Laai die PDF weergawe hier af:
AGS Kollega,
Ek wil almal bedank wat deel was van die AGS Nasionale Dag van Gebed en Vas verlede Sondag. Ek het boodskappe van waardering ontvang van vele Pastore asook lidmate. Ons is wel nog nie uit die gevaarsone nie. Ons moet dus aanhou om vir ons mense in te tree deur middel van gebed.
Op 8 Maart het ons Internasionale Vrouedag gevier. Hierdie komende Sondag, 9 Augustus 2020 vier ons Nasionale Vrouedag in Suid-Afrika. Ons vier ook die hele Augustus as vrouemaand. Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om alle AGS-vroue ‘n gelukkige vrouedag en ‘n gelukkige vrouemaand toe te wens!
Begrafnisse is nog steeds ‘n gevaarsone as dit kom by die verspreiding van die Koronavirus. Dit is hoofsaaklik as gevolg van ‘n gebrek aan die toepassing van die Koronavoris-protokol soos sosiale afstand, die dra van maskers en die ontsmetting en was van hande met seep en lopende water. Ongelukkig is hierdie die geval by die begrafnisse van hoëproefiel individue. As AGS-leierskap het ons die standpunt ingeneem dat leiers en lidmate ten alle koste die oordrag van die virus moet vermy en eerder kanale van hoop moet bly. In hierdie verband wil ek ‘n beroep op alle Pastore maak om alles te doen om te verseker dat besmetting by ons begrafnisse verhoed word. Ek het die vrymoedigheid geneem om ‘n riglyndokument vanaf www.churchinaction.org.za vir jou as verwysing in te sluit:
Op die onlangse Nasionale Leierskapsforum is die nuwe AGS-kapelaansdienskomitee aangestel. Hulle is Dr. Henri Weideman (Voorsitter), Past. Florence Sibanyoni (Sekretaris), Past. John T. Lempe (Suid-Afrikaanse Polisiediens AGS-skakelbeampte), Past. Vincent Grobler (Departement van Korrektiewe Dienste AGS-skakelbeampte) en Past. John N. Jaftha (Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag AGS-skakelbeampte). Ek vra om hulle in jou gebede te hou.
My gebed is dat God jou sal onderhou, jou krag sal gee en jou sal lei terwyl jy voortgaan met jou bediening onder moeilike en pynlike omstandighede tydens die Koronavirus tydperk.
Seën!
MG Mahlobo