Nuusflits: Vrydag, 7 Oktober 2022

Laai die Nuusflits hier af in PDF-formaat:

AGS Nuusflits: Vrydag, 7 Oktober 2022

OKTOBER

HULPBRONNE

Pastorale Brief: 3de Kwartaal 2022 (Nuut!)
https://afm-ags.org/pastorale-brief-3de-kwartaal-2022/

AGS van SA Nasionale Kalender 2023
https://afm-ags.org/category/media/

Oktober: Pastore Waarderingsmaand
https://afm-ags.org/pastors-appreciation-october-2022/

AGS Kollega,

1. LEIERSKAP IN ONSTUIMIGE TYE

Ons leef in tye van ongekende en wêreldwye wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en dubbelsinnigheid. Die sogenaamde “VUCA” wêreld. Ons sien ‘n versnellende tempo van verandering, in tegnologie, die waardes en norme van mense en selfs veranderinge in die klimaat. Die lewe in die algemeen word al hoe minder voorspelbaar en baie mense ervaar toenemende vlakke van angs as gevolg hiervan.

Dit lyk asof niks in die lewe meer eenvoudig is nie.  Alles is veelkantig en word al hoe meer kompleks. Daarmee saam is daar sterk potensiaal vir verkeerde interpretasie van mense se woorde, optrede en bedoelings. Moeilike tye vra leierskap. Wanneer alles maklik hanteerbaar is en vlot verloop, kan ‘n mens bestuurders aanstel om toesig daaroor te hou, maar onstuimige tye het duidelike en sterk leierskap nodig. Dit is waarvoor ons geroep word in die huidige tydsraamwerk.

Onstuimige Tye Is Nie Iets Nuuts Nie
Dit is nie die eerste keer dat God se mense moeilike tye beleef nie. Byna alles in die Bybel weerspieël ‘n konteks van onsekerheid: Die skepping, die reis na die beloofde land;  die geboorte en lewe van Jesus;  die vestiging en groei van die Kerk;  die voorspellings oor die eindtyd.

Dit is interessant om daarop te let dat tye van groot onsekerheid, tye van enorme geleenthede is en nog altyd die tye van God se grootste aktiwiteit was. God gryp in en doen wonderwerke in onstuimige en onseker tye. Die wel en wee van die geskiedenis skep ook groot geleenthede vir geestelike leiers om in die gaping in te stap. Dit is nou die tyd vir ons as pastore en leiers “…om gewortel te wees in ‘n permanente, intieme verhouding met die vleesgeworde Woord, Jesus….om daar die bron vir ons woorde, raad en leiding (aan ander) te vind.” Henri Nouwen, “In the name of Jesus.” 1989, pg. 45.

Ons moet eerlik en outentiek wees en erken dat ons nie al die antwoorde het vir die probleme wat ons gemeenskappe en mense ervaar nie. Ons moet modelleer hoe ons op God se Woord en die Heilige Gees vertrou vir daaglikse leiding en wysheid. Ons moet sterk wees in ons voorneme om getrou te bly aan ons roeping en doel as gelowiges en as geestelike leiers.

Ons is dalk onseker oor die toekoms, maar ons moet nooit onduidelik wees oor wat ons geroep is om te doen nie. Vir die kerk en elke individuele gelowige moet ons rekenskap gee van die Hoop wat in ons woon en duidelikheid oor die doel van die lewe. God het ons geroep om mense dissipels van Jesus te maak. (Matt28:19) – As dit ons nie ons mense lei om dit te doen nie, waarmee is ons besig?

2. INTEGRITEIT IS ‘N LEWENSWYSE

Die motiveringspreker en skrywer Zig Ziglar het gesê: “Ability can take you to the top, but it takes character to keep your there.” Een van die grondliggende karaktertrekke wat besondere leiers van ander onderskei, is integriteit. Dit word deel van wie die leier is. Dit is in plek en 24 uur per dag en sewe dae per week vir almal sigbaar.

‘n Persoonlike Besluit
Die aanvaarding van ‘n lewenstyl van integriteit begin met ‘n diep en persoonlike besluit. Jy leef nie per ongeluk eerlik en opreg nie, jy doen dit met opset. In die boek Daniël is dit duidelik dat Daniël doelbewus besluit het om in integriteit en heiligheid te leef.

Wanneer integriteit ‘n kritiese substansie van jou DNS word, word dit in jou daaglikse lewe ingeëts en vestig dit by jou die vasberadenheid om onder alle omstandighede by jou woord en jou oortuigings te staan. ‘n Persoon met integriteit staan vir wat reg is, selfs te midde van geweldige swaarkry, versoeking of druk om voor korrupsie te swig. Om integriteit in ons gemeenskappe en die breë samelewing te herstel, moet ons ‘n hoër waarde op integriteit in ons eie lewens plaas.

Sommige van ons het groot geword met, of is blootgestel aan, swak voorbeelde van integriteit en is dan geneig om ons waardes maklik te versaak. Ons  het egter altyd ‘n keuse om te verander en die regte ding te doen. Dit is ‘n individuele besluit wat ons almal voortdurend moet neem.

Ons kan nie ons integriteit by die kantoor los wanneer ons ná werk huis toe gaan nie. Net so moet ons nie ons integriteit by die huis los en werk toe kom en rekenaarspeletjies speel, met ons vriende op sosiale media gesels, lang middagetes neem, nooit regtig werk gedoen kry nie en dan ‘n salaristjek verwag nie. Iemand kyk en luister altyd. As leiers moet ons werk vanuit die veronderstelling dat alles wat ons in privaatheid doen of sê, openbare kennis sal word.

Staan Op Vir Wat Reg Is
Baie keer voel ons daardie klein “nudge” in ons binneste wanneer ons bewus word van iemand wat iets doen wat hulle nie moet nie. Dikwels word hierdie gewaarwording oorskadu deur ons vrees om te praat of vir ‘n moontlike teenreaksie. Dit is ‘n belangrike deel van integriteit, alhoewel dit gewoonlik die moeilikste deel is om in die praktyk toe te pas. Maak ‘n daaglikse hertoewyding aan ‘n lewenstyl van integriteit en ervaar die vrug van God se seën en die guns van mense in jou lewe.

3. OKTOBER: PASTORE WAARDERINGSMAAND

As kerk het ons oor die laaste paar jaar ‘n tradisie gevestig om veral te fokus op die waardering van ons Pastore, hul gades en kinders gedurende Oktober maand. In hierdie verband is ‘n Omsendbrief aan Streke, Netwerke en Departemente gestuur en kan afgelaai word vanaf die onderstaande skakel:
https://afm-ags.org/pastors-appreciation-october-2022/

4. AGS VAN SA NASIONALE KALENDER 2023

Die AGS van SA Nasionale Kalender vir 2023 is nou beskikbaar vanaf die AGS webblad – gebruik gerus die onderstaande skakel om die kalender af te laai:
https://afm-ags.org/category/media/

Vriendelike Groete!
Henri Weideman

Spread the word...