-30

Toe Josafat, die 4de koning van Juda, voor ‘n dreigende aanval deur ‘n koalisie van magtige vyande te staan gekom het, het hy ‘n nasionale gebed byeengeroep. In 2 Kronieke 20: 5-12 verklaar hy die verhouding wat sy voorouers met God gehad het. Hy erken God se heerskappy oor die nasies en God se almagtige mag oor rampe. Hy verklaar ook hul hulpeloosheid en afhanklikheid van God se ingryping. In vers 12 sê hy: “Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.” Die krag van gebed word bewys deur die manier waarop God ingegryp het. Die aanvallers is oorwin sonder dat iemand uit Juda ‘n vinger of ‘n wapen oplig. God se ingryping is ‘n aanduiding dat ons Sy ingryping kan vra in tye van bedreiging en krisisse.

3. Vroeë Kerke se Gebed vir Petrus: Handelinge 12: 1-19

In Handelinge 12 het die Romeinse Keiser, Koning Herodes Agrippa 1, die wat aan die Kerk behoort, begin vervolg. Die slagoffers van hierdie vervolging sluit Jakobus in wat vermoor is en Simon Petrus wat in die tronk gegooi is. Petrus was onder swaar bewaking in die tronk. Daar was geen vooruitsigte dat hy sou ontsnap nie. In Handelinge 12: 5 lees ons dat die kerk byeen gekom het en ernstig vir hom gebid het. Hierdie gesamentlike gebed het daartoe gelei dat die engel Petrus op ‘n wonderbaarlike wyse vrygelaat het en hom deur al die veiligheidshekke gelei het tot sy vryheid. Dit was duidelik dat dit moontlik gemaak is deur God se ingryping. ‘n Effektiewe gebed kan kettings oopsluit en tronkdeure oopmaak.

Gebed is ons “oorlogskamer” in tye van nood en krisisse.”

Ons voorgangers was mans en vroue van gebed. Die groei van ons kerk in hierdie land en in die buiteland, kan toegeskryf word aan hul gebedslewe, toewyding, opoffering en strewe na heiligheid. As alles anders verkeerd loop, kan ons verseker wees dat die gebed van ‘n regverdige kragtig en effektief is (Jakobus 5:16). Gebed is ons “oorlogskamer” in tye van nood en krisisse. Ek wil graag sien dat alle plaaslike AGS gemeentes “Prayer War Rooms” (PWR) het. Elke PWR moet ‘n toegewyde span Gebedskrygers hê en fokus op spesifieke kwessies binne die kerk en in hul gemeenskappe. Die huidige uitdagings in ons samelewing, plaaslik en wêreldwyd, vereis dat ons ernstig na God se ingryping soek.

DIE 2020 ALGEMENE BESIGHEIDSVERGADERING (GBM) & DIE NASIONALE AGS-KONFERENSIE: DIE PAD VORENTOE

Past. M.G. Mahlobo (President van die AGS van SA) – mmahlobo@afm-ags.org

Die 2020 Jaarlikse AGS van SA se Nasionale Konferensie en die Algemene Besigheidsvergadering (GBM), wat oorspronklik vir 6-9 September 2020 beplan was, moes weens die nasionale inperkingsregulasies uitgestel word. Hierdie regulasies beperk kerkbyeenkomste tot 50 mense. Tydens ‘n virtuele vergadering in Julie vanjaar het die Nasionale Leierskapforum (NLF) besluit dat drie voorlopige datums as moontlike alternatiewe sal dien. Die bepalende faktor is die aantal mense wat vir kerkbyeenkomste toegelaat word. Die vasgestelde datums is 8-12 November 2020 of 14-18 Februarie 2021 of 14-18 Maart 2021. Woord en Lewe in Boksburg bly steeds die plek waar dit sal plaasvind. My versoek is dat jy hierdie voorlopige datums dagboek.

Die Kerk se Nasionale Ampsdraers (NOB), naamlik die President, die Adjunkpresident, die Algemene Sekretaris en die Algemene Tesourier sal by die volgende Algemene Besigheidsvergadering (GBM) verkies word. Ons GBM van 2018 het wysigings aan die grondwet van die kerk goedgekeur, wat die Beheerliggame van Gemeentes asook Streekskomitees toelaat om deel te neem aan die proses van die NOB-verkiesing. Hierdie wysigings word weerspieël in Hoofstuk 4 en Hoofstuk 4a van die nuutste AGS-konstitusie. Dit word ook weerspieël in Regulasie 1.32.7 van die nuutste Reëls van Orde (Aanhangsel 1 tot die AGS-konstitusie).

Die eerste fase van die proses is voltooi. Ek wil my waardering uitspreek teenoor alle Beheerliggame van Gemeentes en Streekskomitees wat hul nominasies ingestuur het. Hierdie genomineerdes is gekeur deur die Ondersoek Komitee wat deur die NLF aangestel is. Die suksesvolle gekeurdes het hul benoemings aanvaar. Hul name en CV’s is deur die kantoor van die Algemene Sekretaris gesirkuleer. Besoek die volgende skakel op die AGS-webblad om die CV’s van die genomineerdes af te laai:

https://afm-ags.org/newsflash-friday-21-august-2020-resources/

Dit is die groep waaruit die GBM die nuwe NOB-lede sal verkies. Die verkiesingsproses maak egter voorsiening vir die benoeming van kandidate wat nie in die groep is nie.

Die kantoor van die Algemene Sekretaris sal met jou in verbinding tree deur jou Streeksekretaris of Administrateur om te verseker dat jou gemeente inligting akkuraat in die databasis van die AGS Nasional Kantoor vasgelê word. Jou samewerking sal waardeer word.

SELFSORG VIR PASTORE
Dr. H.J. Weideman (Algemene Sekretaris van die AGS van SA) – henri@afm-ags.org  

Om mense te lei, toe te rus, te bedien en te versorg is deel van die Bybelse roeping van Pastore. Om ander effektief en volhoubaar te versorg, noodsaak egter dat Pastore ook hulleself moet versorg.  Selfsorg is die fisiese, emosionele en geestelike ekwiwalent van die instandhouding van ‘n voertuig.  Die olie, battery, ens. moet gereeld nagegaan word, om die effektiwiteit en lang lewe van die motor te verseker.

“Selfsorg is die fisiese, emosionele en geestelike ekwiwalent van die instandhouding van ‘n voertuig.”

Gedurende die pandemie, al kan hulle nie altyd self teenwoordig wees nie, probeer meeste Pastore om hulle gemeentelede fisies, verstandelik, emosioneel en geestelik te bedien – alhoewel ‘n beduidende getal Pastore self aandui dat hulle uitgeput, gespanne en geïsoleerd voel. Pastore erken dikwels nie die spanning en moegheid wat die bediening tot gevolg het nie. Hulle is geneig om selfsorg weg te vergeestelik. Baie mense, en selfs Pastore, sien selfsorg aktiwiteite soms as ‘n gebrek aan vertroue in God. Dit kan lei tot uitermatige self-druk en werkholisme, wat gesondheidsprobleme en selfs ‘n vroeë dood tot gevolg kan hê.

Jesus se voorbeeld:

Jesus het gereeld rustye geneem, Homself Geestelik verfris en Sy dissipels aangemoedig om dieselfde te doen. (Matt. 14:13 & 23; Mark. 6:31-32 & 46; Luk. 5:16; Luk. 6:12-13).

Vier Selfsorg Areas

Geestelik: (Hart).  Dit sluit gebed, Bybelstudie, oordenking, aanbidding en Woord-meditasie in. Nie vir “werk” doeleindes nie, maar vir die persoonlike Geestelike lewe van die Pastoor. Ons moet nooit ons eie Geestelike reis met God verwar met die van die Gemeente waarin ons werk nie.

Verstandelik: (Intellek).  Verstandelike selfsorg sluit aspekte in soos lees, die oordenking en   bespreking van kwessies met ander, sowel as die verwerking van jou belewenisse en gedagtes. Neem doelbewuste breke van nuusopdaterings en sosiale media. Lees die Bybel of ‘n ander boek om jou eie siel te voed en bedink hoe jy wat jy gelees het in jou lewe kan toepas. Doen wat ookal nodig is om persoonlike waardes en beginsels te handhaaf.

“Wakker hoop en geloof by ander en ook by jouself aan.”

Tans is daar baie onsekerhede: Wakker hoop en geloof by ander en ook by jouself aan. Heb. 11:1 (NLV) “Geloof … is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien inderdaad sal gebeur.” 

Emosioneel: (Siel). Identifiseer jou emosies, besluit wat dit beteken en wat jy daaraan moet doen. Soek vir geleenthede om te lag. Humor maak regtig ‘n verskil. Spreuke 17:22 sê, “’n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.” Al het party vergaderings na aanlynplatforms geskuif, is dit belangrik om persoonlike grense te handhaaf. Besluit wanneer jy aan- en wanneer jy afdiens is. Dit is veral belangrik om te onderskei tussen bediening- en familietyd. Familietyd moet ten minste net so belangrik geag word as kerkverwante afsprake. Dit gebeur te dikwels dat familietye gekanseleer word, omdat iemand op die Pastoor se aandag aanspraak maak met iets wat soms werklik nie dringend is nie.

“Dit is dalk nie tans makllik om saam met ‘n vriend midagete te geniet nie, maar ‘n mens kan steeds elektronies of per telefoon in kontak bly.”

‘n Belangrike deel van selfsorg is om die verwagtinge wat die gemeente van die Pastoor het, uit te klaar. Indien dit nie effektief aangespreek word nie veroorsaak dit spanning vir die Pastoor, sy/haar familie en die gemeente. Dit is dalk nie tans makllik om saam met ‘n vriend midagete te geniet nie, maar ‘n mens kan steeds elektronies of per telefoon in kontak bly. Pastore moet daarteen waak om geïsoleerd te raak. Dit is verstandelik en emosioneel belangrik om ‘n roetine t.o.v. stiltetyd, aantrek, bedopmaak, ens. te handhaaf. Dit skep ‘n mate van konsekwentheid in ‘n andersinds onvoorspelbare werkomgewing.

Fisies (Liggaam). Wanneer daar oor selfsorg gepraat word, dink mense meestal hieraan. Dit behels ‘n gesonde dieet, gereelde oefening, genoegsame rus en slaap en ‘n doelbewuste poging om spanning te verminder. ‘n Belangrike sleutel hier is volharding. Die meeste Pastore is nie ernstige atlete nie, maar behoort te oefen vir langtermyn gesondheid. In Bybelse tye was oefening deel van die alledaagse lewe. Mense het ver geloop. Hulle was landbouers en herders. Sommige Pastore het ‘n afkeur in ‘n afdag, en voel skuldig wanneer hulle enige iets anders as kerkwerk doen. ‘n Rusdag gee jou liggaam, siel, verstand en gees kans om te herlaai en met mekaar op te vang.

Slaap is noodsaaklik vir optimale funksionering en selfsorg. Alhoewel die hoeveelheid slaap wat ons benodig volgens ons lewensseisoene verander, is dit gewoonlik tussen 6-8 ure. Pastore is in ‘n “hulpverlenings professie” maar is dikwels die laaste persone om self hulp te vra. Pastore en hulle families is egter net soos enige ander familie, geregtig daarop om menslik te wees en in berading en ander beskikbare bronne hulp te kry. ‘n Pastoor wat sukkel met selfsorg, moet aangemoedig word om met ‘n berader of ‘n ander professionele persoon te praat wat bystand t.o.v. hierdie belangrike aspek van bediening kan verleen.

Gedurende en na die Covid-19 pandemie het ons Pastore nodig wat ander volhoubaar kan bedien.  Indien Pastore egter daarin faal om hulleself te versorg, sal hulle moeilik suksesvol wees in die opbouing van ander. Dit is my gebed dat al ons Pastore deurlopend op hulle bedieningsreis goeie selfsorg sal toepas.

Met erkenning aan:   

Pastoral Self-Care in a Pandemic: Doug Clay, March 2020; Pastoral Self-Care in Isolating Times: Ivan L. Williams, Apr. 2020; Self-care for the weary pastor: Focus on the Family, 2018; Self-care list for Pastors: Pastoral Care Incorporated, 2020; The Pastor’s self-care in four easy steps: Marty Duren, Feb. 2018.

GEMEENSKAPSBETROKKENHEID: BEGRIP VAN KINDERMISHANDELING
Ashley Theron (Waarnemende Hoof van AGS Welsyn) – ashleyt@afmwelfare.org.za

Ek vertrou dat die inligting en kennis wat in hierdie artikel gedeel word, jou rol sal versterk in die voorkoming en identifisering van kindermishandeling in ons plaaslike gemeenskappe. Ek hoop om jou te help om die regte stappe te neem indien beweerde kindermishandeling aan jou as Pastoor gerapporteer word.

Kindermishandeling is wanneer ‘n ouer of oppasser deur optrede of versuim om op te tree, besering, dood, emosionele skade of die risiko van ernstige skade aan ‘n kind veroorsaak. Jonger kinders word die meeste mishandel, en meer meisies word verwaarloos as seuns. Die mees algemene vorme van kindermishandeling is: verwaarlosing, fisiese mishandeling, seksuele misbruik en emosionele mishandeling.

Verwaarlosing: Kinderverwaarlosing is die voortdurende versuim om aan die basiese behoeftes van die kind te voldoen en die mees algemene vorm van kindermishandeling. Kinderverwaarlosing sluit verlating (“abandonment”) van kinders in, gebrek aan toepaslike toesig, versuim om aan die nodige emosionele of sielkundige behoeftes te voldoen en die versuim om nodige onderrig, mediese sorg, voeding, skuiling en/of klere te bied. Die volgende is ‘n lys van tekens en simptome waarmee kinderverwaarlosing geïdentifiseer kan word:

  • Leerprobleme (of konsentrasieprobleme) wat nie toegeskryf kan word aan spesifieke fisiese of sielkundige oorsake nie of woon nie skool by nie.
  • Is altyd waaksaam, asof iets sleg enige oomblik kan gebeur.
  • Tekort aan volwasse toesig.
  • Is te bereidwillig, passief of teruggetrokke.
  • Is vroeg by die skool en vroeg vir ander aktiwiteite, bly laat of wil nie huis toe gaan nie.

Fisiese mishandeling: Fisiese mishandeling van ‘n kind is wanneer ‘n ouer of oppasser opsetlik liggaamlike besering aan ‘n kind veroorsaak. Fisiese mishandeling sluit in slaan, skop, brand, byt, hare trek, wurg, gooi, stoot of enige ander aksie wat die kind beseer. Tekens van fisieke mishandeling by ‘n kind is:

  • Kneusings, blase, brandwonde, snye en skrape.
  • Inwendige beserings, breinskade, gebreekte bene en verstuite gewrigte.
  • Sigbare en ernstige beserings wat tot lewenslange besering of selfs die dood kan lei.
  • Overklaarbaar of verduidelik op ‘n manier wat nie sin maak nie.
  • Die frekwensie, tydsberekening en geskiedenis van beserings (gereeld na naweke, vakansies, skoolafwesighede).

Emosionele mishandeling: Enige soort mishandeling wat voortdurend emosioneel plaasvind. Dit word soms sielkundige mishandeling genoem. Emosionele mishandeling kan behels dat ‘n kind doelbewus bang gemaak, verneder, afgesonder of geignoreer word. Vorme van emosionele mishandeling sluit in: (i) om ‘n kind te verneder of voortdurend te kritiseer, (ii) om op ‘n kind te skree of te dreig of om hulle name te noem, (iii) om die kind die onderwerp van grappies te maak of sarkasme te gebruik om ‘n kind te verneder, (iv ) die beskuldiging, bangmaak, vals aantuiging en manipulasie van ‘n kind en (v) ‘n afwesige ouer, wat die kind aanhoudend ignoreer en isoleer. Daar is moontlik geen fisieke tekens van emosionele mishandeling of verwaarlosing nie. Dit kan moeilik wees om te weet of ‘n kind emosioneel mishandel word. Maar kinders wat emosioneel mishandel word, kan:

  • ‘n Gebrek toon aan selfvertroue of is nie selfversekerd nie.
  • Sukkel om hul emosies te beheer.
  • Sukkel om verhoudings aan te knoop of te onderhou.
  • Handel op ‘n manier wat onvanpas is vir hul ouderdom.

Seksuele misbruik: Wanneer ‘n kind of jong persoon seksueel gemolesteer word, word hulle gedwing of mislei tot seksuele aktiwiteite. Hulle verstaan ​​miskien nie dat misbruik gebeur nie. Dit is belangrik vir kinders om te weet dat dit nooit hul skuld is dat hulle seksueel misbruik is nie. Tekens en simptome van seksuele misbruik sluit in:

  • Veranderings in gedrag – ‘n kind mag aggressief, teruggetrokke of afhanklik voorkom, sukkel om te slaap, gereelde nagmerries kry of die bed begin natmaak.
  • Vermy die misbruiker – die kind kan ‘n spesifieke persoon vrees of vermy en probeer nie alleen tyd saam met hulle te spandeer nie.
  • Seksueel onvanpaste gedrag – kinders wat mishandel word, kan op seksueel onvanpaste maniere optree of seksueel eksplisiete taal gebruik.
  • Fisiese probleme – die kind kan gesondheidsprobleme ontwikkel, insluitend pyn in die geslags- en anale areas, of seksueel oordraagbare infeksies, of hulle kan swanger word.
  • Probleme op skool – ‘n mishandelde kind kan sukkel om te konsentreer en te leer en hul punte kan begin daal.

Wat kan Pastore doen as ‘n Kind Mishandel word?

‘n Kind wat verwaarloos of mishandel word, besef dalk nie wat verkeerd is nie – en kan selfs hulself blameer. As ‘n kind met jou praat oor verwaarlosing of mishandeling, is dit belangrik om aandagtig te luister en die volgende te noteer:

  • Kind se naam, adres en telefoonnommer.
  • Naam van ouer of voog en telefoonnommers.
  • Redes tot kommer, enige dokumentasie van aanwysers en relevante verklarings deur die kind.
  • Bevestiging vir die kind – sê dat dit nie hul skuld is nie, laat hulle weet dat hulle die regte ding gedoen het deur jou te vertel en verduidelik wat volgende gaan gebeur.
  • Moenie die vermeende mishandelaar konfronteer nie, maar rapporteer so spoedig moontlik wat die kind vir jou gesê het.
  • Rapporteer die mishandeling aan: Childline SA (Tolvrye nr. 080 005 5555) OF kontak die naaste kantoor van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling OF die naaste Kinderbeskermingsorganisasie (byvoorbeeld Child Welfare). In uiterste gevalle, veral na-ure, kontak dir naaste Polisiekantoor (SAPD).

Hierdie artikel is ‘n goeie vertrekpunt vir elke Pastoor wat meer wil weet oor kindermishandeling. Ons het ‘n meer uitgebreide artikel voorberei waar gedetailleerde inligting gedeel word. Die volledige artikel is beskikbaar op die AGS-webblad by die volgende skakel:  https://afm-ags.org/category/articles/. Jy is ook welkom om vrae of terugvoering oor die kwessie van kindermishandeling vir my te stuur: ashleyt@afmwelfare.org.za.

SLOT

Soos altyd wil ek jou terugvoer ontvang oor die inhoud van hierdie Pastorale Brief. Ek sal dit ook waardeer om te hoor hoe die koronavirus-pandemie jou, jou gesin en jou gemeente beïnvloed. Ek hou aan om vir jou te bid. Jou rol in die AGS en in God se Koninkryk word baie waardeer.

Seëninge!

Past. M.G. Mahlobo

Spread the word...