Pastorale Brief: 1ste Kwartaal (2023)

Laai die PDF-weergawe hier af (om maklik te e-pos of uit te druk):

AGS Pastorale Brief_1ste Kwartaal_2023

INLEIDING

AGS Familie,

Aan die einde van 2022, gedurende ons tyd van gebed en nadenke het die Nasionale Ampsdraers gelei gevoel om in 2023 te fokus op die bevestiging en versterking van die Geestelike onderbou van Missionaliteit. Ons het besluit om tyd te spandeer aan wie ons as Heilige Gees vervulde mense en kerk is en hoe ons (behoort te) leef. Tydens die Streekbemagtigingsbesoeke, fokus ons op die tema: HOU DIE VUUR AAN DIE BRAND (“Keep the Fire burning”). Ons deel meer oor ons roeping as gelowiges en pastore; ons geestelike dissipline en bedieningsgetrouheid (insluitende tyd met die Woord en in gebed); die karakter, waardes en norme van Heilige Gees vervulde mense; so wel as ons finansies.

Al die artikels in hierdie uitgawe fokus op die geestelike onderbou van ‘n missionale leefstyl.

Die karakter, waardes en norme van Heilige Gees vervulde mense is sleutelaspekte van die getuienis van ons beweging, asook van die lewenstyl van elke individuele volgeling van Jesus.

    • Karakter verwys na die geestelike, morele en etiese eienskappe en oortuigings van ‘n individu. Dit gaan oor die manier waarop iemand dink, voel en optree.
    • Waardes gaan oor wat jy as belangrik, bruikbaar en van waarde ag.
    • Norme verwys na dit wat ‘n individu of groep beskou as die standaard of aanvaarbare manier waarvolgens iets gedoen word.

In die konteks van die wêreld en die samelewing waarin ons leef, moet ons onsself vra of daar ‘n verskil moet wees tussen die karakter, waardes en norme van ‘n Heilige Gees vervulde persoon en ‘n persoon wat nie met die Heilige Gees vervul is nie. Met ander woorde: Moet ‘n Heilige Gees vervulde mens anders dink oor die lewe, oor wat belangrik en aanvaarbaar is? Moet ‘n Heilige Gees vervulde persoon anders optree? Moet hy/sy emosies anders hanteer en anders praat? Of is daar geen verskil nie?

As daar ‘n verskil is, wat behoort dit wees?

As ons na die geskiedenis kyk, sien ons dat toe daar ‘n behoefte was om diakens aan te stel om in die eerste kerk in Jerusalem te dien, die vereistes wat die twaalf dissipels gestel het, soos volg in Handelinge 6:3 opgeteken is: “…Kies sewe mans onder julle wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het” (NLV). Die New King James weergawe vertaal dit as: “…men of good reputation, full of the Holy Spirit and wisdom.” Die Amplified Bible verwys na mense met “Godly character and moral integrity…”. Dit blyk dat daar iets kenmerkend en opvallend was aan mense wat vol van die Heilige Gees was. Wanneer jy met hulle omgegaan het, het jy iets anders waargeneem en gehoor.

“Die gedagtes en gedrag van Heilige Gees vervulde mense is onder leiding van die Heilige Gees.”

In Efesiërs 3:16 skryf Paulus oor ons geestelike natuur, ons emosies, ons innerlike wese, die kern van wie ons as mense is, wat deur die Heilige Gees opgebou en versterk word. Die gedagtes en gedrag van Heilige Gees vervulde mense is onder leiding van die Heilige Gees. In Romeine 8:9 sê Paulus dat as die Heilige Gees in ons woon, ons nie deur ‘n sondige natuur beheer word nie, maar deur die Heilige Gees. Daar is ‘n ander operasionele stelsel aan die werk in Heilige Gees vervulde mense.

In 2 Tessalonisense 2:13 praat Paulus oor die heiligmakende werk van die Heilige Gees. Dit produseer gedragseienskappe wat verteenwoordigend is van Jesus, in Heilige Gees vervulde mense. Daar word soms na hierdie eienskappe verwys as “Die vrug van die Gees.” Galasiërs 5:22-23 definieer dit as: Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Goedheid, Getrouheid, Sagmoedigheid en Selfbeheersing.

Ons leef in ‘n wêreld van baie nabootsings. Dit blyk dat daar ‘n vervalste produk beskikbaar is vir alles wat werklik waardevol is. Kan dit ook so wees met die Heilige Gees? Kan mense daarop aanspraak maak dat hulle geestelik is, maar nie die ware krag en wese daarvan reflekteer nie? Kan dit wees dat hulle gedrag, die manier waarop hulle dink, leef en optree – die beeld wat hulle het om Heilige Gees vervulde mense te wees, tot niet maak?

Dit mag nooit van ons waar wees nie. Mag ons pastore, gemeenteleiers en al ons lidmate bekend wees as manne en vroue wat vol van die Heilige Gees is.

God se “roeping” is ’n ope uitnodiging tot redding aan al die verlorenes om na Hom toe te kom om gered te word (Matt 9:13; Matt 9:9-13; Markus 2:17). Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” Hy het toe opgestaan en Hom gevolg. Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

“As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!” (1 Korintiërs 9:16; AFR83). Paulus se taalgebruik eggo die taal wat soms deur profete gebruik was in reaksie op die lyding wat hulle of ander ervaar het as gevolg van hulle profetiese bediening, en weerspieël die profetiese roeping op sy lewe. Sy ervaring van die verkondiging van die evangelie, is soos die ervaring van daardie Ou-Testamentiese profete wat verplig gevoel het om die Goddelike boodskap wat aan hulle toevertrou is oor te dra, ongeag hul eie begeerte, of gebrek aan begeerte om dit te doen.

Sodra ons die roeping aanvaar het, word die krag van God in ons vrygestel.
1 Korintiërs 1:24 (AFR83) sê: “…maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.” “God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.” (1 Korintiërs 1:9; AFR83). Die krag van God werk in ons om ons toe te rus vir die taak wat voorlê om meer as oorwinnaars te wees in alle aspekte van die lewe, aangesien ons alles kan doen deur Christus wat ons versterk.

Wandel waardig van jou roeping.
Vir ons om getrou te bly aan ons roeping, moet ons besef dat dit nie meer nodig is om “ons plek te verdien” nie. Ons is vrygemaak van enige vorm van ‘n minderwaardige lewe en is nou in staat om ons lewens volgens die standaard van Jesus Christus te leef. Paulus gee die eerste drie hoofstukke in Efesiërs om die waarheid vas te stel dat ons “in Christus” gevind word en daag ons dan uit om volgens daardie roeping te lewe: “Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.  Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.” (Efesiërs 4:1-3; AFR83).

Maak ‘n impak en verskil in ander se lewens.
Want ons is vir God die geur van Christus onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan. Vir die een is ons die geur van die dood wat tot die dood lei, en vir die ander die geur van die lewe wat tot die lewe lei (2 Korintiërs 2:15-16). Die lewegewende volgeling wat luister na die roepstem van God, is die een wie se hart altyd dors is na God, wie se siel altyd smag om God te soek en te volg, wie se oog alleen op God gerig is en in wie deur die krag van God se Gees, die vlees en die wêreld gekruisig het. Ons lewens moet wees soos die vrygewige vloed van ‘n lewegewende rivier. Ek sluit af met ‘n gebed wat ons gewoonlik sing:

“Touch my life Lord Jesus, with thy nail scared hand, as for Thee I live and daily take my stand, let my life overflow so that others may know, Thou has touched my life with thy nail scared hand.”

As Nasionale Ampsdraers het ons hierdie jaar verklaar as ‘n seisoen om die vuur van die Heilige Gees aan die brand te hou deur te fokus op gebed, vas en die kennis van God se Woord. Ons geestelike lewe is gekoppel aan toewyding in gebed en die bediening van die Woord van God, soos aangedui in Handelinge 6:4 (AFR83): “Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.” Die Apostels het hulleself gewy “…aan gebed en die bediening van die woord…”. Die volgorde is betekenisvol – eerste gebed, dan die bediening van die Woord. Sonder die Here is daar geen bediening nie.

“Sonder die Here is daar geen bediening nie.”

Gebed (en Vas)

Geestelike werk hang af van geestelike “gereedskap”. Geen geestelike hulpmiddel is so betekenisvol of invloedryk soos gebed nie. Soos Andrew Murray ons herinner: “In spiritual work, everything depends upon prayer.” Ons moet geestelike impak maksimeer deur gebed te prioritiseer. Effektiewe geestelike leiers waardeer gebed as geestelike hulpmiddel.

“Hoe meer ons bid, hoe meer werk God.”

Hoe meer ons bid, hoe meer werk God. Wanneer ons bid begin dinge verander. “…en (toe) Hy (Jesus) besig was om te bid, het die hemel oopgegaan” (Lukas 3:21; AFR83). Elia was baie toegewyd aan gebed en “…was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie…” (Jakobus 5:17; AFR83). Ons moet altyd bid en nie ophou nie, “…dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie…” (Lukas 18:1; AFR83).

“Prayer is the determining factor…if we don’t, He won’t.” – Jack Hayford.

Vas en gebed is van kritieke belang vir ons geestelike lewens en hou die volgende voordele in:

    • Vas het die krag om God te behaag deur geregtigheid sigbaar te maak, genesing te laat kom en jouself te omring met God se heerlikheid. Dit lei tot verhoorde gebed (Jesaja 58:6–14).
    • Vas verhoog geestelike krag en berei jou voor vir groter impak. Jesus het veertig dae van gebed en vas beleef. Onmiddellik daarna sien ons hom preek met die krag van die Heilige Gees. (Lukas 4:1–14).
    • Vas is ‘n kragtige hulpmiddel in geestelike oorlogvoering. Nadat sy dissipels nie daarin geslaag het om ‘n demoon uit te dryf nie, het Jesus dit maklik gedoen. Toe het hy verduidelik: “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.” (Matteus 17:21).
    • Daniël se een-en-twintig dae van vas en gebed was nodig om die engel in sy opdrag te help om die antwoord op Daniël se gebede te lewer (Daniël 9:3–10:3). 

      Bediening van die Woord (Lees en herlees die teks)

      Die voormalige Pastoor van Westminster Chapel in Londen, G. Campbell Morgan, sou ‘n boek van die Bybel 50 keer lees voordat hy sy pen opgelig het ter voorbereiding van sy preek. Op daardie stadium het hy dinge in die teks begin sien wat hy die eerste paar keer toe hy deurgelees het, misgekyk het. As dienaars van God is ons verplig om die Woord van God te bestudeer, te onderrig en te verkondig. Die betrokke drievoudige bediening van die Woord sluit in:

      • Die bestudering van God se Woord (Esra 7:10; AFR83), “Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer.”
      • Om ander te leer van God se Woord (om te onderrig) vir die maak van dissipels, “…leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:20; AFR83).
      • Die prediking van God se Woord (2 Timoteus 4:2; AFR83), “…verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee.”

       

      Ten slotte sê ons: “Here, leer ons bid…” (Lukas 11:1; AFR83), en as God se diensknegte moet ons altyd deur God se Woord gevoed en onderhou word, want “…’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matteus 4:4; AFR83).

Baie van ons voel die druk van die finansiële situasie in ons land. Ons land is nie tans op ‘n goeie plek nie en baie besluite wat in die verlede geneem is, het ‘n nadelige uitwerking op ons almal. Maar dit beteken nie dat ons die slagoffers moet wees van wat rondom ons gebeur nie. Ons is kinders van die Magtige GOD wat hemel en aarde geskep het en ons leef in SY teenwoordigheid en onder SY beloftes. Hy is ten volle bewus van wat in ons wêreld gebeur. In hierdie situasie werk Hy nog steeds om ons te bevoordeel. Maar ons moet Sy aangesig en Sy leiding soek in ons finansies.

Die sagte stem van die Heilige Gees en die beginsels van die Bybel kan en sal jou en my deur moeilike tye lei. Ons land het situasies gehad wat in die verlede onoorkombaar gelyk het, maar die manne en vroue van GOD het op Hom vertrou om ons daardeur te lei.

Beginsel 1: Gee Jou Tiende

Een van die belangsrikste beginsels is om getrou te wees in die gee van jou tiende. Tiendes is nie ‘n geldkwessie nie, maar ‘n vertroue- en geloofskwessie. Deur jou tiende te gee, verklaar jy dat jy God vertrou om vir jou te voorsien en jou te help om met die oorblywende 90% baie verder te gaan as wat jy met jou volle salaris sou kon. Matteus 6:21 sê “…daar waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees”. Tiendes toets waar my hart is. Ek is seker dat baie van julle wonderlike getuienisse het van wonderwerke wat God in jou eie lewe en die lewens van mense rondom jou gedoen het. In moeilike tye sal die gedagte by jou opkom om tiendes te stop. Moet asseblief nie in hierdie strik trap nie, want jou tiende is ook die saad wat sal opkom en jou voorsiening van seën in die toekoms sal wees. As jy jou saad eet, maak jy jou toekomstige seën dood.

“Tiendes toets waar my hart is.”

Beginsel 2: Spandeer Verstandig

In tye soos hierdie moet ons ook by die gewoonte hou om verstandig te bestee. Wees versigtig hoe jy jou geld spandeer en moenie agter elke nuwe gier of geur aanhardloop net om populêr te bly nie. Wees liewer meer konserwatief en koop goed wat jy nodig het en lank sal hou. Wees baie versigtig vir misleidende verkoopstaktieke wat jou wil oortuig dat jou lewe nie dieselfde sal wees sonder hierdie produk of diens nie. Ons het die God van hemel en aarde in ons lewens, en dit sy teenwoordigheid help ons om tevrede te leef. Hebreërs 13:5 sê: “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Soms moet ons daaraan herinner word dat hierdie aardse wêreld eendag sal verbygaan en ons sal niks kan saamneem graf toe nie – maar ons kroon wag vir ons.

Beginsel 3: Spaar Ywerig

Om ywerig te spaar is nog ‘n goeie gewoonte wat ons in plek moet hou. As ons ywerig spaar, sal ons altyd genoeg hê wanneer moeilike tye kom. Vir die meeste van ons kom spaar nie natuurlik nie. Ons moet dit egter beplan en uitvoer, maar as die gewoonte inskop kry jy die wonderlike gevoel dat jy reg is vir ‘n reënerige dag.

Beginsel 4: Leef Vrygewig

Laastens, leef vrygewig. Dit sal selfsug in jou lewe doodmaak en jou help om ‘n seën vir ander te wees. As jy iemand kan help, help hulle! Moenie doekies omdraai nie, want wat jy aan die minste doen, sal God jou voor beloon. My gebed is dat 2023 ‘n jaar van oorvloed in jou lewe sal wees.

Op die 25ste Mei 2023 vier ons ons kerk se 115de verjaarsdag herdenking. Soos die vorige jaar beplan ons weer ‘n AGS Embleem dag waar ons graag al ons gemeentes en lidmate wil aanmoedig om die AGS embleem oral te deel en ten toon te stel! Dit was so ‘n seën verlede jaar om die hoë vlakke van deelname en reaksie van ons kerk te aanskou.

Hierdie jaar voeg ons ‘n verdere element by saam met die AGS Embleem dag – op hierdie dag versoek ons ​​ook dat elke lidmaat van die AGS Familie sal uitreik na net een ander persoon en die liefde van Christus met hulle sal deel. Dit kan ‘n persoonlike ontmoeting of ‘n oproep oor Whatsapp wees. Dit kan iemand wees wat jy ken of ‘n totale vreemdeling. Mens kan jou net indink wat die impak kan wees wanneer elke AGS-lidmaat sy/haar roeping as ‘n boodskapper van Christus opneem – om Sy liefde met net een ander persoon te deel.

Die Nasionale Ampsdraers gaan vyf videogrepe vry stel wat praktiese riglyne sal verskaf oor hoe om Christus met ‘n ander persoon te deel. Ons sien uit daarna om die AGS van SA se 115de verjaarsdag herdenking te vier en beplan om die vuur aan die brand te hou (“Keep the Fire Burning”)!

Vriendelike Groete
Henri Weideman

Spread the word...