Pastorale Brief: 2de Kwartaal 2021

INHOUD

– Groete
– Belangrikheid van die Uitstorting van die Heilige Gees
– Sorg en Beskerming van Ouer Persone: ‘n Betrokke Kerk en Gemeenskap
– Tendense wat die Kerk raak: Gedurende & na die Pandemie
– Slot
Laai hierdie Pastorale Brief af in PDF-formaat (om dit as ‘n dokument te e-pos of uit te druk):

AGS Kollega,

Die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS) is deel van die klassieke Pinksterkerke wat die rol van die Heilige Gees in die lewens van Christen gelowiges beklemtoon. Ons erken die Heilige Gees as deel van die Goddelike Drie-Eenheid. Die rol van die Heilige Gees, as deel van die Drie-Eenheid, kan teruggevoer word na die Bybelse skeppingsverhaal in Genesis 1:2, waar ons lees: “Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.” (AFR83). In Matteus word die Heilige Gees geassosieer met die geboorte van Jesus (Matteus 1:18) en Jesus se waterdoop (Matteus 3: 16-17). Wat die Groot Opdrag in Matteus 28:19 betref, moet diegene wat dissipels van alle nasies word, gedoop word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

BELANGRIKHEID VAN DIE UITSTORTING VAN DIE HEILIGE GEES

Past. George Mahlobo (President van die AGS van SA)
mmahlobo@afm-ags.org 

Die Komitee vir Doktrine, Etiek en Liturgie (DEL) oorweeg tans die vraag of, om in tale te praat, die enigste aanvanklike bewys is van die Doop met die Heilige Gees.

Dit is ‘n belangrike bespreking omdat dit ons belydenis van geloof beïnvloed. Paragraaf P.3.7 van die kerk se geloofsbelydenis sê: “WE BELIEVE in the baptism in the Holy Spirit with the initial evidence of speaking in tongues as promised to all believers. We believe in the manifestation of the gifts and fruit of the Spirit in the life of a Christian. We believe that a Christian should be a disciple of Jesus Christ living a consecrated and holy life.” Ons sien uit na die aanbeveling van die DEL en die optrede deur die Nasionale Leierskapforum (NLF). Wat ook al besluit word, ek glo nie dat dit die belangrikheid van die Doop met die Heilige Gees sal ondermyn nie.

Balansering van die Gawes van die Gees en die Vrug van die Gees

Gedurende Pinksterweek het AFM International ‘n virtuele konferensie gereël met die tema: “Die balansering van die Gawes van die Gees en die Vrug van die Gees.” Die Gawes van die Gees is gerig op bevoegdheid in bediening, terwyl die Vrug van die Gees gemik is op die ontwikkeling van ‘n Christelike karakter. Die twee moet altyd aanmekaar gekoppel word.

Die Gawes van die Gees is in drie gegroepeer, naamlik (1) die Gawe van Openbaring (Woorde van kennis, woorde van wysheid en die gawe om tussen die geeste te onderskei); (2) Gawes van Uiting (Profesie, verskillende soorte tale en die uitleg van tale) en (3) Gawes van Krag (Geloof, die gawe van genesing, en die gawe van wonderwerke).

Die Vrug van die Gees is ook in drie gegroepeer. Die drie groepe is (1) ‘n Persoonlike verhouding met God (Liefde; Vreugde en Vrede); (2) ‘n Persoonlike verhouding met ander (Geduld; Vriendelikheid en Goedheid) en (3) Persoonlike ontwikkeling (Betroubaarheid; Sagmoedigheid en Selfbeheersing).

Op Pinkster-Sondag het ons besin oor die belangrikheid van die Doop met die Heilige Gees.

Doop met die Heilige Gees 

Dit is Johannes die Doper wat oor Jesus gepraat het as die een wat met die Heilige Gees sou doop. Al vier Evangelies getuig hiervan, soos geskryf in Matteus 3:11, Markus 1:7-8, Lukas 3:16 en Johannes 1:33. In Sy laaste opdrag voordat Hy hemel toe opgevaar het, het Jesus Sy dissipels opdrag gegee om nie Jerusalem te verlaat nie, maar om te wag vir die Doop met die Heilige Gees (Handelinge 1:4-5). Dit is vervul op die dag van Pinkster soos in Handelinge 2 vermeld.

Daar is drie voorvalle van Doop met die Heilige Gees in die boek van Handelinge wat verband hou met die aksie om in tale te praat. Dit is Handelinge 2:1-4; Handelinge 10:44-46 en Handelinge 19:6. In Handelinge 8:17 lees ons oor nuwe gelowiges wat die Heilige Gees ontvang het toe Petrus vir hulle hande opgelê het. Die bewys dat hulle in tale gepraat het toe hulle die Heilige Gees ontvang het, word nie genoem nie. Daar het egter iets buitengewoons gebeur toe hulle die Heilige Gees ontvang het. Dit het die aandag getrek van Simon, wat geld aangebied het om die Heilige Gees te ontvang (Handelinge 8:18).

Krag vir Bediening

Volgens Handelinge 1:8 was die hoofdoel van die uitstorting van die Heilige Gees om die dissipels as getuies van Jesus te bemagtig. Handelinge 1: 8 (AFR83) lui: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Die Doop met die Heilige Gees bemagtig ons om effektiewe getuies van Jesus te wees.”

Die Doop met die Heilige Gees bemagtig ons om effektiewe getuies van Jesus te wees. Om getuies van Jesus te wees, verg bemagtiging van die Heilige Gees. Toe hy aan die kerk in Korinte geskryf het, het Paulus gesê: “Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.” (2 Korintiërs 3:5-6 AFR83).

Hierdie krag word gemanifesteer deur die Geestelike Gawes soos gelys in 1 Korintiërs 12:7-11. Deur hierdie gawes ontvang die kerk insig (Gawes van Openbaring). Die Gawes van Uiting stel die kerk in staat om van God te hoor en met gelowiges te praat. Deur Gawes van Krag demonstreer die kerk God se krag.

Ontwikkeling van ‘n Christelike Karakter

Daar word verwag dat God se kinders ‘n karakter moet ontwikkel wat versoenbaar is met Christus se karakter. In baie gevalle word hierdie aspek van die Christelike lewe geïgnoreer. Die Vrug van die Gees in Galasiërs 5:22-23 is ‘n aanduiding van die vorming van ‘n Christelike karakter. Ons het ontwikkeling nodig in ons Persoonlike verhouding met God (Liefde; Vreugde en Vrede). Ons moet ook groei in ons verhoudinge met ander mense (Geduld; Vriendelikheid en Goedheid) en in ons Persoonlike ontwikkeling (Betroubaarheid; Sagmoedigheid en Selfbeheersing). In Lukas 2:52 (AFR83) lees ons: “En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.”

Ons moet onsself Beskerm teen die Misbruik van die Gawes van die Gees

Ons lees oor die misbruik van die Gawes van die Gees in Korinte. Paulus behandel hierdie kwessie in 1 Korintiërs 12 en 14. Ons is soms geneig om sekere gawes hoër as ander te ag. Alhoewel Paulus die Gawe van Profesie hoër geag het as om in tale te praat, beteken dit nie dat praat in tale geen waarde toevoeg nie (1 Korintiërs 14: 3-5). Beide die praat in tale en profesie is opbouend. In werklikheid, as die taal uitgelê word, is dit gelyk aan profesie.

SORG EN BESKERMING VAN OUER PERSONE: ‘N BETROKKE KERK & GEMEENSKAP
Ashley Theron (Waarnemende Uitvoerende Hoof van AGS Welsyn)
ashleyt@afmwelfare.org.za 

Die Mishandeling van Ouer Persone

Ouer persone is iemand se ouers, ons ouers, ons grootouers, hulle is in ons kerke – hulle het vir ons gesorg toe ons grootgeword het, nou is dit ons beurt om op ‘n waardige manier na hulle om te sien en hulle te beskerm. Net soos dit ‘n familie en ‘n gemeenskap (of “village”) verg om ‘n kind groot te maak en te beskerm, net so verg dit ‘n betrokke kerk en ‘n gemeenskap om ouer persone te beskerm en te versorg. Ongelukkig bly die mishandeling van ouer persone ‘n groot uitdaging in Suid-Afrika – dit woed voort in gesinne, gemeenskappe en selfs in versorgingsfasiliteite vir ouer persone.

Die versorging en beskerming van ouer persone behoort een van die fokus areas van elke AGS Gemeente te wees. Veral in die lig van ons kerk se One AFM Game Plan – en meer spesifiek die praktiese implementering van die Gemeenskapsbetrokkenheid drywer. Enkele belangrike definisies sluit in:

Ouer persoon – is enige persoon wat 60 jaar en ouer is.

Ouer persoon wat versorging en beskerming benodig – beteken ‘n ouer persoon soos verwys in Artikel 25 (5) van die Wet op Ouer Persone (Wet No13 van 2006).

Mishandeling van ‘n ouer persoon – is wanneer iemand wat mag het oor ‘n ouer persoon hulle opsetlik benadeel of in ernstige gevaar stel, d.m.v. hul optrede of gebrek aan optrede.

Vorme van Mishandeling van Ouer Persone

Die ses soorte mishandeling van ouer persone sluit in (1) fisiese mishandeling, (2) seksuele misbruik, (3) emosionele of sielkundige mishandeling, (4) verwaarlosing of selfverwaarlosing, (5) agterlating (“abandonment”) en (6) finansiële misbruik. Elkeen van hierdie vorme van mishandeling het ‘n definisie en spesifieke waarskuwingstekens wat iemand in staat stel om moontlik te identifiseer wanneer mishandeling plaasvind. Ongeag die tipe, die misbruik van ouer persone kan verwoestende gevolge hê, waaronder groot emosionele lyding, ernstige liggaamlike beserings en selfs die dood ingesluit kan wees.

Die Rol van die Pastoor en ander Kerkleiers

Psalm 141:8-10 sê: “Op U, Here my God aan wie ek behoort, is my oë gerig, by U skuil ek, moenie dat my lewe wegkwyn nie. Beskerm my teen die strik wat hulle vir my gestel het, teen die valstrikke van dié wat onreg doen. Laat die goddeloses gevang word in hulle eie nette, maar laat my ongedeerd verbykom.”

“Pastore en ander kerkleiers speel ‘n belangrike rol in die voorkoming van mishandeling omdat hulle dikwels die eerste stop vir hulp is.”

Pastore en ander kerkleiers speel ‘n belangrike rol in die voorkoming van mishandeling omdat hulle dikwels die eerste stop vir hulp is. In baie gevalle is die pastoor of leier van die bediening vir ouer volwassenes die enigste ander persoon (behalwe die persoon wat die bron van die misbruik is) in die slagoffer se lewe. Mishandeling van ouer persone is ‘n misdaad en alle verantwoordelike leiers wat met ouer persone werk, MOET gevalle van mishandeling by die owerhede aanmeld.

Laat my toe om tien aanbevelings te deel wat pastore en kerkleiers in ag kan neem by die hantering van die mishandeling van ouer persone in hul  gemeentes en gemeenskappe (let op dat hierdie aanbevelings ook op die areas van geslagsgeweld en kindermishandeling toegepas kan word):

Pastore en kerkleiers kan die volgende aanbevelings oorweeg om prakties betrokke te wees by die versorging en beskerming van ouer mense: 

  1. Herken die tekens. Soek die tekens van mishandeling: fisiese en verbale mishandeling; verwaarlosing van persoonlike higiëne, lewensomstandighede of mediese behoeftes; en uitbuiting, soos iemand wat voordeel trek uit die finansies en eiendom van ‘n ouer persoon. Sommige ouer persone is nie in staat of is te bang om oor sulke situasies te praat, dus moet kerkleiers ouer mense met sorg dophou.
  2. Gee die konsekwente boodskap (in die vorm van ‘n preek) dat mishandeling van ouer persone verkeerd is en in stryd is met die Christelike geloof.
  3. Verhoog bewustheid en bespreking van die mishandeling van ouer persone binne die kerk (deur gereelde onderrig en opleiding). Leer die gemeentelede oor verskillende soorte misbruik van ouer persone – insluitend bedrieglike voorvalle waar ouderlinge betrokke is.
  4. Reik uit na en werk saam met eksterne agentskappe, insluitend plaaslike dienste vir die mishandeling van ouer persone, die polisie, kinder- en gesinsdienste, gesondheidsdienste, maatskaplike dienste, ens. Om misbruik aan te pak en diegene wat mishandel word te help, verg ‘n multi-sektorale benadering.
  5. Skep ‘n veilige plek vir ouer persone deur jou gemeente ‘n plek te maak waar bejaarde slagoffers kan kom hulp soek. Bied vertroulike (binne die grense van die beskerming van beleid), nie-veroordelende luister- en gebedsondersteuning vir enige iemand wat beweer dat hulle mishandel word.
  6. Kontak die regte owerhede. In Suid-Afrika is die eerste oproep na jou naaste Departement van Maatskaplike Ontwikkeling kantoor – en indien hulle nie beskikbaar is nie, meld die misbruik aan by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS). Skakel 10111 as die persoon in onmiddellike gevaar is.
  7. As deel van jou Gemeenskapsprofiel, stel ‘n databasis op van alle kwesbare persone, insluitend ouer persone wat in die plaaslike gemeenskap woon waar jou gemeente bedien – sluit hul name, telefoonnommers, adres en naasbestaandes in.
  8. Stel ‘n Besoekersprogram op waar lidmate van jou gemeente gereeld bejaarde lidmate aan huis besoek. Moedig ook diegene met familielede in ouetehuise aan om hulle gereeld te gaan besoek. As ‘n familielid ‘n versorger is, moet jy die versorger aanmoedig en ondersteun om vrye tyd te skep deur ‘n reëling te tref vir addisionele hulp met moontlike opgeleide kerkvrywilligers.
  9. Begin ‘n Verpleegsterbediening waar ‘n kundige en professionele gesondheidsorgwerker kan help om die gemeente op te lei, sowel as om die behoeftes van lidmate wat huisgebonde is, te monitor.
  10. Help om misbruik in jou gemeenskap te voorkom deur ouer persone en hul gesinne te leer hoe om mishandeling en/of bedrog aan te meld, veral tele(foon)bemarking bedrog, en lig hulle in oor die soorte en tekens van mishandeling van ouer persone.

Skep ‘n veilige plek vir ouer persone deur jou gemeente ‘n plek te maak waar bejaarde slagoffers kan kom hulp soek.”

Ter ondersteuning het ek ‘n meer gedetailleerde bron ontwikkel wat afgelaai kan word vanaf die AGS-webwerf: https://afm-ags.org/category/articles/.

Laai hierdie artikel af om meer te leer oor:

  • Die regs- en beleidsraamwerk in Suid-Afrika (“The Older Persons Act”).
  • Ses soorte misbruik van ouer persone (Leer om al die waarskuwingstekens te herken).
  • Die hantering en bestuur van misbruik van ouer persone (Verstaan die rol van elke belanghebbende in die gemeenskap).

TENDENSE WAT DIE KERK RAAK: GEDURENDE & NA DIE PANDEMIE

Dr Henri Weideman (Algemene Sekretaris van die AGS van SA) 
henri@afm-ags.org

Iewers gedurende hierdie jaar, of vroeg volgende jaar, sal ons ‘n post Covid-19-pandemie-wêreld betree. Niemand kan presies sê wat die toekoms inhou nie, maar ons neem wel sekere tendense regoor die wêreld waar, waarvan sommige ook relevant is vir Suid-Afrika. Ons behoort hierdie tendense te oorweeg wanneer ons beplan en bid oor die toekoms:

Tendens 1: Die Belangrikheid van Bediening in die Digitale Sfeer 

Ek hou vol met ‘n waarneming wat ek voorheen gemaak het, dat die kerk ‘n in-persoon entiteit sal bly, maar nie die geleentheid moet misloop om ‘n aanlyn teenwoordigheid te ontwikkel nie. Baie gemeentes vestig ‘n permanente aanlyn teenwoordigheid en gebruik dit ook suksesvol vir digitale uitreike. Hierdeur word nuwe mense bereik, maar terselfdertyd behou gemeentes ook bestaande lidmate wat tans die veiligheid van aanlynbetrokkenheid verkies.

Sommige leiers bepleit ‘n “digitale eerste” strategie terwyl ander fokus op ‘n “in-persoon eerste” benadering. Strategieë waar hierdie twee benaderings op ‘n aanvullende wyse gebruik word, kom al hoe meer voor. Vernuwende kerkleiers verstaan dat die kerk op die internet teenwoordig moet wees op maniere wat verder gaan as die regstreekse uitsending van Sondag oggenddienste en die aanlyn gee van bydraes. Opsies soos digitale Bybelstudiegroepe, nuwe lidmaat- en voorhuwelikse kursusse, en die vorming van nuwe geloofsgemeenskappe wat uitsluitlik aanlyn bestaan, moet ook ondersoek word.

Tendens 2: ‘n Groter Fokus op Konneksie en Missie

Histories het gemeentes byna alles gedoen om mense op Sondae in een gebou bymekaar te bring. Groeiende kerke begin egter baie meer daarop fokus om mense met mekaar en met God te verbind en fokus minder daarop om hulle net bymekaar te bring. Om mense op Sondae oggende byeen te bring sal altyd belangrik bly. Dit sal egter nie noodwendig net meer in een gebou wees nie. Byeenkomste met ‘n uitwaartse fokus kan Sondae oggende, asook op ander dae, uit mikro-kerke in mense se huise en in ander geboue bestaan. As jy die feit kan aanvaar dat mikro-byeenkomste, verspreide byeenkomste en mense wat van die huis af kyk, almal geleenthede is wat mense met mekaar verbind, sal jy daardie mense kan mobiliseer op dieselfde manier as wat jy die mense wat in die kerkgebou byeenkom kan mobiliseer.

“Jou visie moet groter wees as die kapasiteit van die gebou wat jy kan vul.”

Indien ‘n gemeente ‘n strategie het om demografiese verskuiwings en die toenemende kulturele diversiteit in ons gemeenskappe te akkommodeer, is dit ‘n verdere geleentheid om mense met mekaar te verbind. Dit is ook belangrik om te besef dat individue buite die kerk makliker aanklank vind by die impak wat ‘n plaaslike gemeente op sy gemeenskap het, teenoor die kerk se spesifieke denominasie.

Tendens 3: Oomblikke, Bewegings en Missie 

Dit lyk of mense regoor die wêreld geen probleem het om die strate in te vaar vir politieke of sosiale betogings of om in kritieke oomblikke bymekaar te kom nie. Die kerk, op haar outentieke beste, het al die eienskappe van ‘n beweging met ‘n definitiewe missie. Te dikwels  mis ons egter hierdie kritieke elemente, omdat soveel van die huidige kerkmodel gebaseer is op inhoudlewering op ‘n Sondagoggend.

Inhoud was in die verlede genoeg om ‘n gebou te vul met mense, omdat dit skaars was. Jy moes die diens bywoon om ‘n boodskap te hoor, maar in ‘n tyd waar inligting die internet oorstroom, vul inhoud alleen nie meer ‘n vertrek nie.

Mense wil nie net inligting oor God hê nie, hulle is honger vir ‘n belewenis van God.”

Die beklemtoning van oomblikke, bewegings en missie is belangriker as ooit. Mense wil nie net weet wat waar is nie; hulle wil weet wat werklik is. En wat werklik is, is dieper as net ‘n idee – dit is ‘n ervarings oomblik. Mense wil nie net inligting oor God hê nie, hulle is honger vir ‘n belewenis van God. Ons moet oomblikke in ons byeenkomste inbou wat verder strek as inligting en mense se sintuie en harte betrek, veral tydens aanbidding. Kerke wat ‘n ontmoeting met God ignoreer en net hoop dat ‘n ordentlike boodskap die kerkgebou sal vul, sal waarskynlik geskok wees dat nie meer gebeur nie.

Tendens 4: Opvolging word Belangriker 

Ons sien verskeie ouer leiers van gemeentes wat besef dat dit tyd is vir hulle om aan te beweeg, maar hul weet nie hoe nie. Ons sien ook jonger leiers wat gemeentes verlaat, omdat ouer leiers nie aanbeweeg wanneer hulle moet nie. Elke jaar wat ‘n gemeente gelei word deur ‘n leier wat visie, passie en fokus verloor het, ly die missie van daardie gemeente daaronder. Die opvolgkrisis is egter net ‘n krisis as jy dit een maak. In plaas daarvan om net aan te gaan, herdefinieer goeie leierskap hulleself gereeld.

Die nadeel is dat hoe ouer jy word, hoe minder waarskynlik is dit dat jy innoverend t.o.v. metodes sal wees. Innovasie dryf groei en die betrokkenheid van opkomende geslagte. Die data dui op ‘n tendens dat groeiende kerke geneig is om deur jonger leiers gelei te word. Baie leiers praat oor die bereiking van die volgende generasie, maar hulle sluit selde die volgende generasie in hul beplanning in. Dit word al hoe duideliker dat dit die leierskap van die volgende generasie gaan neem om die volgende generasie te bereik.

Tendens 5: Nuwe Patrone in Personeel Aanstellings

Daar is ‘n toename in deeltydse en dubbel-beroep pastore en meer gemeentelede in sleutel bedieningsrolle as betaalde personeel of vrywilligers.

Die pandemie het sommige kerke gedwing om hul personeel te verminder weens finansiële redes. Dit het egter ook ‘n premie geplaas op elektroniese kommunikasievaardighede wat noodsaaklik geword het vir bykans elke aspek van die bediening. Sommige gemeentes begin individue aanstel wat tegniese kennis het, maar gehelp moet word om ‘n beter teologiese begronding te kry. Gemeentes soek toenemend personeel met spesifieke vaardighede in kommunikasie, bemarking, fondsinsameling en ander relevante eienskappe.

Met Erkenning aan Doug Powe, Ann A. Michel en Thom Rainer. 

SLOT

Soos wat ons die post-pandemie wêreld binnegaan, sal leiers wat geleenthede in plaas van struikelblokke sien, floreer. Die kerk mis soms geestelike entrepreneurskap – iets wat die Nuwe Testament, Apostelskap noem. Dit is die soort wilskrag, innovasie en intensiteit waarmee die Apostel Paulus geleef het. Geestelike entrepreneurs is die soort leiers wat môre se oplossings vind, terwyl die meeste leiers nog net vandag se probleme raaksien.

Geestelike entrepreneurs is die soort leiers wat môre se oplossings vind, terwyl die meeste leiers nog net vandag se probleme raaksien.”

Een van die belangrikste waarnemings oor die tyd waarin ons leef, is dat dit ons almal uitnooi om innoverend en aanpasbaar te wees en uithouvermoë te beoefen.

Seën!

Past. M.G. Mahlobo

(President van die AGS van SA)

Spread the word...