Pastorale Brief: 1ste Kwartaal 2020

AGS Kollega,

Groete in Jesus se Naam. Ek is dankbaar vir die geleentheid om met jou te kan kommunikeer deur middel van hierdie eerste Pastorale Brief in 2020. Ek is dankbaar vir almal wat my vorige Pastorale Brief gelees het en vir my terugvoer gegee het. Die inhoud van hierdie eerste Pastorale Brief van 2020 bevat die belangrike motiverings vir die nuwe nominasieproses wat sal uitloop op die verkiesing van die nuwe Nasionale Ampsdraers van die AGS van SA, in September vanjaar. Ek het ook die rol van ons pastore in die missionale kerk-konteks ingesluit. Jy sal ook verder lees hoe ons gemeentes prakties gemeenskapsbetrokkenheid kan implementeer.

DIE AGS VAN SA 2020 VERKIESING
Past. M.G. Mahlobo (President van die AGS van SA) – mmahlobo@afm-ags.org

Ek wil graag ‘n paar dinge uitlig in verband met die komende verkiesing van die nuwe Nasionale Ampsdraers gedurende September hierdie jaar. Die 2018 Algemene Besigheidsvergadering (GBM) het belangrike besluite geneem rakende die verkiesing van die Nasionale Ampsdraers van die AGS van SA. Dit is: (i) geskiktheidsvereistes, (ii) die nominasiepoel, (iii) die verkiesing en (iv) die oorgee proses. Laat my toe om meer te sê oor elkeen.

Geskiktheidsvereistes

Alle voornemende genomineerdes vir Nasionale Ampsdraers posisies moet geordende pastore wees wat ten minste al vyf (5) jaar in ‘n plaaslike gemeente/s as presiderende pastoor gedien het. In die verlede is geen pastoor vir verkiesing as Nasionale Ampsdraer in aanmerking geneem, mits hy/sy nie ten minste vir drie (3) jaar gedien het as ‘n geordende voltydse werker in ‘n geregistreerde plaaslike gemeente van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika nie. Verder is dit nou ‘n grondwetlike vereiste dat kandidate vir die posisie van President ook ten minste een (1) volle termyn as lid van die Nasionale Leierskapforum (NLF) moes dien.

“Alle voornemende genomineerdes vir Nasionale Ampsdraers posisies moet geordende pastore wees wat ten minste al vyf (5) jaar in ‘n plaaslike gemeente/s as presiderende pastoor gedien het.”

Die motivering rondom hierdie besluit was om ‘n hoër vlak van ervaring te bewerkstellig, en om te verseker dat toekomstige Presidente van die kerk wel blootgestel was aan die werksaamhede van die nasionale strukture van die kerk.

Nominasiepoel deur plaaslike AGS Gemeentes en Streekskomitees

Die 2018 Algemene Besigheidsvergadering (GBM) het besluit dat ‘n lys van moontlike kandidate vir die posisies van die President, Adjunk-President, Algemene Sekretaris en Algemene Tesourier vooraf beskikbaar gestel sal word aan die afgevaardigdes van die 2020, en daaropvolgende elektiewe GBM’s. Ons verwys na hierdie lys as die “nominasiepoel”. ‘n Nominasiepoel sal die GBM kieskollege in staat stel om die name van die mense wat beskikbaar is vir verkiesing, voor die verkiesings te leer ken.  Hierdie inligting sal ook die aantal bedorwe nominasie en stembriewe, tydens die verkiesingsproses verminder. Hierdie nuwe ontwikkeling is ‘n poging om wyer deelname van die kerk se strukture te verseker in die verkiesing van die leierskap van die kerk.

“Gemeentes- en Streekskomitees is voorsien van nominasievorms wat voltooi moet word en na my kantoor teruggestuur moet word voor 16h00, 31 Maart 2020.”

‘n Beleid rakende die skepping van die nominasiepoel en die fisiese verkiesing by die GBM, is deur die Nasionale Leierskapforum (NLF) goedgekeur en is na die Gemeentes- en Streekskomitees gestuur. Gemeentes- en Streekskomitees is voorsien van nominasievorms wat voltooi moet word en na my kantoor teruggestuur moet word voor 16h00, 31 Maart 2020. Die geskiktheid van genomineerdes, sal deur die Toelatingskomitee wat deur die NLF aangestel sal word, ondersoek word. Alle genomineerdes sal geleentheid gegun word om hul aanvaarding van hul nominasie aan te dui. Die inligting van genomineerdes wat hul nominasie aanvaar het, sal aan alle AGS Gemeentes en ander GBM statutêre liggame gestuur word.

Verkiesing

By die GBM sal dieselfde verkiesingsproses gevolg word, wat in die verlede gebruik was. Die eerste rondte sal nominasies wees. Hierdie nominasies word gebruik om die name van diegene te bepaal waarvoor gestem kan word in die eerste, tweede en daaropvolgende stemme, soos dit nodig is. Dit kan ook gebeur dat sekere kandidate tydens die nominasiefase verkies kan word, op grond van die persentasie stemme wat hulle ontvang het van die kieskollege.

Oorgangsmeganisme

Nog ‘n belangrike 2018 GBM besluit het te doen met die oorgangsmeganisme. In die verlede is daar van die Nasionale Ampsdraers verwag om hul verantwoordelikhede onmiddellik na hul verkiesing op te neem. Hierdie verwagting het praktiese uitdagings vir die nuutverkose Nasionale Ampsdraers geskep. Sommige van hierdie uitdagings was kontraktuele verpligtinge teenoor hul gemeentes. In sommige gevalle moes van dié wat verkies is, verhuis om naby die Nasionale Kantoor te wees. Om hierdie praktiese uitdagings verantwoordelik en behoorlik aan te spreek, benodig nuutverkose Nasionale Ampsdaers tyd. Na die verkiesing van die nuwe Ampsdraers sal daar ‘n drie (3) maande oorgangstydperk wees.

Die 2018 GBM het die kerk se konstitusie op so ‘n wyse aangepas dat daar ‘n oorgangstydperk is, waartydens die uittredende Nasionale Ampsdraers hul uitgangsverslae sal verskaf, en oriëntering aan die inkomende Ampsdraers bied. Dit sal ‘n effektiewe oorgang verseker.

“Ek versoek alle pastore, gemeentes en ander kerkstrukture om te bid vir die 2020 verkiesings.”

DIE ROL VAN DIE PASTOOR IN ‘N MISSIONALE KERK KONTEKS
Dr. H.J. Weideman (Algemene Sekretaris van die AGS van SA) – henri@afm-ags.org

Gedurende die 2019 NOB streeksbesoeke, was ‘n pastorale welstandsvraelys (Pastoral Wellness) deur pastore voltooi. Dit het die verskillende perspektiewe rondom die rol van ‘n pastoor ingesluit. Ons het ons pastore gevra hoe hulle self, hulle lidmate en hulle beheerliggame, die rol van die pastoor sien. Ons het die volgende ontdek:

** ‘n Uittreksel uit die finale verslag: 


Opsommend is die nommer een keuse van die drie groepe:

Dit beteken dat baie pastore se hooffokus die sogenaamde herder-kudde model is.

Volgens hierdie bedieningsmodel, is die pastoor die voorsiener van alle Geestelike inspraak en lering, sowel as die pastorale versorging van die gemeente (Herderskap). Gemeentelede is meestal die ontvangers van bediening en nie ‘n bron/gewers daarvan nie. Die hoof verwagting wat aan lidmate gestel word, is om teenwoordig te wees en aan aktiwiteite deel te neem. Baie gemeentes wat hierdie herder-kudde model navolg, bevind hulleself in ‘n toestand van instandhouding, waar die fokus is om die gemeente, die gereelde aktiwiteite en die lidmate “aan die gang” te hou. Dit word dan ook gesien as die pastoor se hoof verantwoordelikheid. In baie gevalle is daar sterk investering in die status quo en word baie energie spandeer om dít wat in die verlede is, instand te hou.

“Waar ‘n gemeente in ‘n instandhoudings raamwerk funksioneer, is daar dikwels weerstand teen die beantwoording van die moeilike vrae wat die Missionale-perspektief aan ons stel.”

Waar ‘n gemeente in ‘n instandhoudings raamwerk funksioneer, is daar dikwels weerstand teen die beantwoording van die moeilike vrae wat die Missionale-perspektief aan ons stel. Vrae soos: “Wat is ons roeping en bestaansdoel as gemeente? Wat verwag die Here van ons as gemeente? Watter verskil maak ons werklik in ons gemeenskap? Wat is die “dienswerk” wat gelowiges veronderstel is om te verig? (Efe. 4:11-12)

In hierdie konteks is daar dikwels individuele gelowiges wat ‘n roeping van die Here ervaar om na die “sendingveld” in ‘n land vêr weg te reis, en daar sendingwerk te doen, terwyl baie min gelowiges ’n roeping ervaar om sendelinge te wees in hulle alledaagse lewe in hul eie gemeenskappe. Dít is die tradisionele konsep van sending.

‘n Nuwe paradigma van Sending en Kerkwees is besig om te ontwikkel.   

‘n Model van kerkwees waarin elke lidmaat hom/haarself sien as ‘n sendeling. ‘n Model waarvolgens die kerk ‘n Missionalebeweging word en gelowiges ware navolgers van Jesus is, en nie net lidmate nie. Deelnemers en nie net toeskouers nie.

“Dit is ‘n paradigma waarin elke gelowige verstaan dat toe Jesus gesê het: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Joh. 20:21) – Het Hy met AL Sy navolgers gepraat en nie net met pastore nie.”

Dit is ‘n paradigma waarin elke gelowige verstaan dat toe Jesus gesê het: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Joh. 20:21) – Het Hy met AL Sy navolgers gepraat en nie net met pastore nie. Dat elke lidmaat geroep is om die sout van die aarde en die lig vir die wêreld te wees (Matt.5:13-16) elke dag en oral.

Die realisering van hierdie missionale model van kerkwees, veronderstel dat die pastoor van elke gemeente ‘n aktiewe rol sal speel:

1. Die Pastoor se rol as (interne) Evangelis en Agent van Verandering

Die Heilige Gees wil gemeentes van ‘n inwaartse, selfgerigte fokus na ‘n missionale roeping bekeer. Die fokus behoort nie net te wees op die behoeftes van gemeentelede nie, maar op die roeping van alle gelowiges om “’n brief van Christus” aan die wêreld te wees (2 Kor 3:2-3). Dit gaan nie oor ‘n “terugkeer” na iets wat bestaan het of verlore geraak het nie: Dit is ‘n saak van “bekering”, nie net  “reformasie” of “hernuwing” nie. Om dit moontlik te maak, moet die pastoor van ‘n gemeente ‘n evangelis wees wat bekering tot ‘n missionale fokus preek en promoveer.

2. Die Pastoor se rol om die Skrif Missionaal te interpreteer

“Missionale hermeneutiek” is ‘n manier van Skrifinterpretasie wat begin by die besef dat die Nuwe Testamentiese gemeenskappe (gemeentes) almal gestig was met die doel om die apostoliese getuienis wat tot hulle totstandkoming gelei het, voort te sit. Pastore moet elke teks ondersoek met die oog daarop om die missionale doel daarvan te vind, en te verstaan wat dit vir ons vandag wil sê ten opsigte van ons taak en lewenstyl – as mense wat op God se Missie gestuur is. Dit sal die Evangelie boodskap kontekstualiseer vir gemeentelede en die prediking en lering van pastore dinamies beïnvloed.

3. Die Pastoor se rol as Toeruster

Alle gelowiges moet toegerus word om getuies te wees (Efe. 4:11-12). Die Nuwe Testamentiese gemeentes was van mening dat hulle onder die mandaat van die Here tydens Sy hemelvaart funksioneer: “Julle sal My getuies wees.”

4. Die Pastoor se rol as Spanleier en Afrigter (coach):     

God se missie word nie net deur individue uitgevoer nie, maar deur spanne. Die geordende leierskap van ‘n gemeente moet dit ‘n prioriteit maak om mense te identifiseer wat ‘n rol kan speel in die uitvoering van die missionele opdrag in die gemeenskap, hulle deel maak van die bedieningspan en inspirerende leierskap en afrigting aan hulle voorsien. Die bediening wat die “gelowiges toerus vir hulle dienswerk” is altyd apostolies, profeties, evangelisties, diakonies en lerend van aard. In hierdie konteks is die pastoor nie net ‘n herder vir gemeentelede nie, maar ook ‘n afrigter (coach) wat hulle bemagtig om sélf-herders, versorgers en getuies in en vir die gemeenskap te wees.

5. Die Pastoor se rol as Missionale Strateeg:                                                                                          
‘n Belangrike deel van ‘n pastoor se rol in ‘n missionale kerk-konteks is om voortdurend op die uitkyk te wees vir raakpunte in die lewens en stories van gemeentelede, wat die transformerende krag van die Evangelie vir almal toeganklik sal maak. Die pastoor moet kreatiewe maniere vind om Skrifwaarhede as God se instrument vir missionale vorming in die kern van mense se lewens in te trek. Hy/sy moet ook onderskei hoe God die Gemeente roep en stuur om op ‘n praktiese manier Jesus se getuies te wees in Jerusalem, Judea, Samaria, en tot aan die uiterstes van die aarde.
6. Die Pastoor se persoonlike voorbeeld:          

Om ‘n missionale kerk te word, veronderstel dat die leiers van ‘n gemeente die idee van gestuurdheid, die idee van om op ‘n missie te wees – baie persoonlik sal opneem. Gemeentelede stel toenemend nie net belang in wat die pastoor bestudeer nie, maar ook om hom/haar te bestudeer. Hulle wil síén hoe ons dit leef – dit wat ons verkondig.

“Ons kan nie preek en ander leer om soos sendelinge te leef in hulle daaglikse lewens, sonder om self ‘n soortgelyke voorbeeld te stel nie.”

Ons kan nie preek en ander leer om soos sendelinge te leef in hulle daaglikse lewens, sonder om self ‘n soortgelyke voorbeeld te stel nie. (1Kor.9:27). Dit is dalk die grootste uitdaging vir gemeenteleierskap van vandag: Om nie net te praat nie, maar om dit wat ons sê prakties uit te leef…

IMPLEMENTERING VAN DIE ONE AFM GAME PLAN DRYWER: GEMEENSKAPSBETROKKENHEID
Ashley Theron (Waarnemende CEO van die AFM Welfare) – Ashleyt@afmwelfare.org.za  

AGS Gemeentes is deel van die gemeenskappe wat hulle dien en is een van die belangrikste gemeenskapsstrukture om die heersende uitdagings van armoede, misdaad, gesinsverbrokkeling, VIGS, dwelmmisbruik en verslawing, geweld teen vroue, kinders en ouer persone die hoof te bied. In werklikheid is baie van hulle lidmate self slagoffers van hierdie uitdagings. AGS lidmate moet dus opstaan en hulle God-gegewe roeping opneem om betrokke te raak by hierdie uitdagings wat hulle self en hulle onmiddelike gemeenskappe in die gesig staar.

Alhoewel sommige van die Gemeentes alreeds betrokke is ‘n verskil maak in die lewens van kwesbare gesinne en individue, is baie van hulle nie seker waar om te begin en hoe om hierdie drywer te implementeer nie. Dit is hier waar die AFM Welfare ‘n rol kan speel om Gemeentes toe te rus. AFM Welfare het die praktiese kennis, programme en inligting om AGS Gemeentes te ondersteun om hul maatskaplike ontwikkelingsaksies te implementeer. AFM Welfare kan gemeentes help om betekenis te verleen aan die Gemeenskapsbetrokkenheid drywer. Die AFM Welfare doen dit deur sy uManelisi-gemeenskapsontwikkeling program.

“AFM Welfare het die praktiese kennis, programme en inligting om AGS Gemeentes te ondersteun om hul maatskaplike ontwikkelingsaksies te implementeer.”

Gemeenskapsbetrokkenheid lei tot Gemeenskapsontwikkeling

Die antwoord lê in gemeentes wat klein begin deur betrokke te raak by bestaande gemeenskapsprosesse, en om te doen wat hul eie hulpbronne en vaardighede hulle toelaat.  Gemeenskapsbetrokkenheid beteken:

  • Om uit te reik na mense in nood en om te begin met die gemeente se eie behoeftige lidmate.
  • Om goed aan ander te doen sonder om hulle afhanklik te maak van “hand-outs”.
  • Die opheffing van mense deur hulle te bemagtig om hulself te help.
  • Om ander te help om in hul behoeftes te voorsien.
  • Dien op skole- en NPO (Nie-winsgewende organisasie)-strukture.

Gemeenskapsontwikkeling – Waar om te begin

Ons wil graag ‘n paar stappe deel wat gemeentes sal help om hul eie gemeenskapsprojek te begin.

1. Identifiseer Die Gemeenskapsbehoeftes

Ontdek wat nodig is in jou gemeenskap deur eerstens met die leierskap en lidmate van jou Gemeente te praat, en dan met ander gemeenskapsleiers en -strukture.

2. Stel ‘n Span van vrywilligers aan

Vorm ‘n taakspan van eendersdenkende mense en besluit watter uitdaging/s eerste aangepak moet word, watter hulpbronne en vermoëns benodig sal word. Werk daarna toe om beide  ‘n koördinerende span en ook ‘n adviserende span te hê.

3. Gemeenskapsprofiel

Doen navorsing van al die gemeenskapstrukture en wat hulle reeds doen, aantal kerke en watter projekte hulle bedryf, aantal en rolle van NPOs, aantal skole, staatsdepartemente, hersien bestaande inligting en statistieke. Vind uit wat reeds in die gemeenskap gedoen word, met die doel om die uitdagings te verklein.

4. Kies ‘n Projek

As jy ‘n groep mense het waarmee jy gaan werk, laat hulle toe om jou te help om die idees te beoordeel. Besluit watter aktiwiteit jy wil doen. Sorg dat dit binne jou vermoë redelik is en dat jy ‘n impak kan maak.

5. Rolle en verantwoordelikhede 

Stem saam oor wie verantwoordelik sal wees vir wat in jou span.

6. Konsulteer, Konsulteer, Konsulteer

Identifiseer jou interne en eksterne rolspelers en maak seker dat jy met hulle konsulteer en terugvoer gee. Verstaan ​​aan watter wetlike en ander vereistes jy moet voldoen. Leer uit die ervaring van ander en soek raad.

7. Ontwikkel ‘n plan 

Begin deur te skryf wat presies jy wil bereik. Dit sluit ‘n “big-picture” doel in, sowel as die spesifieke kleiner take wat jy moet doen om die hoofdoel te bereik.

8. Stel ‘n begroting op

Nou dat jy weet wat jou doelwitte is, moet jy weet watter hulpbronne reeds tot jou beskikking is en hoeveel geld jy sal nodig hê om die projek te implementeer.

9. Ontwikkel ‘n Fondsinsamelingsveldtog 

Maak ‘n lys van die top groepe en bronne wie jy kan kontak om die nodige fondse (in kontant of donasies) te bekom. Maak seker dat jy soveel moontlik bronne insluit om jou te help om jou befondsingsdoelwitte te bereik.

10. Maak ‘n tydlyn

Jy moet reeds ‘n rowwe idee hê van hoe lank jou projek gaan neem, maar nou is die tyd om te fokus op die besonderhede. Merk spesifieke doelwitte op jou tydlyn. Maak ‘n aantekening van spesifieke dinge wat van kritiese belang is vir sukses. Allokkeer tyd om jou vordering te meet.

11. Publisiteit & Gemeenskapsondersteuning

Begin deur advies te soek by ‘n Kommunikasie- of Bemarkingskenner wat kan help met die ontwikkeling van ‘n bemarkingstrategie. Maak ‘n lys van die kontakte by verskillende radio, televisie en koerante/tydskrifte in jou gemeenskap.

12. Implementeer & Evalueer

Skep ‘n lys met meetbare “proses” en “impak” indikators wat verband hou met jou doelwitte, asook hoe en wanneer dit gemeet sal word.

Vir verdere opleiding en ondersteuning wat verband hou met Gemeenskapsbetrokkenheid, kontak:

Ashley Theron (Waarnemende CEO van die AFM Welfare)

ashleyt@afmwelfare.org.za

012 753 7940/1 (Vra vir Lizelle de Bruyn of Rebecca Kola)

SLOT

Ek hoop dat hierdie kommunikasie waarde in jou bediening sal toevoeg en duidelikheid sal gee oor die kwessies wat aangespreek word. Jou bediening word opreg waardeer. Ek sal jou terugvoer oor die sake in hierdie Pastorale Brief hoog op prys stel.

Seën!
Past. M.G. Mahlobo

Spread the word...