PASTORALE BRIEF 2DE KWARTAAL

Laai die PDF weergawe hier af:

AFM Newsltr 2ND Qrt 2020 AFR web

Geagte Kollega, 

Ons gaan deur ‘n pandemiese krisis wat aanhou om ons lewens op ‘n ongekende manier te ontwrig op ‘n sosiale, ekonomiese en op kerklike vlak. Covid-19 word gekenmerk as ‘n nuwe krisis wat inderdaad alles verander en wat ‘n wêreldwye bedreiging vir alle sektore van die samelewing inhou.

LEIERSKAP KWALITEITE IN ‘N KRISIS
Past. M.G. Mahlobo (President van die AGS van SA) – mmahlobo@afm-ags.org

Oor die algemeen word krisisse in twee kategorieë ingedeel, naamlik ‘n “roetine” en ‘n “nuwe” krisis. In die geval van ‘n “roetine” krisis het organisasies die vermoë om planne in plek te stel vir die hantering daarvan omdat die risiko bekend is. Aan die ander kant word ‘n “nuwe” krisis gekenmerk deur ‘n hoë vlak van risiko en onsekerheid.  Planne en prosesse wat effektief is in ‘n “roetine” krisis is in meeste gevalle onvoldoende en kan selfs teenproduktief wees in ‘n “nuwe” krisis.

In krisistye kyk mense op na hul leiers vir leiding om die impak van die krisis wat hul in die gesig staar, te verminder. Soos ons deur die huidige Covid-19 pandemie gaan, kyk gemeentelede op na hul leiers op plaaslike, streeks en nasionale vlak. Vir hierdie rede moet leiers die impak van die koronavirus pandemie begryp en aanspreek en terselfde tyd hul lidmate vol hoop hou. Hulle moet ook verseker dat die besluite wat geneem word verstandig is.

“Vir hierdie rede moet leiers die impak van die koronavirus pandemie begryp en aanspreek en terselfde tyd hul lidmate vol hoop hou.”

In hierdie artikel wil ek enkele van die leierseienskappe wat ons benodig wanneer ons deur krisistye gaan, soos die huidige een, benadruk.

Leierskap Behendigheid (“Agility”)

Koronavirus benodig leiers wat vinnig kan beweeg, sonder om hul waardes te verloor. Ons het onder andere die vermoë nodig om inligting vinnig te verwerk en onmiddellik te besluit oor die toepaslike plan van aksie. Dit is wat die leierskap van die AGS gedoen het na afloop van die afkondiging van ‘n ramptoestand en die daaropvolgende nasionale inperking. Ons het op 17 Maart 2020 kommunikasie uitgereik aan alle AGS-strukture oor wat hulle moes doen. Meeste van die inhoud van hierdie kommunikasie het onbelangrik geraak na die afkondiging van ‘n ramptoestand op 23 Maart 2020. Op 24 Maart 2020 het ons die kommunikasie van 17 Maart 2020 opgedateer.

“Hoe ons optree voor die wat ons lei is belangrik.”

Leierskap Kalmte

In krisisse soos die koronavirus moet ons kalm, rasioneel en gefokus bly. Baie mense verloor hul kalmte en begin paniekerig raak in ‘n krisistyd. Dit is te verstane. Daar word egter verwag dat leiers ‘n houding van kalmte moet aanneem. Op hierdie manier kan ons reflekteer en ons gedagtes toepas op positiewe aksies. Hoe ons optree voor die wat ons lei is belangrik. Ons moet ons self gelukkig ag omdat daar nie ‘n tekort aan inligting oor Covid-19 is nie. Wanneer ‘n besluit oor ‘n bepaalde aksie geneem word moet dit duidelik gekommunikeer word.

Leierskap Aanpasbaarheid

Teen Junie verlede jaar het niemand van ons gepraat oor sosiale afstand, gereelde was van hande, saniteerders en gesigmaskers soos ons vandag doen nie. Een van die lesse wat ons kan leer uit die koronavirus is dat leiers die nodige gedragsverandering moet aangryp om ‘n slegte situasie te vermy. Sommige van die besluite wat ons geneem het hou verband met die aanpassing of staking van sommige van ons liturgiese praktyke soos die opleg van hande op siekes en tydens die toewyding van kinders, die gebruik van nagmaal en die waterdoop. Enige gedrag wat die risiko van infeksie sou verhoog moes verander of gestaak word. Gedragsverandering is nie maklik nie, want dit verg ‘n verandering in ons denke. In isiXhosa sê ons: “Isiqhelo soyisa ingqondo” wat rofweg vertaal kan word as “die gewoonte verower die gees”. Standvastige besluite moet geneem word as dit kom by die verandering van menslike gedrag.

Tydens Vlak 5 inperkings het baie pastore sosiale netwerkplatforms soos WhatsApp, Facebook, Skype en Zoom gebruik vir kommunikasie en bediening. Ek was nog nooit deel van soveel virtuele vergaderings en konferensies soos tydens die nasionale inperking nie.

Leierskap Empatie 

Covid-19 het ‘n bedreiging vir ons oorlewing geword. Sommige van die vrae wat dwaal in baie mense se gedagtes is:  Sal ek die infeksie kry? Sal ek my werk verloor? Wat gaan met my gesin gebeur?  Aan die ander kant is daar baie mense wat alreeds hul werk verloor het en baie wat geliefdes moes afstaan aan die pandemie. Om met empatie langs die mense te loop wat negatief deur die virus beïnvloed is kan ‘n positiewe verskil in hul lewens maak.

GELEENTHEDE IN ‘N KRISIS

Past. B. Petersen (Algemene Tesourier van die AGS van SA) – barend@afm-ags.org 

Die Bybel leer ons dat dit nie veel help as ons swak is in ‘n krisistyd nie. Trouens, Salomo het gesê dat om op te tree met swakheid in ‘n krisis ‘n teken is van baie min krag. ‘n Krisis kan deur sommige of al die volgende komponente geïdentifiseer word – bedreiging, verrassing, dringendheid en onsekerheid. Die pandemie wat op ons gebring is deur die nuwe koronavirus en die siekte genaamd Covid-19 kan inderdaad beskryf word as ‘n krisis van katastrofiese proporsies wat al die bogenoemde komponente bevat. Dit het nie net die manier waarop ons die lewe ken uitgedaag nie, maar ook ons vermoë om geleenthede in ‘n krisistyd te sien.

Die lewe soos ons dit geken het

Aanvanklik moet gesê word dat die kerk ‘n plek is waar ons vertroosting vind in die teenwoordigheid van die Here en gelowiges.  Die plek waar ons vermoeide siele herstel word, ons hoop hernu word en waar ons herinner word aan 1 Petrus 1:7 “…sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie meer kosbaar as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eerwaardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

In Hebreërs word die gelowiges aangemoedig om hul byeenkomste nie te verwaarloos nie, maar is veronderstel om mekaar aan te moedig om gereeld in die huis van die Here te vergader, veral met die dag van sy wederkoms wat nader kom! Dus om Sondae, en selfs in die week kerk toe te gaan, is deur gelowiges gesien as hul Christelike plig. Die gemeenskap en die byeenkoms van die heiliges is nie ‘n geringe saak vir God se kinders nie en baie van ons het gewoond geraak en gemaklik geraak met die werking van die kerk. Sodoende het ons God beperk tot ons bestaande paradigmas.

Ingeperk en uitgesluit

Toe die Suid-Afrikaanse nasie om middernag op 26 Maart 2020 in totale inperking gegaan het, kon niemand in enige lewenssone bly soos ons dit ken nie. Almal is onbewustelik vervreemd van dit waaraan hul gewoond was en byna oornag het die hele wêreld ‘n vreemde plek geword. Daar was ‘n skielike einde aan al die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar het. ‘n Besoek aan die gimnasium, die haarkapper en ‘n winkelsentrum. Bestelling van ‘n wegneemete of gaan sit by jou gunsteling restaurant. ‘n Besoek aan vriende en familie, bywoon van partytjies en begrafnisse, selfs kerk toe gaan – geen meer lewe soos ons dit geken het nie.

Die impak op die kerk

Die impak op plaaslike kerke is op verskillende maniere gevoel. Soos reeds genoem was daar die verlies aan gemeenskaplike aanbidding en samesyn. Die uitdaging was daar om aan te pas deur nuwe en vreemde maniere te gebruik om kerkdienste te hou. Nie almal was opgewonde daaroor om preke via WhatsApp en die ander sosiale netwerke te ontvang nie. Buitendien kan almal ook nie lugtyd en data bekostig nie. Daar is ook nie die geleendheid op Sondae om tiendes te bring na die stoorkamers van die Here nie. En hoeveel mense sal die moeite doen om tiendes op vreemde en nuwe maniere te gee? Die resultaat – die inkomste van die kerk is ook negatief beïnvloed.

“Die pogings van die hede het altyd ‘n impak op die toekoms.”

‘n Bybelse les

Daar is ‘n verhaal in Jeremia 29:4-7 oor diegene wat in Babilloniese ballingskap weggevoer is. Die mense wat in ballingskap in Babillon was is ook deur al die elemente van ‘n krisis oorkom. Hulle het ook gehoop en gebid dat die krisis binnekort verby sou wees. Dat hulle vinnig sal kan terugkeer huis toe. Maar God het hulle anders geadviseer. Neem die langer siening, is aan hulle gesê: “Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange”. God het aan hulle opdrag gegee om hul eie tuine te plant en van die opbrengs daarvan te leef. Om na die toekoms te kyk. Die pogings van die hede het altyd ‘n impak op die toekoms. Om niks te doen nie is nie ‘n opsie nie. Maar wat kan gedoen word? Hoe kan ons vandag bou om ‘n volhoubare toekoms te verseker?

Gemeenskapsbetrokkenheid en sosio-ekonomiese geleenthede

Pastore en gemeentes kan dit oorweeg om hul impak op hul omliggende gemeenskappe te verbreed deur sosio-ekonomiese programme in plek te stel wat inkomstepotensiaal en/of werkskeppingsgeleenthede kan voortbring. Sulke programme kan die volgende insluit:

  • Kinder- en jeugsorgsentrums en pleeghuise.
  • Inloop sentrums vir kinders.
  • Versorging en ondersteuning van bejaardes by instellings en gemeenskappe.
  • Versorging en ondersteuning van persone met gestremdhede, geslagsgebaseerde geweld, huishoudelike geweld, ondersteuningsdienste en skuilings.
  • Ontwikkelingsentrums vir vroeë kinderontwikkeling.
  • Geletterdheidsprogramme.
  • Dwelm rehabilitasiesentrums en gemeenskapsgebaseerde programme.
  • Verligting van armoede en werkskepping.

Om AGS Gemeentes te help, het die AFM Welfare uitgebreide ervaring en materiaal om tegniese ondersteuning te bied met die instelling, ontwikkeling en verskaffing van programme en projekte (veral waar befondsing benodig word deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en ander bronne). Die hulp sluit leiding in oor die beleid en wetlike raamwerk, begrip van die vereistes en die registrasie proses wat verband hou met ‘n NPO (nie-winsgewende organisasie), sowel as ‘n aangewese diens. Daar moet ook gekyk word na die samewerking met bestaande NPO’s.

Ek bid dat God kreatiewe insig en wysheid sal gee..”

Toe Moses voor die Rooi See gaan staan en die leërs van Egipte agter hom was, vra die Here vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” Ek bid dat God kreatiewe insig en wysheid sal gee oor hoe om dit wat Hy in ons hande geplaas het toe te pas om te voldoen aan die vereistes wat ons vandag en in die toekoms in die gesig staar.

DIE KERK VAN DIE TOEKOMS
Dr. H.J. Weideman (Algemene Sekretaris van die AGS van SA) – henri@afm-ags.org  

Soos wat kerkgeboue en in-persoon byeenkomste begin oopmaak, word dit al hoe duideliker dat ons ‘n nuwe realiteit betree en dat baie aspekte van ons alledaagse lewe verander en waarskynlik nooit weer dieselfde sal wees nie. Dit sluit in die manier hoe ons oor kerk dink en in die toekoms sal kerk hou. Nadat ek die realiteite in ons gemeentes landswyd dopgehou het, opgelees het oor wat ander in die wêreld daaroor sê en daaroor gedink en gebid het, het ek enkele opmerkings om te maak.

Dit is nodig dat ons t.o.v. verskeie aspekte van kerkwees en kerkhou die “reset” knoppie sal druk.”

Dit is nodig dat ons t.o.v. verskeie aspekte van kerkwees en kerkhou die “reset” knoppie sal druk. Baie gemeentes kon glad nie gedurende die inperkingstyd kerk hou nie. Vir party het die feit dat kerkgeboue gesluit was, beteken dat die gemeente vir alle praktiese redes opgehou het om te funksioneer. Lidmate het geen geestelike insette ontvang nie en baie het geen kontak met hulle pastoor of geestelike leiers gehad nie. Sommige van hierdie gemeentes se enigste bron van inkomste was deur middel van die offerhandes wat lidmate fisies na byeenkomste bring en a.g.v. die inperking het dit gestop.

Alhoewel in-persoon byeenkomste gesluit is, kon sommige gemeentes aanlyn dienste hou en gebruik maak van preke en liedjies wat in die huise van pastore en sangers opgeneem is. Party gemeentes het ook platforms soos Zoom, Facebook en WhatsApp gebruik om kontak te maak en te kommunikeer met hul lidmate.

Meeste pastore en baie lidmate is gretig om hulle normale manier van kerkhou te hervat. Daar is egter ‘n paar aspekte waaroor ons moet dink en vrae t.o.v. die toekoms wat ons moet beantwoord.

Wat is die belangrikste elemente van in-persoon byeenkomste? 

Gedurende die eerste paar weke van inperking het baie gemeentes wat aanlyn kerkdienste aangebied het, ‘n toename in bywoning ervaar. Sommige het meer mense bereik as wat hulle gewoonlik met hulle in-persoon dienste doen. Na omtrent agt weke het baie van hierdie gemeentes ‘n plato of selfs ‘n afname in bywoning beleef.

Digitale teenwoordigheid vir die kerk is hier om te bly, maar baie mense verlang na ‘n in-persoon belewenis in ‘n plek van aanbidding en ons moet vra, hoekom?”

Dit stem ooreen met opnames in die VSA waar byna helfte van kerkgangers na sowat twee maande van inperking  geen aanlyn byeenkomste meer bygewoon het nie. Digitale teenwoordigheid vir die kerk is hier om te bly, maar baie mense verlang na ‘n in-persoon belewenis in ‘n plek van aanbidding en ons moet vra, hoekom? Wat kry mense uit ‘n in-persoon byeenkoms wat hulle nie aanlyn kry nie?  Ons moet daardie elemente identifiseer en seker maak dat ons hulle versterk. Na my mening is sommige hiervan die gesamentlike sang, aanbidding en korporatiewe gebed, sowel as sosiale “kuiertyd” voor en na dienste.

Hoe kan mense bereik en bedien word buite in-persoon byeenkomste? 

Oorbrug die digitale skeidslyn:

Baie gemeentes sal die brug moet oorsteek na digitale tegnologie, sosiale media en aanlyn teenwoordigheid om effektief uit te reik na hulle lidmate en om volhoubaar te groei in die toekoms. Die Kerk sal voortbestaan, maar ongelukkig sal alle gemeentes nie voortbestaan nie. Ek stem nie heeltemal saam met die mening dat kerke in die toekoms digitale organisasies sal wees met fisiese uitdrukkings nie. Ek is egter oortuig dat pastore en gemeentes kennis moet neem van die geweldige geleentheid wat digitale teenwoordigheid aan die kerk bied om mense oral te bereik. Sosiale media en aanlyn platforms skep die geleentheid om daagliks teenwoordig te wees in die lewens van mense en nie net op Sondae nie. Hierdie geleentheid sal aanhou groei en behoort ‘n manier te word waarop mense in die kerk kan inkom. Dit moet nie net ‘n laaste uitweg wees vir mense wat die kerk verlaat het, soos wat dit in die onlangse verlede was nie.

Sosiale media en aanlyn platforms skep die geleentheid om daagliks teenwoordig te wees in die lewens van mense en nie net op Sondae nie.”

Die kerk wat regtig omgee vir mense, veral vir jongmense, sal in die toekoms ook hulle digitale teenwoordigheid belangrik ag. Ons moet ook kennis neem dat jy nie ‘n groot gemeente of ‘n groot begroting nodig het om ‘n aanlyn impak te maak nie.  Al wat nodig is, is ‘n bereidheid om tegnologie te omarm en te eksperimenteer met beskikbare opsies.

Beskikbaarheid op-aanvraag: Gemeentes wat reeds voor of tydens die inperking ‘n digitale teenwoordigheid ontwikkel het moet die geleentheid aangryp om dit verder uit te brei. Baie gemeentes bied hulle Sondagdienste of mid-week byeenkomste as “lewendige” (“live”) geleenthede aan en veronderstel dat mense wat toegang daartoe wil hê, dit op ‘n bepaalde tyd sal doen.

Die mees suksesvolle digitale platforms bied hulle produk op-aanvraag (“on demand”) aan en kerke kan daaruit leer. Oorweeg dit om elke in-persoon byeenkoms aanlyn beskikbaar te maak, soos en wanneer dit lidmate en besoekers pas. Baie pastore en gemeentes het jare se preke, preekreekse en leringe beskikbaar op MP4 of YouTube videos en moet dit oorweeg om dit ook op aanvraag beskikbaar te stel.

Tuisgebaseerde geestelike formasie: Dit is goed om te sien dat sommige gemeentes begin fokus op ‘n elke-dag-van-die-week benadering tot bediening en nie net op Sondae nie. Die konsep van “op-aanvraag” beskikbaarheid van preke, toerustingsgeleenthede en Bybelstudies kan uitgebrei word om ander elemente soos nuwe-lidmaat oriëntering, geestelikegroei- en huweliksverrykings kursusse ten volle of gedeeltelik, aanlyn beskikbaar te stel.

Dit kan individue in staat stel om die materiaal op hulle eie tyd tuis deur te werk en slegs die laaste sessie/s in persoon dan by te woon. Op hierdie manier kan mense ondersteun word om verantwoordelikheid vir hulle eie geestelike groei, persoonlike dissipelskap en evangelisasie te neem.

Wat is die kern elemente en beginsels van kerkwees?

Oor die laaste paar dekades het kerke instellings geword met diep gewortelde kulture en gevestigde maniere van doen. Baie gemeentes het verskeie departemente, bedieninge en belangstellingsvelde ontwikkel. Sommige is so gediversifiseerd dat dit soms moeilik is om sonder meer te bepaal wat hulle kernfokus is. Die pandemie bied ons die geleentheid en dalk die noodsaaklikheid om terug te gaan na sogenaamde zero-gebaseerde denke: Om onsself en ons gemeentes terug te plaas by die punt net voor bepaalde besluite t.o.v. departemente, bedieninge, gemeentekultuur en daaglikse bedrywighede geneem is en om nou in die lig van huidige omstandighede en beskikbare inligting, daardie besluite (weer) vrylik te neem.

Kerkwees gaan oor meer as net wat tussen die vier mure van kerkgeboue gebeur. Huise, woonbuurte en gemeenskappe is deel van ons bedieningsveld. ‘n Belangrike opmerking ten opsigte hiervan is om te verseker dat alhoewel metodes en modelle moet verander, gemeentes se missie dieselfde bly.

Huise, woonbuurte en gemeenskappe is deel van ons bedieningsveld.”

Op wat behoort gemeentes geld te spandeer?

Virtuele vergaderings het letterlik oornag die nuwe manier van vergadering hou geword. Alles dui daarop dat dit deel van die “nuwe normaal” gaan wees en dat baie personeelvergaderings en selfs die van strukture op gemeente-, streek- en nasionale vlak in die toekoms so gehou sal kan word. Dit kan lei tot redelike begrotings besparings, terwyl gemeentes dit behoort te oorweeg om ‘n deel van hulle begroting toe te wys aan die opgradering van hulle digitale vermoë en -bediening.

‘n Verdere implikasie hiervan is dat personeellede wat die toerusting het, virtueel kan werk. Dit is ‘n tendens wat waarskynlik sal toeneem in baie maatskappye en gemeentes behoort ook daarby baat te vind. Die kern kwessie sal produktiwiteit wees en ook hulle beskikbaarheid om die nodige aandag en fokus aan hulle werk te gee, al werk hulle van die huis af.

Een van die belangrikste aksies wat gemeentes moet neem, is om te bepaal wat regtig noodsaaklik is vir hulle funksionering as gemeente en wat net “lekker is om te hê”, veral in die lig daarvan dat die inkomste van baie gemeentes onder druk is.

Sources: “Disruptive church trends every church leader should watch.”  – Carey Nieuwhof & “How COVID-19 Is Shaping the Future of the Church.” – Carey Nieuwhof & “Moving Forward: Future Church Trends.” -Anthony Hilder & “Five early findings from churches that are regathering.” -Thom Rainer.

SLOT

Terwyl ons deur die verskillende fases van die Covid-19 pandemie gaan, moet ons bewus wees daarvan dat die her-opening van kerkgeboue nie noodwendig ‘n toestroming van mense beteken nie, in elk geval nie nou al nie. Wêreldwye opnames wys dat mense uiteenlopende opinies het t.o.v. wanneer hulle “veilig” sal voel om weer bymekaar te kom.

Dit blyk dat sowat 30% van respondente eers sal terugkeer kerk toe wanneer hulle nie maskers hoef te dra nie en 15% sê hulle sal eers kerk toe kom wanneer gevalle laag is, besighede oopmaak, beperkinge opgehef word en ‘n teenmiddel beskikbaar is. Rondom 8% sê dat die oopmaak van restaurante vir aansit-kliënte vir hulle ‘n riglyn sal wees. As kerkleiers moet ons nie hierdie tendense as emosionele laagtepunte beleef nie en moet ons ook daarteen waak om mense wat versigtig is t.o.v. bywoning, te behandel asof hulle minder geloof het.

Een ding is seker: Ons betreë ‘n nuwe realiteit en baie mense, selfs leiers sukkel, op ’n dieper vlak as wat ons besef, met die afwesigheid van dit wat die meeste van ons tot onlangs as “normaal” beleef het.  Dit is belangrik dat ons hieroor sal praat met ons familie, vriende en kollegas. Ons moet hieroor bid en dink en onsself voorberei op ‘n langer tydperk van ontwrigting as wat ons gedink het.

Past. M.G. Mahlobo
Spread the word...