INHOUDSOPGAWE
______________
– Groete
– Wêreldwye Pandemies kan nie die Groot Opdrag tot Stilstand bring nie
– Tegnologie: As Versterking van die Kerk se Missie
– Woorde van Bemoediging
– Slot
Laai die Pastorale Nuusbrief af in PDF-Formaat:
(om dit as ‘n dokument te e-pos of uit te druk)
AFM Pastorale Brief 1ste Kwartaal 2021
AGS Kollegas,
Die Groot Opdrag (soos in Matteus 28: 18-19) kan nie deur wêreldwye pandemies tot stilstand gebring word nie. Ek glo dat God se Woord nie deur beperkings en regulasies ingeperk kan word nie. Ons moet in staat wees om God se missie te vervul terwyl ons Covid-19 veiligheidsmaatreëls nakom.
“…dat hoewel hy opgesluit is in die tronk, God se Woord nie opgelsuit is nie.”
In 2 Timoteus 2: 8-9 (AFR83) het Paulus dit vir Timoteus gesê: “Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die Evangelie wat ek verkondig. Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die Woord van God kan nie geboei word nie.” Paulus was in ‘n Romeinse tronk opgesluit, net voor sy dood in 67 NC toe hy aan Timoteus geskryf het. Hy wou hê dat Timoteus die kernboodskap van die Evangelie moes onthou, naamlik: “Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het.” Hy maak dan hierdie kragtige stelling dat hoewel hy opgesluit is in die tronk, God se Woord nie opgelsuit is nie. Ongeveer sewe van Paulus se briewe is geskryf terwyl hy ‘n gevangene was.
WÊRELDWYE PANDEMIES KAN NIE DIE GROOT OPDRAG TOT STILSTAND BRING NIE
Past. George Mahlobo – President van die AGS van SA
In hierdie artikel wil ek aandag gee aan die volgende kwessies – tegnologie, die behoefte vir die kerk om aan te pas, gebed, dissipelskap en sorg.
Tegnologie
Met die uitbreek van Covid-19 was die wêreld in verskillende vlakke van die 4de Industriële Revolusie. Reeds in 2019, tydens die Ampsdraers se Bemagtigingsbesoeke aan die streke, het ons besin oor die impak van die 4de Industriële Revolusie (4IR) op die kerk en inderdaad die hele samelewing. Een van die dinge wat ons gesê het, was: “Nuwe tegnologieë wat ontwikkel word saam met die 4IR, het groot potensiaal om biljoene meer mense te verbind aan die Internet, wat die doeltreffendheid en produktiwiteit van besighede en organisasies drasties sal verbeter.”
Een van die positiewe gevolge van tegnologie is dat dit mense wêreldwyd kan verbind sonder groot uitgawes. Die feit van die saak is dat tegnologie die publieke sfeer geherdefinieer het – in die sin dat ons aan openbare aangeleenthede kan deelneem sonder om fisies bymekaar te wees. Verskeie virtuele platforms maak dit vir ons moontlik om toegang tot hierdie nuwe openbare ruimte te kry. Dit is waar die kerk moet wees. Natuurlik beteken dit nie dat persoonlike byeenkomste of om fisies te reis na ander geografiese gebiede nie meer relevant is nie. Aanduidings is dat baie mense steeds persoonlike byeenkomste verkies eerder as virtuele byeenkomste.
“Ons moet aangemoedig word deur die feit dat ons vandag tegnologie het wat Paulus in sy tyd nie tot sy beskikking gehad het nie.”
Met die uitbreek van Covid-19 het ons die manier waarop ons sosialiseer, sake doen, treur en preek verander. Alhoewel ons in ons huise opgesluit was, het ons steeds kontak met mense gehad en op verskillende virtuele platforms sake gedoen. Die vermeerdering van lewendige uitsendings van dienste is een voorbeeld van hoe ons gedurende die pandemie met bediening voortgegaan het. Ons moet aangemoedig word deur die feit dat ons vandag tegnologie het wat Paulus in sy tyd nie tot sy beskikking gehad het nie. Hierdie toestelle en toerusting waartoe ons toegang het, bied vir ons ‘n oop deur om die evangelie te deel. Dit kom in verskillende vorme voor, soos selfone, rekenaars, draagbare skootrekenaars en sosiale media platforms. Miskien moet ek die vraag stel wat God in Eksodus 4: 2 aan Moses gestel het: “Wat het jy in jou hand?” “’n Kierie,” antwoord Moses. Ons het ‘n “kierie” in die vorm van tegnologie.
Aanpasbaarheid
Hierdie “kierie” in ons hande en op ons lessenaars vereis dat ons ons manier/metode van dinge doen verander. Ons moet toesien dat die boodskap altyd dieselfde bly – terwyl ons die manier/metode van doen verander. Wanneer ons tegnologie gebruik, kan ons bediening vêr buite die mure van die kerk strek. Ons hoor miskien nie die uitroepe van “Amen” en “Halleluja” nie, maar ons sien die emoji’s wat ons gehoor gebruik om te reageer. Die implikasies hiervan is dat die kerk ou maniere/metodes van bediening moet aanpas. Verandering is nie meer af en toe ‘n werklikheid nie – maar ‘n konstante realiteit.
“Wanneer ons tegnologie gebruik, kan ons bediening vêr buite die mure van die kerk strek.”
Gebed
Groot sending en evangelisasie bewegings word dikwels aangevuur deur ‘n herlewing van gebed. Alhoewel ons miskien moet wag om “te gaan”, moet ons nie wag om “te bid” nie. Gebed is een van die sleutels tot die vervulling van die Groot Opdrag. In Matteus 9: 37-38 (AFR83) het Jesus vir sy dissipels gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” Ons missionale strategiese plan (of te wel One AFM Game Plan) poog om ons lidmate te mobiliseer om die implementeerders van God se missie te wees.
Ons moet bid soos die profeet Habakuk toe hy sê: “Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat U dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in U toorn.” – Habakuk 3: 2 (AFR83). Verskeie digitale platforms kan gebruik word om voorbidders nasionaal en wêreldwyd te verbind. Sommige van die gebedspunte in hierdie verband moet wees:
- Gebed vir persoonlike berou (1 Johannes 1: 8-10),
- Gebed vir die vervulling van die Heilige Gees (Efesiërs 5:18) &
- Gebed vir die verlossing van die wêreld (2 Tessalonisense 3: 1).
Dissipelskap
Wat die Groot Opdrag betref, is dissipelskap een van die belangrikste kwessies. Dit is een van die drywers van ons kerk se missionale strategie en plan. Dissipelskap is baie meer as om net bekeerlinge en lidmate van gemeentes te kweek. Dissipelskap kweek ware volgelinge van Jesus Christus deur hul aksies en woorde. Tegnologie kan gebruik word vir dissipelskap opleiding – om sodoende ons lidmate op te lei om van ander mense dissipels te maak. Verskeie dissipelskap-modelle kan ondersoek word. Ons moet strategies en gefokus wees. Ons moet alles doen wat mense help om dieper in ‘n groeiende verhouding met Jesus te beweeg.
“Ons moet alles doen wat mense help om dieper in ‘n groeiende verhouding met Jesus te beweeg.”
Dit is ook ‘n oomblik om moedig te getuig van die volheid van die lewe in Christus, ‘n lewe wat jou naaste omhels as jouself. Dit vereis dat ons op hoogte bly van die gemeenskap, omgewing en kultuur waarin ons werk en bedien.
Sorg vir die Behoeftiges en die Gebrokenes
Die negatiewe impak van Covid-19 op mense kan nie onderskat word nie – baie is nou meer fisies en emosioneel behoeftig as te vore. Ek dink ons ken almal iemand wat geliefdes verloor het of selfs haar/sy werk verloor het tydens die pandemie. Sommige van hierdie mense is in ons woonbuurte, terwyl ander aan ons uitgebreide families behoort. Ons het ‘n sosiale verantwoordelikheid om te help. Gemeenskapsbetrokkenheid is inderdaad ook een van die drywers van ons missionale strategiese plan. Ons moet na hierdie mense uitreik en alles deel wat ons kan. Ons moet hulle vertroue en hoop gee deur geloof in Jesus. Ons kan dit doen deur ons getuienisse en gebede met hulle te deel.
“Ons moet hulle vertroue en hoop gee deur geloof in Jesus.”
TEGNOLOGIE: AS VERSTERKING VAN DIE KERK SE MISSIE
Dr Henri Weideman – Algemene Sekretaris van die AGS van SA
Die term “tegnologie” beskryf basies die masjinerie, toerusting en gebruiksartikels wat ontwikkel word vanuit die praktiese toepassing van wetenskaplike kennis. Een van die vroegste voorbeelde hiervan is die padnetwerk wat die Romeinse Ryk gebou het om die beweging van soldate, amptenare en burgers te vergemaklik. Die kerk het ook van hierdie tegnologie gebruik gemaak; die paaie het dit makliker gemaak om die Evangelie te versprei. ‘n Ander voorbeeld is die Gutenberg drukpers. Dit het die grootskaalse druk van dokumente moontlik gemaak en die wêreld dramaties verander. Dit het die leiers van die Protestantse Reformasie gehelp om hulle leerstellings te versprei en ook om die Bybel in grootmaat te druk.
Daar bestaan vele ander voorbeelde van tegnologie wat die kerk tot voordeel gebruik. Dink maar aan motorvoertuie, klanksisteme, kopieermasjiene, radio’s, rekenaars, televisie, video en ook die internet. Die gebruik van tegnologie beteken nie noodwendig dat Bybelse waarhede ingeboet word nie. Die Hervormers het gedoen wat hulle gedoen het om mense terug na Bybelse waarhede te lei. Hulle het gepoog om die Bybel in alledaagse taal vir mense beskikbaar te stel – sodat mense kon verstaan, volgelinge van Jesus word en dissipels van ander maak. Ons taak is niks minder as dit nie.
“Tegnologie sal nie wat kerke doen verander nie.”
Tegnologie sal nie wat kerke doen verander nie. Ons sal steeds mense bymekaar bring vir aanbidding, hulle in betekenisvolle verhoudings met mekaar bring, hulle oplei as dissipels, toerus vir bediening en hulle uitstuur om die wêreld te impakteer vir Jesus. Tegnologie sal heelwaarskynlik ‘n effek hê op hoe ons dit doen. Nuwe tegnologiese ontwikkelings maak dit vir kerkgangers moontlik om regdeur die week met die kerk in interaksie te wees. Met behulp van ‘n mobiele toep (of te wel ‘n sagteware applikasie vir ‘n slimfoon, tabletrekenaar of slimhorlosie) kan lidmate hulle Bybels lees, kerkdienste volg, op preke reageer en selfs finansiële bydraes maak. Kerke sal voortgaan om as ‘n fisiese liggaam bymekaar te kom, maar behoort nie die geleenthede te mis wat deur ‘n aanlyn teenwoordigheid gebied word nie.
“Tegnologie sal heelwaarskynlik ‘n effek hê op hoe ons dit doen.”
Direkte Video-Stroming (“Live Streaming”)
Een van die beskikbare opsies is regstreekse of direkte video-stroming (live streaming), wat beteken dat ‘n geleentheid op die internet uitgesaai word terwyl dit plaasvind. Die drie grootste platvorms hiervoor is tans: Facebook, YouTube en Zoom. Met Facebook kan ‘n mens jou navolgers (of te wel “followers”) bereik deur ‘n “going live” kennisgewing. Daar is ook ’n betaalopsie om meer mense te bereik. Om YouTube te gebruik, moet mens ‘n YouTube kanaal wat verbind is aan ‘n Google-rekening opstel. YouTube promoveer graag inhoud, want dit bevorder die kanaal se inkomste. Dit is die primêre aanlyn verbruikerspunt vir jongmense (die Millennials en Gen-Z’s).
Zoom is ‘n betroubare opsie vir kleiner en meer intieme groepe, soos Bybelstudies, personeel byeenkomste en preek besprekings. Dit is gratis vir byeenkomste met minder as 100 mense en korter as 40 minute. Nog ‘n opsie is om ‘n aanlyn bespreking na ‘n preek te hou. Besprekings van die aard kan in lyn wees met die week se preek/tema en help om gesprekvoering te bevorder. Gratis en gebruikersvriendelike hulpbronne soos www.churchonlineplatform.com kan help om aanlyn-besprekings meer toeganklik te maak.
Video Opnames
Dit lyk altyd beter wanneer die kameralens op oogvlak met die spreker is. ‘n Kamerahoek van onder die spreker, lyk onvleiend. Sprekers moet direk vir die kamera kyk om sodoende oogkontak met die kykers te maak. Eenvoudige beligting soos ‘n ringlig of klein spreiligte, kan ‘n groot verskil aan die kwaliteit van die eindproduk maak. Die meeste selfone het goeie kameras wat vir opnames gebruik kan word. Produksiekwaliteit kameras met eksterne mikrofone en ander meer professionele toerusting kan later aangekoop word. Dit is goed om klein te begin en te groei. Eksperimenteer en vra advies.
Inhoud op Aanvraag
Gemeentes wat alreeds ‘n digitale teenwoordigheid ontwikkel het, behoort dit nou uit te brei. Baie gemeentes bied hulle Sondagdiens en Mid-week byeenkomste aan as lewende geleenthede, en veronderstel dat dit vir almal wat wil kyk toeganklik is. Die suksesvolste aanlyn platvorms bied hulle inhoud op aanvraag (of te wel “on demand”) aan. Gemeentes moet oorweeg om elke in-persoon Sondagdiens aanlyn toeganklik te maak vir wanneer dit vir verbruikers, in hul eie tyd, moontlik is om te kyk of te luister.
Kopiereg Inhoud
Tensy ‘n mens slegs van selfgeskrewe liedere en sang gebruik maak, moet jy kennis neem van organisasies soos SAMRO (Die Suid Afrikaanse Musiek Regte Organisasie) wat musiek met ‘n kopiereg lisensie beskikbaar stel.
Aanlyn Vergaderings
Byeenkomste van Bestuursrade, Komitees, Bybelstudie-/Gebeds-/Kleingroepe kan met groot sukses aanlyn gehou word – solank as wat almal betrokke voorsien is van die datum, tyd en skakel van die byeenkoms. Maatreëls om effektiewe interaksie te verseker kan insluit dat alle deelnemers hulle mikrofone afgeskakel hou wanneer hulle nie praat nie en gebruik maak van elektroniese maniere om te stem, aan te dui dat hulle wil praat of saamstem met besluite. Indien ‘n byeenkoms langer as 1.5 ure is, is dit wys om pouses/breuke in te bou in die program.
Sosiale Media
Sosiale media kan ‘n effektiewe instrument wees om die Groot Opdrag uit te voer. Die meeste sosiale media platvorms is gebruikersvriendelik en stel kerke in staat om hulle aktiwiteite te skeduleer en in interaksie met hulle gemeenskap te wees. Dit is ‘n effektiewe, bekende en toeganklike kanaal om jongmense mee te bereik. Millennial Christene (gebore 1981-1996) gebruik eerstens aanlyn bronne (veral selfoon bronne) vir Geestelike interaksie. Volgens George Barna, soek bykans 60% van Millennial Christene aanlyn na Geestelike inhoud, en 70% lees die Bybel op hulle selfone.
Wees toeganklik deur die alledaagse taal van mense te praat, in plaas daarvan om “kerktaal” te gebruik wat min mense verstaan. Sosiale media platvorms skep geleenthede om elke dag van die week in mense se lewens teenwoordig te wees, nie net op Sondae nie, en behoort meer doelgerig deur kerke gebruik te word.
Met erkenning aan:
- Technologies That Have Changed The Church Throughout History – Steve Perky
- Strategies for Streaming Worship Service Video – Steve Perky
- 3 Ways Technology is Changing Worship – CM Select: The Greater Good Blog
- “How COVID-19 is Shaping The Future of The Church.” – Carey Nieuwhof
- “Moving Forward: Future Church Trends.” – Anthony Hilder
- How to Livestream Your Church Service: A Practical Guide – Phil Thompson
- Planning an Online Worship Service – Back to God Ministries
WOORDE VAN BEMOEDIGING
Past. Barend Petersen – Algemene Tesourier van die AGS van SA
Vandag voel ek in my gees om net uit te reik en my hartlike dankbaarheid en meegevoel te betuig aan elke Pastoor, Mede-Pastoor, Lede van die Beheerliggaam, Lidmate en gesinne van ons geliefde AGS. Ek skryf aan jou in ‘n tyd wat ek diep geraak is, want ek onthou diegene wat ‘n goeie stryd gevoer het en onder hierdie pandemie geswig het. Baie van ons het die afgelope jaar geliefdes verloor en die pyn is nog vars in ons geheue. Om afskeid te neem van ons geliefdes was soveel moeiliker, want ons kon nie rou soos ons gewoonlik gerou het nie en ons was sonder die ondersteuning wat ons gewoonlik deur ‘n tyd van hartseer sou gedra het.
Alhoewel die roeping van Pastore bonatuurlik is, bedien en leef ons ons lewens verweef in die lewensiklusse en die ervaringe van ons lidmate wat ons in hierdie gebroke wêreld bedien. Toewyding aan ons roeping as Pastoor verhinder nie ons en ons gesinne om blootgestel te word aan die beproewinge van die lewe nie, insluitend verlies, pyn, lyding, moedeloosheid, teleurstellings en dood. Ons ervaar ook die uitdagings van die lewe soos alle ander mense: as ouers, in ons huwelike, ons finansies, ons gesondheid en verbroke verhoudings. Soms is ons sprakeloos wanneer ons God desperaat vertrou vir ‘n wonderwerk en ons geloof beantwoord word met ‘n koue stilte vanaf God.
Ons weet dat God ons deur Sy Gees vertroos in pyn en siekte en dat hy ons siele kan genees. Pastore, ek is bewus daarvan dat ons byeenkomste diep geraak is deur die Covid-19 pandemie. Ons is nie in staat om te vergader vir dienste of gebedsbyeenkomste in ons kerke nie. Daar is geen uitreike, opelug konferensies, huisbesoeke of ander byeenkomste soos wat ons gewoond was nie. Ons sien ‘n vinnig veranderende wêreld – ‘n verskuiwing van dit waaraan ons gewoond is, na ‘n plek van onsekerheid. Die Covid-19 pandemie en selfs die houding van ons regering veroorsaak dat die kerk nadink oor haar invloed in die samelewing.
Ek het nagedink oor die profeet Habakuk wat in Hoofstuk 1:1-4 aan ons voorgestel word as ‘n wanhopige profeet – ‘n profeet wat God betwyfel. Hy is oorweldig deur die omstandighede rondom hom en dit lyk asof God Hom van die aardbol verwyder het. God is nêrens te vinde nie. Sy wanhoop is tasbaar, die pyn is werklik, die twyfel is verterend, die toekoms lyk bleek, en alle hoop het verdwyn. Te midde van die pyn en onsekerheid, te midde van die hopeloosheid en duisternis, ervaar Habakuk ‘n visioen van God se herstellingskrag wat deur Dawid so lewendig verkondig is, in Psalm 121″Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
“Hy word nie meer oorweldig deur wat hy om hom sien nie, maar deur wat hy glo.”
Die profeet word nie meer beheer deur of selfs bekommerd oor sy omstandighede nie, sy oë is op God gerig. Hy word nie meer oorweldig deur wat hy om hom sien nie, maar deur wat hy glo. Hy verkondig hierdie woorde wat verewig is en wat vandag nog geld in Hoofstuk 3:
“17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. 19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
2020 was een van die moeilikste jare vir ons almal en dit wil voorkom asof hierdie pandemie die wêreld langer gaan affekteer as wat ooit verwag is. Ek het al die herstellingskrag van God ervaar gedurende die moeilikste tye van my lewe. Gedurende die afgelope vier jaar het ek dit weer beleef en ek kan getuig van sy onfeilbare genade. My broers en susters, ek wil hê dat julle moet weet dat ons saam hierin is. As ‘n gesin van die AGS van SA bedank ons jou vir jou getrouheid en jou standvastigheid in geloof en dat jy nie opgee nie.
Vandag bid ek vir ons Pastore, hul eggenote en ook hul kinders wat deur moeilike tye gaan – veral die wat ‘n intense konflik of stryd ervaar tussen geloof en ons menslike ervarings. Ek bid dat jy en jou gesin die teenwoordigheid van God sal ervaar, soos Habakuk. Dat jou vertroue en hoop gestel is op dit wat hoër is as dit wat jy besig is om menslik te ervaar.
SLOT
Geen pandemie kan die Groot Opdrag verhinder nie! Deur die gebruik van beskikbare tegnologie kan ons die missie van die kerk versterk. Laat ons nie oorweldig word deur wat ons ervaar en rondom ons sien nie, maar eerder deur dit wat ons glo. Ek vertrou dat hierdie brief ‘n tydige aanmoediging en seën vir jou is. Ek bid dat God ons sal dra in hierdie moeilike tye wanneer ons almal ‘n behoefte het aan sy teenwoordigheid – aan die Een wat ons tot sy diens geroep het om sy heerlikheid te verkondig.
Seën!
M.G. Mahlobo