
Pastorale Brief: 1ste Kwartaal 2025
March 20, 2025
Pastorale Brief: 3de Kwartaal 2025
September 4, 2025
Pastorale Brief: 1ste Kwartaal 2025
March 20, 2025
Pastorale Brief: 3de Kwartaal 2025
September 4, 2025
AGS Familie,

AGS Familie,
Vroeër vanjaar het ons Nasionale Ampsdraers die voorreg gehad om die verskillende streke te besoek en om kosbare tyd en bediening te deel met ons pastore, gemeenteleiers, lede van gemeentelike beheerliggame, departementele leiers en lidmate. Ons tema vir 2025 - “Sustaining the Fire” - het tydens ons besoeke sterk aanklank gevind. Dit het ons opnuut herinner hoe belangrik dit is om passievol en toegewyd te wees t.o.v die teenwoordigheid en werk van die Heilige Gees in ons lewens. Net soos wat ’n vuur deurlopend gestook moet word om brandend te bly, net so moet die geestelike vuur in ons lewens voortdurend aangehelp word deur ons gebede, aanbidding, die Woord en ’n lewe van gehoorsaamheid soos wat Romeine 12:11 (NIRV) ons leer: “Never let the fire in your heart go out. Keep it alive. Serve the Lord.”
Ons is dankbaar vir elkeen wat hierdie besoeke bygewoon het en vir die gees van eenheid, die betrokkenheid en vir die begeerte om geestelik te groei soos wat ons in elke streek teëgekom het. Dankie vir julle deelname en voortgesette deelname aan die werk van die Here. In hierdie Pastorale Brief gee die Nasionale Ampsdraers ’n oorsig van die kernpunte van ons afgelope besoeke. Ons vertrou dat dit jou sal seën en bemagtig.
NEEM VERANTWOORDELIKHEID VIR JOU LIGGAAMLIKE GESONDHEID
Die bediening kan veeleisend wees - beide geestelik en fisies. As ons die Here op die langtermyn effektief wil dien, moet ons omsien na ons liggame. God hou ons ook as rentmeesters verantwoordelik vir die versorging van ons eie liggame. Die Bybel herinner ons in 1 Korintiërs 6:19 dat ons liggame tempels is van die Heilige Gees.
Die eise van die bediening. Die bediening vereis soms lang ure, emosionele druk en ongereelde skedules. As ons ons fisiese gesondheid verwaarloos, stel ons onsself bloot aan uitbranding, siektes en moegheid wat ons dienswerk aan die Here kan affekteer. Stres het ’n effek op liggaam en siel, daarom is dit belangrik om ’n balans te vind in die bediening. Oorweeg die volgende praktiese wenke vir ’n gesonde leefstyl:
Oefen Gereeld: Streef na ten minste 20 minute se fisiese aktiwiteit 3 tot 4 keer per week. Voldoende fisiese aktiwiteit dra by tot groter effektiwiteit in die werk waartoe die Here ons geroep het. Eet Gesond: Vermy kitskos en ongesonde versnaperinge. Eet gesonde maaltye wat langdurige energie voorsien. Volgens 1 Korintiërs 10:31 moet ons God ook verheerlik deur ons eetgewoontes. Kry Voldoende Rus: Genoeg slaap en rus is belangrik. Psalm 127:2 herinner ons daaraan dat rus ’n gawe van God is en nie ’n teken van luiheid nie. Leef Gebalanseerd: Ons fisiese, geestelike en emosionele gesondheid is onlosmaaklik aan mekaar verbind.
In 3 Johannes 1:2 (NLV) het Johannes, die ouderling geskryf: “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan.” Om behoorlik na jou liggaam om te sien, is nie selfsugtig nie - dit help jou om God beter te dien. Kom ons vra die Here om ons te help en aan ons die wysheid en krag te gee om ’n gesonde en volhoubare leefstyl te bou en te behou.

HERLEEF, REIK UIT, PLANT: DIE AGS SE ROEPING OM DIE KONINKRYK UIT TE BREI
Die AGS het ontstaan in 1908 en is die oudste en grootste Pinksterkerk in Suid-Afrika. “Pinkster” impliseer ’n kerk wat glo dat die Gees van God aan die gelowiges gegee is om ’n dinamiese en oorwinnende lewe te lei. Dit beteken ook dat gelowiges in staat gestel word om die karakter, liefde en krag van die Here Jesus Christus in hulle daaglikse lewens te openbaar.
Die AGS word gekenmerk deur sy missionale fokus, gebaseer op Johannes 3:16 wat beklemtoon dat God sy liefde aan die wêreld bewys het deur sy Seun na die aarde te stuur. Ons roeping om “agente van God” te wees, bepaal ons kerk se doel en aktiwiteite. Dit maak ons ’n gemeenskap van gelowiges wat toegewy is om die Evangelie met ander te deel en die beginsels van God se koninkryk in ons daaglikse lewe te demonstreer. Die AGS word veral geken aan twee elemente: Die doop in die Heilige Gees en ’n erns met die Groot Opdrag. Hierdie twee eienskappe inspireer die kerk om sy lidmate te mobiliseer as “apostoliese agente” om uit te reik na hulle gemeenskappe met die boodskap van hoop en redding. Die drang om ons gemeenskappe te versadig met God se teenwoordigheid weerspieël ’n unieke benadering tot kerkgroei deur die opwekking van bestaande gemeentes en deur nuwe gemeentes te plant.

Daar is verskillende strategieë wat hierdie kerkgroei inisiatiewe onderskraag: Gebed en Onderskeiding: Geestelike groei noodsaak Goddelike leiding en toewyding aan gebed. Visioenêre Leierskap: Pastore word bemagtig met ’n dringende visie wat hulle gemeenskappe aangryp en ‘n kultuur van groei vestig. Leierskap-ondersteuning: Die leierskap moet toegerus en motiveer word om kerkgroei passievol na te streef. Heilige Dienswerk: Om te verstaan dat dit ’n voorreg is om God te dien met ’n transformerende boodskap. Uitreik met Medelye: Ons moet met die innige medelye van Christus uitreik na die nood van ander.
Die AGS beklemtoon die belangrikheid van egte, Christus-gesentreerde lewens. Lidmate se lewens is kragtige getuienisse wat ander na Christus toe aantrek. Ons dienste fokus op Christus en ons prediking beklemtoon die verlossende krag van die kruis en skep geleenthede vir mense om Jesus as Verlosser aan te neem. Ons visie is om uit te brei tot 2,805 gemeentes teen November 2034. Die AGS is daaraan toegewy om ’n erfenis van groei en uitreiking na te laat terwyl ons ’n gemeenskap sal wees waar elke persoon ’n geestelike tuiste sal vind en kan bydra tot die verspreiding van God se liefde.
EVANGELISASIE: BRANDENDE HARTE, VERANDERDE LEWENS
Kom ons dink weer aan Jesus se oproep in Matteus 28:19-20, ook bekend as die Groot Opdrag. Hier sê Jesus: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Dis nie maar net ’n voorstel nie, maar ’n Goddelike mandaat om deel te wees van ’n veranderende reis van geloof vir onsself en vir diegene rondom ons.
’n Uitnodiging om Lewens te Verander. Evangelisasie is in sy wese ’n uitnodiging tot ’n veranderde lewe. Dit is ons vreugdevolle respons op Jesus se opdrag om die hoop en liefde wat ons in Hom gevind het met ander te deel. Wat beteken evangelisasie vir jou? Vir baie mag dit gevoelens van vrees en huiwering wakker maak, maar laat ons onthou dat dit ook ’n geleentheid is om te getuig van die wonderbaarlike werk van God in die harte van mense.
Die Groot Opdrag is Bybels-gefundeerd wat ons herinner dat evangelisasie nie ’n opsionele aktiwiteit is nie, maar eerder die kern van ons geloof. Romeine 10:14 vra egter ’n kritiese vraag: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?” Dit bevestig die dringendheid van ons sending. Die wêreld wag op die lig van Christus en ons is die instrumente waardeur sy boodskap vloei.
’n Aksie Gedrewe Mandaat. Die opdrag om te “gaan”, is aksie-gedrewe. Dit roep ons om ons veilige sones te verlaat en aktief betrokke te raak in die proses van dissipelmaking. Dit sluit in dat ons ander na Jesus toe lei en hulle help om geestelik te groei. Die fokus van die mandaat is universeel - “… al die nasies” beteken dat elke deeltjie van die aardbol wag vir die Evangelie, ongeag die kulturele of sosiale agtergrond.

Daar is drie stappe in dissipelmaking:
Verkondig die Evangelie. Johannes 3:16 herinner ons dat God die hele wêreld liefhet en verlang dat hulle na Hom sal kom. Ons eie transformasie is kragtige getuienisse van God se genade en liefde.
Leer en Doop: Handelinge 2:41 illustreer die belangrikheid van lering en doop in die lewe van die gelowige. Lering is noodsaaklik vir geestelike groei terwyl die doop ’n publieke belydenis van ons geloof is.
Toerus en Vermeerder: Dissipelskap is ’n voortgaande reis. Soos Paulus vir Timotheus in 2 Tim. 2:2 leer, word ons geroep om ander toe te rus om hulle geloof weer met ander te deel en so meer dissipels te maak.
Soos wat ons die roeping om te evangeliseer omhels, is daar verskillende praktiese strategieë:
Persoonlike Evangelisasie. Bou verhoudings met hulle wat die Evangelie nodig het en deel jou eie getuienis soos wat Philippus gedoen het met die hofdienaar van Ethiopië (Hand. 8:26-40).
Gemeenskapsuitreike: Organiseer spesiale geleenthede soos filmaande of musiekfeeste om kontak met die gemeenskap te maak en bespreek geloofsverwante onderwerpe.
Digitale Evangelisasie: Benut die sosiale media en deel inspirerende inhoud. Fasiliteer virtuele huisgroepe en Bybelstudies.
Gebedsevangelisasie: Bid vir geleenthede en individue om na Christus te kom. Vra die Here om jou hierin te lei.
Die beloning vir evangelisasie is oorvloedig. Lewens wat verander is deur die Evangelie bring groot vreugde en demonstreer die krag van die Here. Elkeen wat gered word, dra by tot God se koninkryk en het ewige waarde. Lukas 15:7 herinner ons dat die hemel juig oor elke sondaar wat tot bekering kom. Dit maak elke opoffering die moeite werd. Ons moet mekaar toerus en mentor en ’n kultuur van evangelisasie skep. Opleidingsprogramme en werkswinkels kan gelowiges bemagtig om hulle geloof effektief te deel.
Terwyl ons oor Matteus 28:19 dink, besin ’n oomblik oor waarheen Hy jou wil stuur. Poog om in hierdie week die Evangelie met iemand te deel. Dit kan ’n eenvoudige gesprek wees of ’n ernstige boodskap. Dit hoef nie perfek te wees nie – jy hoef slegs gehoorsaam te wees aan die stem van die Here. Mag ons soos Jesaja op die roepe van die Here antwoord: “Hier is ek, stuur my."
MAAK ’N IMPAK OP DIE VOLGENDE GENERASIE

Ek is dankbaar om deel te wees van die AGS van Suid-Afrika. Ons familie is reeds vir geslagte deel van hierdie kerk. Die AGS is inderdaad ’n kerk vir jonk en oud. In hierdie artikel wil ek fokus op die volgende generasie. Ek het onlangs die inligting oor ons geordende pastore nagegaan:
- 50-65 jaar - 1,209 pastore
- 40-50 jaar - 387 pastore
- 30-40 jaar - 107 pastore
- Onder 30 jaar - slegs 11 pastore
Byna 70% van ons pastore is ouer as 50, terwyl ongeveer 50% van ons land se bevolking onder 25 is. Hierdie statistiek wys hoe dringend dit is om ons jong mense en potensiële pastore te bereik, te mentor en toe te rus om die kerk vorentoe te vat.
Waarom maak die volgende generasie saak? Psalm 78:4-7 sê dat ons die werke van die Here aan die volgende geslag moet vertel. As ons nie ons geloof, kennis en ondervinding met hulle deel nie, loop ons die risiko dat die boodskap van die Evangelie verlore kan gaan. Elke geslag moet hoor van God en sy Woord. Ons sending is onvoltooid as ons nie belê het in diegene wat ná ons moet lei nie.
Hoe kan ons ’n impak maak op die volgende generasie?
a. Dissipelskap en Mentorskap. 2 Timotheus 2:2 bemoedig ons om ander te leer wat weer op hulle beurt dieselfde kan doen. Die volgende geslag het leiding en ondersteuning nodig. Ongelukkig laat baie ouer leiers na om tyd te spandeer om jonger gelowiges te mentor. Die jonger geslag is egter gretig om te leer en te groei. Ek wil erkenning gee aan ons President, Dr. Henri Weideman, vir sy inisiëring van ons “Legacy Leadership Program” om jong leiers te mentor. Die eerste groep het die program in 2024 voltooi en ’n nuwe groep het vanjaar begin. Dit is die soort inisiatief wat ons in die kerk nodig het.
b. Belê in Kinder- en Jeugbediening. Deut. 6:6-7 leer ons dat ons God se Woord daagliks in ons kinders se lewe moet inskerp. Beide ouers en kerkleiers moet hierby betrokke wees. Ons gemeentes moet goeie kwaliteit en relevante kinder- en jeugbedieninge in plek hê. Outydse metodes is nie altyd meer relevant en suksesvol nie. Ons jongmense moet bereik word met metodes wat in vandag se tyd tot hulle spreek.
Die groep wat die maklikste in ons kerke kan groei, is die kinders van ons lidmate. As ons hulle betyds in liefde en waarheid betrokke kry, sal baie toegewyd aan die Here bly. Navorsing in Amerika toon dat baie tieners ophou kerk toe gaan in hulle twintigs a.g.v. ‘n gebrek aan dissipelskap. Sommige keer wel later terug, maar sterk vroeë fondasies maak ’n groot verskil.
c. Bemoedig die Betrokkenheid van die Jeug in Bediening. 1 Timotheus 4:12 maan ons om nie neer te sien op jongmense nie. Daar is ook sterk leiers onder hulle. Ongelukkig voel ouer leiers soms bedreig deur jonger en nuwe idees - veral op tegnologiese terrein. Ons moet luister na ons jeug, hulle ondersteun en help om gestalte te gee aan hulle idees. As jong leier het ek self verwerping ervaar van ouer leiers wat my idees verwerp het. Daardie herinneringe dring my vandag aan om noukeurig te luister na die jongmense in ons kerk. Selfs al stem ek nie met alles saam nie, probeer ek maniere vind om hulle in te sluit en leiding te gee. As ons hulle ignoreer, sal hulle ’n ander kerk vind waar hulle welkom sal voel.
d. Bybelse Voorbeelde. Moses en Josua - Moses het Josua geleer om te lei. Ons moet ook ons jongmense voorberei om met die Sending voort te gaan. Eli en Samuel - Alhoewel Eli nie perfek was nie, het hy die jong Samuel leiding gegee om later ’n kragtige profeet te word. Die Here kan ons gebruik om, ten spyte van ons eie tekortkominge, leiding aan die opkomende geslag te gee.
Om bloot te hoop dat die volgende geslag Christus sal volg, is nie genoeg nie. Ons moet hulle mentor, leer en bemagtig. As pastore en leiers is ons verantwoordelik om hulle voor te berei om die kerk die toekoms in te lei. Kom ons neem daardie besluit vandag.
SLOT
Gedurende Mei-maand het die AGS van Suid-Afrika 117 jaar van Gees-vervulde bediening gevier. Van ’n kragtige pod-uitsending wat oor ons kerk se geboorte en groei gehandel het tot ’n visionêre sessie oor ons toekoms en die rol van die volgende geslag. Beide hierdie vieringe was inspirerend en verenigend. Plaaslike AGS Gemeentes reg oor die land het saamgewerk in die viering van ons “AGS Embleem Dag” en met trots ons embleem as simbool van ons gedeelde identiteit en missie vertoon. Dankie aan elkeen wat daaraan deelgeneem het en wat gehelp het om dit ’n betekenisvolle viering van ons ryk Pinkstererfenis te maak.
Vroeë registrasie vir die “AFM of SA ABLAZE” Nasionale Konferensie is nou oop! Moenie hierdie kragtige tyd van verfrissing, toerusting en Goddelike ontmoetings by die Durban International Convention Centre (ICC) misloop nie. Vroeë registrasie kos slegs R200 en is geldig vir 30 dae (9 Junie-9 Julie). Sitplekke is egter beperk. Verseker jou sitplek betyds en wees deel van dit wat die Here vir ons in stoor het.
Wanneer ons terugdink aan alles wat die Here gedoen het en met geloof vorentoe kyk, laat ons waak dat die vuur in ons harte nooit verflou nie. Hou dit brandend - dien die Here met toewyding, doelgerigtheid en onblusbare ywer.
Vriendelike Groete!
Henri Weideman













