Laai die PDF weergawe hier af (om maklik te e-pos of uit te druk):
Pastorale Brief 2de Kwartaal 2022
– MYLPALE IN ONS DEURLOPENDE REIS NA EENHEID
– SPESIALE BOODSKAPPE VAN DIE 1996 AMPSDRAERS
– SLOT
Geagte AGS Familie,
Op 5 April 2022 het ons die kerk se 26ste Eenheids Herdenking by die AGS Nasionale Kantoor in Centurion (Gauteng) gevier. Saam met my mede Nasionale Ampsdraers het ons die voorreg gehad om middagete saam met die Ampsdraers van 1996 te geniet. In ons gesprekke is ons herinner aan wat op hierdie dag, 26 jaar gelede gebeur het. Baie van ons was teenwoordig terwyl die AGS Kerk by SuperSport Park Stadion in Centurion bymekaargekom het, toe Dr Isak Burger en Pastoor Frank Chikane die verhoog betree het. Deur die leiding van die Heilige Gees, is ‘n historiese oomblik van versoening tussen hierdie twee leiers waargeneem. Daardie dag was die begin van die AGS se reis na eenheid.
Ons het besluit om hierdie Pastorale Brief aan ons eenheidsreis op te dra. Ons eenheid is kosbaar en deel van die getuienis van ons kerk. Ons vertrou dat dit jou sal inspireer en seën!
MYLPALE IN ONS DEURLOPENDE REIS NA EENHEID
Dr H.J. Weideman (President van die AGS van SA)
Inleiding
Met sy ontstaan in 1908 was die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS van SA) ‘n multikulturele en nie-rassige kerk. Die dekades tussen 1948 en die 1980’s is gekenmerk deur ‘n rasgedefinieerde kerk, aangesien die AGS geswig het onder die invloed van die Regering se beleid van Apartheid en die kulturele klimaat van die tyd. Die veranderende politieke landskap in die land het die kerk geaffekteer tot op die punt in 1944 waar die Blanke kerk as die “moederkerk” beskou is, terwyl die Swart-, Kleurling- en Indiër kerke as “dogterkerke” beskou is.
Gesprekke oor die kerk se eenwording het rondom 1975 begin. In Augustus 1985 het die AGS ‘n Verklaring van Voorneme opgestel om die kerk te verenig en rassekonnotasies uit sy struktuur te verwyder. Hierdie dokument is in 1986 deur die hele kerk aanvaar.
Na ‘n lang eenheidsproses het die Swart-, Kleurling- en Indiër kerke verenig in die Saamgestelde Afdeling, wat met die Blanke, Enkel Afdeling verenig het. Op 3 April 1996 het die AGS van SA strukturele eenheid bereik toe die gesamentlike Werkersraad (GBM) oorweldigend ‘n nuwe nie-rassige en nie-seksistiese grondwet aanvaar en Nasionale Ampsdraers vir die verenigde kerk verkies het. Hierdie grondwet het alle rasse- en geslagsverwysings laat vaar en die AGS as een verenigde kerk beskou.
Alhoewel die kerk die strukturele eenheid wat in 1996 bereik is vier as ‘n mylpaal in ons reis na eenheid, bly die uitdaging om hierdie eenheid voortdurend te verdiep en te versterk. Dit het gelei tot die behoefte om doelbewus samehorigheid oor kulturele, etniese, taal- en sosio-ekonomiese agtergronde te bou in die diverse samelewing wat Suid-Afrika en die AGS weerspieël.
Eenheid Herstel
In ‘n roerende Eenheid Seremonie op Goeie Vrydag, 5 April 1996 by Centurion SuperSport Park Stadion (bygewoon deur ± 15 000 mense) het die nuutverkose President van die verenigde kerk, Dr Isak Burger, die voormalige Swart-, Kleurling- en Indiër kerke om vergifnis gevra – namens die vorige Blanke kerk. Die destydse nuutverkose Adjunkpresident van die AGS, Pastoor Frank Chikane, het Dr Isak Burger se pleidooie namens die voormalige Swart kerke aanvaar. Dit het die AGS van SA die eerste kerk denominasie gemaak wat verenig is sedert die instelling van Suid-Afrika se demokrasie.
In ‘n video wat gemaak is vir die 20ste Eenheidsherdenking in 2016, het Pastoor Frank Chikane gepraat oor die tyd toe die drie “dogter” kerke besluit het om te verenig as die Saamgestelde Afdeling. Hy het gesê: “We had challenges about constitutions, technicalities and all those types of things. At one stage we stopped the process and asked: Does God want us to unite? And we said: Yes, the Holy Spirit wants us to be united. We left the constitution, declared ourselves united and said the constitution will follow, and indeed it did.”
Verenigde Struktuur
Sedert 1996 funksioneer die AGS van SA met die volgende ten volle geïntegreerde organisasiestruktuur:
- ‘n Tweejaarlikse Algemene Besigheidsvergadering (GBM) waarna elke geregistreerde Gemeente twee verteenwoordigers kan stuur.
- Vier Nasionale Ampsdraers (NOB): Die President, Adjunkpresident, Algemene Sekretaris en Algemene Tesourier – word elke 4 jaar deur die GBM verkies.
- Die Nasionale Leierskapsforum (NLF) vergader drie keer per jaar en bestaan uit die leiers van die 43 Streke van die kerk, sowel as die Nasionale Departemente se leiers.
- Ses Nasionale Departemente met hul Direkteure en Beheerliggame: Education & Training; AGS Welsyn; National Men’s Fellowship, National Sisters Fellowship, National Youth, en die National Children’s Ministry.
- Streeksleierskapsforums (RLF) en -komitees (RLC) vir die 43 geografiese en nie-geografiese streke/netwerke.
- Plaaslike Gemeentes (tans 1,721) met hul Beheerliggame, departemente en bedienings, funksioneer binne die struktuur van die onderskeie streke en netwerke.

Die Waarheids- en Versoeningskommissie
Op 19 November 1999 het Dr Isak Burger en Pastoor Frank Chikane saam met Pastore George Mahlobo, Peter de Witt, Ronnie Naidoo en Ansley Jacobs met die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) in Oos-Londen vergader en ‘n voorlegging namens die AGS Kerk gedoen.
As deel van die AGS se aanbieding by die WVK het Dr Isak Burger gesê:
“The 1997 Workers’ Council (the first GBM after unity) reacted in humiliation to the call of the Almighty to become an instrument of healing and reconciliation and decided to unconditionally accept responsibility for the fact that the church was not the voice of God of reconciliation in this country for so long as the community was separated by racism.”
Hy het ook gesê: “We have admitted the errors of our ways; we have apologised collectively and individually to each other. We have apologised to those beyond the reach of the AFM which we might have caused harm to. We now are faced by the enormous task of getting to grips with questions such as reconciliation, healing, bridge building, poverty, joblessness, and creating a mentality of challenging government and keeping an eye on those ruling over us, in a bid to prevent the mistakes and sins of yesteryear being repeated.”
Ons Nasionale Visie
Alhoewel baie plaaslike gemeentes hul eie visiestellings en fokusareas het, hou hulle almal op een of ander manier verband met die verenigde AGS se nasionale visie:
Versoeningsproses
Ons verstaan dat berou, vergifnis, genesing sowel as herstel en restitusie ‘n integrale deel van die Bybelse basis is vir versoening. Berou en vergifnis is tot ‘n groot mate uitgespreek en ervaar. Terwyl die vertikale dimensie van versoening (tussen God en mensdom) hoog op ons bedieningsfokus as kerk is, is die horisontale dimensie van versoening (persoon tot persoon) steeds besig om te ontvou. Op die verskillende strukturele vlakke van die kerk word versoening en eenheid soos volg ervaar:
Nasionale Vlak
Eenheid en groeiende versoening word ervaar. AGS-leiers bou verhoudings as kollegas en vriende. Die Nasionale Leierskapsforum het ‘n paar bemagtigingsessies gehad wat bedoel was om leiers sensitief te maak, en waardering vir ons kulturele diversiteit te kweek. Pynlike ervarings wat uit die verlede voortspruit kan meer openhartig uitgeruil word, sonder dat leiers aanstoot neem of verbitterd word. Aanvaarding van mekaar se sienings oor sake neem toe.
Streeksvlak
Streke en Netwerke ervaar die verdieping van eenheid en versoening teen verskillende tempo’s – en is die mees verteenwoordigende vlak van die diversiteit binne die AGS. Dit is egter hoofsaaklik Pastore, hul gades en die Beheerliggame van Gemeentes wat gereeld op ‘n kruiskulturele basis vergader by streeksbyeenkomste, wegbreke en bemagtigingsessies.
Plaaslike Gemeentevlak
Alhoewel daar ‘n merkbare toename in multikulturele Sondagdienste en -Byeenkomste is, ervaar baie lidmate nie eenheid en versoening in praktiese terme op Gemeentevlak nie. Die meeste Gemeentes funksioneer nog in die paradigmas van kultuur, taal en geografiese gebiede.
Advieskomitee oor Kohesie
Pastoor George Mahlobo, Hoofsekretaris van die AGS sedert eenwording, en President van 2016 tot 2021, het tydens sy ampstermyn aan die hoof van ‘n inklusiewe advieskomitee oor kohesie (samehorigheid) gestaan. Die doel van hierdie komitee en die voortdurende fokus op kohesie is: Om meer maniere te ondersoek om ons God-gegewe diversiteit te vier; Om ons gemeenskappe te verstaan en sosiale samehorigheid te meet; Om ons gemeenskappe te betrek en vennootskappe tussen sleutel rolspelers te bou; Om voorvalle van rassisme of konflik tussen groepe te voorkom en daarop te reageer; Om strategies te beplan vir die behoeftes van ons gemeenskappe nou en in die toekoms; Om uitkomste te monitor, te evalueer en te deel.
Die Pad Vorentoe
Die lys hieronder sluit in, maar is nie beperk nie tot sommige van die voorstelle wat deur die Advieskomitee oor Kohesie gemaak is:
- Definieer die uitdagings van samehorigheid en voer openhartige gesprekke daaroor.
- Raadpleeg AGS lidmate, veral die jonger generasie oor hul sienings en verwagtinge rakende kohesie.
- Skep meer geleenthede vir leiers om hul lewensverhale te deel, interaksie te hê en kwessies openlik te bespreek. Dit moet sessies insluit waar mense toegelaat word om hul gevoelens van pyn uit te druk en begelei te word oor hoe om dit te hanteer.
- Bevorder geïntegreerde byeenkomste en konferensies. Konferensies is nuttig as dit so georganiseer is dat dit diversiteit toon in terme van sprekers, musikante, aanbidding, musiek en ander verwante areas. By die meeste konferensies is kommunikasie en prediking in Engels met tolke. Sang is ook meestal in Engels en in die dominante tale van die betrokke gebied. Waar moontlik word lirieke van liedjies op ‘n skerm vertoon, met onderskrifte in ‘n relevante taal.
- Bemagtig kerkleierskap op alle vlakke om deel te neem aan die beplanning en implementering van aktiwiteite wat diversiteit en kohesie bevorder. Dit moet verhoudingsbou-aktiwiteite en geleenthede vir Pastore en lidmate insluit om interaksie te hê en mekaar as individue of as ‘n groep te besoek.
- Moedig sosiale kohesie aan asook die deel van sukses-stories van integrasie.
- Gebruik die kerk se sosiale media platforms om boodskappe te kommunikeer wat sosiale kohesie bou.
SPESIALE BOODSKAPPE VAN DIE 1996 AMPSDRAERS
Dr Isak Burger; Pastore Frank Chikane; George Mahlobo & Peter de Witt
“Sedert die ontstaan van die AGS in 1908 kan die eenwording van ons kerk in 1996 as die belangrikste gebeurtenis in ons geskiedenis beskou word. Mens kan jou skaars indink wat die resultaat sou wees vir die oudste Pinksterkerk in Suid-Afrika, as dit nie gebeur het nie. Ons sou ontrou gewees het aan die Skriftuurlike beginsel dat ras nie ‘n verdelings- en skeidsfaktor in die kerk van die Here moet wees nie. Ons sou ook heel waarskynlik op die kantlyn gesit het in ‘n geïntegreerde, demokratiese samelewing. Ons eenwording het ons beslis tot ‘n mate die morele hoë grond gegee. God was ons genadig gedurende ‘n gunstige tyd in ons jong demokrasie. Dit was ‘n tyd van merkwaardige nasionale welwillendheid en versoening – inderdaad ‘n kairos-tyd vir ‘n gebeurtenis van hierdie aard om te realiseer. As ons daardie geleentheid gemis het, glo ek eenwording sou al hoe meer uitdagend geword het. Ons kan God waarlik dank vir Sy genade, guns en wysheid om die regte ding te doen.”
– Dr Isak Burger (Voormalige President van die AGS van SA)
“Ek dank God dat ons hierdie reis tot dusver gestap het. Ek moet sê dat baie mense nie besef hoe buitengewoon die eenheid van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika is nie. Die AGS het verder gevorder as enige ander kerk wat sy eenheid betref. Nie baie mense verstaan hoe uitdagend hierdie ervaring was nie. Ons het ‘n lang reis aangepak met ‘n kerk wat onder die druk van ‘n Apartheids Regering geswig het. Ons moes luister na die Heilige Gees wat met ons praat en ons moes saamwerk om te verseker dat die AGS verenig word. 1996 was die hoogtepunt van hierdie wonderwerk. Ek is bly dat ek 26 jaar later kan sê dat ek trots is op die AGS wat geluister het na wat God wou doen. Ons is nou verenig en kan saam die Evangelie verkondig sonder om ons oor daardie geskiedenis te bekommer. ”
– Past. Frank Chikane (Voormalige Adjunkpresident van die AGS van SA & Voormalige President van AGS Internasionaal)
“Die aanvaarding van die Verklaring van Voorneme-dokument was ‘n mylpaalprestasie. In hierdie dokument het die AGS verklaar dat rassediskriminasie nie as ‘n beginsel in God se koninkryk en in die kerk gebruik kan word nie. Die aanvaarding van die kerk se grondwet in 1996 wat nie kerklidmate in terme van ras definieer nie, was ‘n tweede historiese oomblik vir die kerk se eenheid. Dit was die twee belangrike besluite wat die kerk op die pad van eenheid geplaas het. Ons moet almal saamwerk om hierdie eenheid deur betekenisvolle betrokkenheid te verdiep. Ons moet ons almal daartoe verbind om mekaar as susters en broers te omhels, ongeag ons verskillende kulture, ras, klas en geslag. In Psalm 133 word ons herinner aan die mooiheid en aangenaamheid van eenheid onder die heiliges.”
– Pastoor George Mahlobo (Voormalige Algemene Sekretaris van die AGS van SA; Voormalige President van die AGS van SA & Huidige President van die AGS Internasionaal)
“Die eenheid van die kerk in 1996 was ‘n hoogtepunt van ‘n Godgegewe begeerte om Sy doelwitte te vervul om een in Hom te wees, ‘n eenheid wat verder strek as die grense van ras, kleur en kultuur; wat die gebed van Jesus in Johannes 17:11 aankondig “… sodat hulle net soos Ons een kan wees.” Hierdie eenheid het ‘n deurlopende diepgaande positiewe impak gehad op my lewe sowel as diegene met wie ek kontak het in my daaglikse handelinge binne die kerk. Dit het my horisonne verbreed in kommunikasie en uitreik na die gemeenskap, terwyl die roeping van die evangelie van Jesus Christus vervul word, “… Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral.” (Markus 16:15). Dit is ‘n wonderlike ervaring om mekaar te ken en ‘n ryker begrip van mekaar te kry binne ‘n kerk wat soveel God-gegewe diversiteit en talent het. Mag die volheid van God se ryk en wonderlike seëninge aan elke persoon in die kerk geskenk word in ons voortgaande reis om Hom te ken wat was en is en sal wees tot in die ewigheid!”
– Pastoor Peter de Witt (Voormalige Algemene Tesourier van die AGS van SA)
SLOT
Ons kan nie sê dat ons die reis na eenheid voltooi het nie. Dit was en is steeds ‘n uitdaging om verskeie redes. Ons het ook nog oorblyfsels van vooroordeel, meerderwaardigheid, minderwaardigheid en kategorisering van ander kulture in ons geledere.
Ons gee erkenning aan al die lidmate en leiers wat ‘n stewige prys betaal het en ‘n volgehoue rol gespeel het om ons te bring waar ons is. As die AGS van SA is ons nederig dankbaar vir ons reis na eenheid tot dusver, en ons vertrou dat ons ondervinding op een of ander manier vir ander tot hulp kan wees.
Seëninge
Henri Weideman