Laai die PDF-weergawe hier af (om maklik te e-pos of uit te druk):
AGS Pastorale Brief: 1ste Kwartaal 2022
– STRATEGIESE MISSIONALE VOORNEME
– MISSIONALITEIT & GOEIE BESTUUR
– FINANSIËLE RENTMEESTERSKAP
– SLOT
Liewe AGS Familie,
Dit is ‘n voorreg om hierdie eerste Pastorale Nuusbrief in my hoedanigheid as President van die AGS van Suid-Afrika te skryf. Dankie vir jou welwillendheid en deurlopende gebede vir die nuutverkose Nasionale Ampsdraers (NOB). Ons sal hard werk om ‘n positiewe bydrae te maak tot die verwesenliking van die bestaansdoel van die AGS kerk as deel van die Koninkryk van God. In hierdie uitgawe word aandag gegee aan die strategiese missionale doelstellings van die NOB vir die volgende drie jaar, soos voorgehou aan en goedgekeur deur die Maart 2022 NLF. Die brief bevat ook artikels oor bestuur en missionaliteit, sowel as finansiële rentmeesterskap.
Neem asseblief kennis van die volgende t.o.v. die bygewerkte Covid-19-regulasies soos gepubliseer in die Staatskoerant van 23 Maart 2022, en aan alle NLF-lede gestuur:
- Die AGS sal nie ons gemeentes of lidmate dwing om ingeënt te word en bewys daarvan te lewer om by 50% besetting van geboukapasiteit uit te kom nie. In hierdie verband handhaaf ons die beginsel van vryheid van keuse, soos voorheen deur ons in vergaderings met die SA Regering gekommunikeer is.
- Die praktiese implikasie hiervan is dat byeenkomste “beperk is tot 1000 persone of minder vir binnenshuise lokale en 2000 persone of minder vir buitelokale en as die lokaal te klein is om die voorgeskrewe aantal persone wat ‘n afstand van minstens een meter van mekaar waarneem, te hou, mag nie meer as 50 persent van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie, onderworpe aan streng nakoming van alle gesondheidsprotokolle en sosiale distansiëringsmaatreëls.
- Bywoning van ‘n begrafnis en verassing is beperk tot 200 persone of minder en indien die lokaal te klein is om die voorgeskrewe aantal persone wat ‘n afstand van minstens een meter van mekaar nakom, te hou, mag nie meer as 50 persent van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie, onderhewig aan streng nakoming van alle gesondheidsprotokolle.”
Dit sluit in die handhawing van ‘n afstand van een meter tussen mense, die dra van maskers binne en die gereelde ontsmetting van hande.
STRATEGIESE MISSIONALE VOORNEME
Dr H.J. Weideman (President van die AGS van SA)
Die Nasionale Ampsdraers (NOB) het drie dae in Januarie en Februarie 2022 opsy gesit om doelbewus te besin en te bid oor ons Strategiese Missionale Voorneme vir die volgende drie jaar. Ons het ook besin oor die konteks waarin ons onsself as ‘n kerk bevind, veral ten opsigte van die wêreld, ons eie land en die kerk in die algemeen. In hierdie verband vorm die volgende ‘n integrale deel van ons huidige werklikheid:
Die Konteks Van Suid Afrika
- Die verwoesting wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is. Hierby kan ons die oorlog in die Oekraïne, die politieke spanning tussen die Weste en Rusland, sowel as die gepaardgaande verwoesting en onsekerheid byvoeg.
- Die diep armoede, werkloosheid, ongelykheid en lae ekonomiese groei in ons land.
- Onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening.
- Ondoeltreffende hawens en spoorweë, insluitend die passasierstrein netwerk.
- Die gevolge van staatskaping en korrupsie.
- Die stadige skuif van analoog na digitale telekommunikasie en breëband infrastruktuur.
- Onvoldoende belegging in waterhulpbron onderhoud en die verbetering van watersekuriteit.
- Die gevolge van klimaatsverandering.
- Die vermoë van ons gewapende magte.
- Wydverspreide misdaad.
Die staatspresident, Mnr Cyril Ramaphosa, het in sy staatsrede genoem dat ons ‘n “…nuwe konsensus benodig wat gedeelde verantwoordelikheid teenoor mekaar omhels en waarin ons erken dat ons almal saam hier in is.” Hy het ook gesê dat: “Om effektief te wees in hierdie sosiale ooreenkomste, moet ons elke Suid-Afrikaner en elke deel van die samelewing insluit.” Ons moet vra of ons werklik onsself beskou as deel van die Suid-Afrikaanse samelewing, en indien wel, wat ons as die AGS-kerk in ons onderskeie dorpe en stede doen om by te dra tot die oplossings.
Die Toestand van die Kerk
Tydens ons strategiese sessie het die NOB die huidige situasie en konteks waarin die kerk(e) in Suid-Afrika haarself bevind, oordink. Ons het opgemerk dat die kerk in die algemeen:
- Afwesig is in die morele en profetiese ruimte en stem wat dit gehad het.
- In baie opsigte gekompromitteer is t.o.v. die vermoë om die waarheid voor te hou aan die regering van die dag.
- Daar te veel leiers is wat morele mislukking ervaar.
- Worstel met die gevolge van postmoderne tye en die pandemie.
- Nie voldoende gebruik maak van die geleenthede wat die huidige seisoen van onsekerheid en ‘n soeke na doel en hoop, bied nie.
Die uitdaging vir ons as die AGS van SA is om in die gaping in te tree en geestelike leierskap op nasionale, streeks- en plaaslike vlak te voorsien.
Strategiese Missionale Voorneme
Die NOB het beraadslaag en gebid oor kritieke fokus areas om die kerk suksesvol vorentoe te neem oor die volgende paar jaar. Die volgende Strategiese Missionale Voorneme, insluitende fokus areas, doelwitte en aksiestappe, sowel as die NOB-lid vir wie dit ‘n are van verantwoordelikheid sal wees, is voorgehou aan en goedgekeur deur die Maart 2022 Nasionale Leierskapsforum (NLF). (Vir die doeleindes van hierdie artikel is die tydlyne soos aan die NLF voorgelê, nie ingesluit nie.)
Regspleging (Pastoor B. Petersen)
Die fokus sal wees op die verkleining van risiko’s en die ontwikkeling van ‘n konsep dokument in die hersiening van die struktuur, beleid, funksionaliteit en opleiding t.o.v. die AGS se interne regspleging (Administration of Justice).
Kerkplanting en -groei (Pastoor B. Petersen)
Die planting en registrasie van 300 gemeentes oor die volgende drie jaar word in die vooruitsig gestel. Om dit te bereik, sal die konsep “kerk” ge(her)definiëer word, rolspelers betrek word, ‘n konsepdokument ontwikkel en tydlyne vasgestel word. ‘n Konsep-kerkplantingstrategie sal aan die NLF voorgelê word, gevolg deur implementering en monitering.
Kommunikasie (Pastoor M.S. Khumalo)
Hierdie fokusarea gaan oor die ontwikkeling van ‘n omvattende interne en eksterne kommunikasieplan. ‘n Konsepdokument sal ontwikkel word, gevolg deur interaksie met rolspelers en die voorlegging van ‘n konsepstrategie.
Voldoening aan relevante regulasies deur Gemeentes, Streke en Departemente
(Pastoor R.J. Coertzen)
Alle areas van voldoening sal gedefinieer en geassesseer word, insluitend statutêre nakoming en PBO – en NPO-status, waarna ‘n aksieplan ontwikkel sal word.
Verdieping en sigbare uitdrukking van Eenheid (Dr H.J. Weideman)
Die begrip, verwagtinge, vrese, suksesstories en moontlikhede van eenheid sal gedefinieer en geassesseer word deur interaksie met rolspelers. Dit sal gevolg word deur die ontwikkeling van ‘n strategie om eenheid na die volgende vlak te neem.
Departementele hervisionering en belyning (Pastoor B. Petersen)
‘n Konsepdokument sal ontwikkel word, rolspelers betrek word en ‘n konsepstrategie wat daarop gemik is om die effektiwiteit van ons departemente te versterk, aan die NLF voorgelê word.
Ekumeniese Betrokkenheid, Posisionering en Profetiese Stem
(Dr H.J. Weideman & Pastoor B. Petersen)
In hierdie verband sal die strategiese bedoeling van ons ekumeniese betrokkenheid, posisionering en profetiese stem gedefinieer word, en ‘n aksieplan sal daargestel word.
Onderwys en Opleiding (Dr H.J. Weideman)
‘n Ten volle funksionele AGS opleidingsinstelling word in die vooruitsig gestel. Aksies sal interaksie met rolspelers insluit en die strategiese bedoeling van opleiding in die AGS definieer. ‘n Konsepdokument, insluitend ‘n voorgestelde aksieplan en finansiële model sal voorgelê word aan die AGS se Opleidingsdepartement en die NLF.
Leierskap Ontwikkelingsprogram Geïmplementeer (Dr H.J. Weideman)
Die identifisering en intensionele ontwikkeling van +/- 80 potensiële leiers word in die vooruitsig gestel. Om dit te bereik, sal met rolspelers gesprek gevoer word, ‘n konsepdokument ontwikkel word, en ‘n konsep leierskap ontwikkelingsprogram aan die NLF voorgelê word.
Minimum Loon Implementering (Pastoor R.J. Coertzen)
NLF-besluite, feitlike realiteite en moontlikhede in hierdie verband sal bevestig en gemoniteer word, waarna ‘n voorstel ontwikkel sal word.
Welsynsdepartement Hersiening en Volhoubaarheid (Dr H.J. Weideman)
Die bedoeling en volhoubaarheid van die Welsyn sal ondersoek word, en rolspelers betrek word om ‘n konsep-strategieseplan te ontwikkel en aan die NLF voor te lê. Dit sal ‘n sakeplan en voorgestelde operasionele struktuur insluit.
Jeugretensie- en Kampusbedieningstrategie (Pastoor B. Petersen)
‘n Konsepdokument sal ontwikkel word, rolspelers betrek word en ‘n konsep- strategie t.o.v. hierdie baie belangrike fokusarea, aan die NLF voorgelê word.
Argiewe en Erfenis (Pastoor R.J. Coertzen)
‘n Konsepdokument oor die verbetering en inklusiwiteit van die argiewe en die bewaring van ons erfenis sal ontwikkel word. Rolspelers sal betrek word en ‘n konsep-strategie aan die NLF voorgehou word.
Kapelane (Pastoor R.J. Coertzen)
Die strategiese voorneme, funksionering en moontlikhede van die Kapelaanskapskomitee sal geassesseer word. Na interaksie met rolspelers, sal ‘n konsepdokument aan die NLF voorgelê word.
Litigasie (Pastoor R.J. Coertzen)
Die status van huidige siviele sake sal nagegaan word, en die nodige stappe geneem word. Rolspelers sal betrek word om te help om ‘n strategie oor die pad vorentoe te ontwikkel.
Pastorale Welstand (Pastoor M.S. Khumalo)
Bestaande dokumente oor Pastorale welstand sal geassesseer word en rolspelers betrek word, met die oog op die voorlegging van ‘n konsep-strategie aan die NLF oor die pad vorentoe.
“Ons het die gebede, ondersteuning en betrokkenheid van alle AGS-lede nodig, insluitend individue wat vaardig is in die bogenoemde areas.”
Die President, Vise-president en Hooftesourier sal elk vyf fokusareas hê, bo en behalwe hul normale verantwoordelikhede. Die Hoofsekretaris wat baie administratiewe verantwoordelikhede het, sal in hierdie stadium twee bykomende fokusareas hê. Alhoewel die NOB-lede verantwoordelikheid sal neem soos aangedui, kan ons dit nie alleen doen nie. Ons het die gebede, ondersteuning en betrokkenheid van alle AGS-lede nodig, insluitend individue wat vaardig is in die bogenoemde areas.
MISSIONALITEIT & GOEIE BESTUUR
Dr H.J. Weideman (President van die AGS van SA)
Die Verband tussen Goeie Bestuur en Missionaliteit
In 1 Korintiërs 4:1-2 (Afr83) sê Paulus: “So moet julle ons dan sien: Ons is dienaars van Christus en bestuurders (stewards) aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy (/sy) betroubaar moet wees.” Wanneer mense sien hoe ons onsself gedra, hoe ons praat, hoe ons onsself en die sake waarvoor ons verantwoordelikheid gegee is bestuur, moet hulle aan ons dink as goeie rentmeesters. Dit op sigself is praktiese missionalitiet: Ons rentmeesterskap van die eiendom, mense, finansies, vaardighede en area/s van verantwoordelikheid wat aan ons toevertrou is, is ‘n getuienis van ons oortuigings en identiteit as volgelinge van Jesus. Of daardie getuienis positief of negatief is, hang af van hoe goed ons rentmeesterskap is.
“Hoe ons onsself en ons gemeentes bestuur, verheerlik God en trek mense na Hom toe, of laat hulle telleurgesteld wegdraai.”
In die sakewêreld word die doeltreffendheid van ‘n bestuurstelsel dikwels gemeet aan die bereiking van die organisasie se missie en doelstellings. Dit geld ook vir ons as die kerk: Die kern van ons missie en bestaansdoel is om mense dissipels van Jesus te maak (Matt.28:19). Dit gebeur nie net van die kansel af of in een-tot-een gesprekke nie, maar ook deur middel van hoe ons onsself in ontspanning en in besigheid handhaaf en bestuur. Kerkbestuur op plaaslike, streeks- en nasionale vlak moet begelei word deur ‘n missionale begrip van kerkwees. Hoe ons onsself en ons gemeentes bestuur, verheerlik God en trek mense na Hom toe, of laat hulle telleurgesteld wegdraai. Mag ons geag word as getroue rentmeesters, van alles wat aan ons sorg toevertrou is.
FINANSIËLE RENTMEESTERSKAP
Past. R.J. Coertzen (Hooftesourier van die AGS van SA)
Finansiële rentmeesterskap is deel van die Goeie Bestuur-drywer in ons AGS missionale strategie. Kom ek begin met ‘n paar vrae: Wat is die kultuur in jou gemeente? Wat bevorder jy en doen jy doelgerig? Wat verdra jy? Wat stop jy onmiddellik as dit in jou gemeente verskyn? Wat leef in jou hart vir jou gemeente?
Ek dink ‘n baie belangrike gebied waar ons rentmeesterskap moet toepas is op die gebied van vrygewigheid. Jy mag dalk reageer deur te vra: Waarvan praat jy? Ek kan skaars klaarkom met wat ek het en nou wil jy hê ek moet vrygewig wees? Ja, dit is wat ek voorstel want dit is wat die Woord van GOD vir ons sê om te doen – en as jy SY leiding volg, sal jy die vrugte van SY woord pluk. As ek en jy ‘n vrygewige lewe kan lei, en ons mense kan leer om ‘n vrygewige lewe te lei, sal jy groot dinge sien gebeur.
“As ek en jy ‘n vrygewige lewe kan lei, en ons mense kan leer om ‘n vrygewige lewe te lei, sal jy groot dinge sien gebeur.”
GOD se seën staan op twee bene: vrygewigheid en rentmeesterskap. Die een kan nie sonder die ander nie. Jy kan ‘n vrygewige persoon wees, maar as jy nie ‘n goeie rentmeester is nie gaan jou hulpbronne uitgeput word. As jy ‘n goeie rentmeester is, maar nie vrygewig nie – bedoelende jy gee nie weg nie, kan GOD jou ook nie seën nie. As jy albei kan wees, ‘n goeie rentmeester en vrygewig kan lewe, sal GOD jou seën in veral jou finansiële wêreld. Want dit is GOD se beginsels.
Wat is die Stappe?
Leef dit.
As jy wil hê jou mense moet goeie rentmeesters wees, sal ek en jy dit moet uitleef. As jy wil hê jou mense moet vrygewig lewe sal hulle dit in jou lewe moet sien. Ek kan die gemeente net leer wat ek self doen en dìt vir hulle uitleef.
Preek dit.
Die tweede ding wat ons moet doen is om daaroor te preek. Baie pastore sal nou sê: “Ja my broer, ek preek gereeld daaroor” – maar my vraag vandag is: Wat is jou motief? Hoekom preek jy daaroor? Is dit net om meer geld vir die kerk te kry? En dit is die rede waarom baie pastore ondoeltreffend is wanneer hulle daaroor preek. GOD stel belang in ons harte, nie die uiterlike dinge nie. Matt 6:21 (AFR83) “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Die beste manier om selfsug in jou gemeente se harte dood te maak, is om hulle te leer dat ons net rentmeesters is, nie eienaars nie.
“…bedoel ek dat jy waarhede met jou gemeente moet deel deur persoonlike stories te gebruik van wat GOD in jou lewe gedoen het.”
Modelleer dit.
Om ‘n kultuur van rentmeesterskap in jou gemeente te skep moet jy dit modelleer. Dit moet by die Pastoor, die personeel en die Beheerliggaam begin voordat dit deur die gewone lidmate omhels sal word. Om rentmeesterskap te modelleer is anders as om dit uit te leef. Jy moet dit uitleef om dit te modelleer, maar deur dit te modelleer bedoel ek dat jy waarhede met jou gemeente moet deel deur persoonlike stories te gebruik van wat GOD in jou lewe gedoen het.
Ek bid dat GOD jou sal seën op jou pad – veral op die gebied van finansies. Ek bid dat jy ‘n vrygewige en goeie rentmeester sal wees.
SLOT
Mag God ons as volgelinge van Jesus bemagtig om ons fokus op die hooftaak en -doel van die kerk te hou: Om alle mense dissipels van Jesus te maak. Dit is my gebed dat terwyl ons ons roeping met integriteit en uitnemendheid vervul, ons ons oë gevestig sal hou op Jesus, die begin en voleindiging van ons geloof.
Seëninge
Henri Weideman