Laai die PDF weergawe hier af:
‘N NOODPLAN & GEBED VIR DIE VERKIESING
Liewe AGS Kollega,
‘n Noodplan
Onlangse vloede in Durban en Port St John’s was rampspoedig. Baie mense het hul huise, meubels, kos, klere en ander waardevolle goedere verloor. Baie lewens is ook verloor. Paaie en brûe is vernietig. Ek het ons Streeksleiers in die geaffekteerde gebiede versoek om alles in hul vermoë te doen om te help (verwys na die AGS Facebook-boodskap wat op 25 April 2019 uitgereik is – https://www.facebook.com/AFMOFSA/).
Ek wil graag ons Streekskomitees bedank in al die geaffekteerde gebiede wat uitgereik het na die slagoffers. Hulle het deur hierdie aksie gedemonstreer dat die AGS sy sosiale verantwoordelikheid (gemeenskapsbetrokkenheid) ernstig opneem. Ek wil graag ons pastore versoek om die AGS se noodplan wat in 2015 deur die NLF (Nasionale Leierskaps Forum) goedgekeur is, te implementeer. Ingevolge hierdie plan moet elke AGS-familie gevra word om nie-bederfbare kos, water en ander noodsaaklikhede, soos klere en kerse te bring na die plaaslike gemeente op ‘n spesifieke Sondag. Hierdie items moet dan in ‘n stoor wat vir noodgevalle bedoel is, geplaas word. Elke AGS gemeente behoort ‘n noodkomitee te hê vir die bestuur en verspreiding van hierdie materiaal in noodtoestande. In die geval waar daar nie ‘n noodtoestand was gedurende die jaar nie, kan hierdie items gegee word aan behoeftige lidmate of lede van die plaaslike gemeenskap.
Die les uit die onlangse vloede is dat ‘n werklike ramp die potensiaal het om selfs voorspoedige gemeenskappe kwesbaar en in ‘n krisis te laat. Die kerk moet haarself her-positioneer in die samelewing, nie net as ‘n pastorale en profetiese agent nie, maar ook priesterlik as ‘n maatskaplike agent wat tot voordeel van die gemeenskap strek.
Gebed vir die Verkiesing op 8 Mei 2019
Oor vyf dae sal Suid-Afrika stem. In teenstelling met die vorige verkiesings, voel ek ‘n hoë vlak van onsekerheid en wanhoop onder diegene wat moet stem. Die regering se versuim om te lewer op beloftes, die gebrek aan dienslewering in baie van ons gemeenskappe, korrupsie en vrystelling van straf, is van die dinge wat veroorsaak dat mense hoop verloor dat die politici op hul manifesbeloftes sal lewer.
Sommige kiesers het besluit om nie te stem nie, terwyl ander hul ontevredenheid wil uitdruk deur bedorwe stembriewe. Daar is ander stemme wat praat oor alternatiewe maniere om regeringsamptenare te dwing om te doen wat enige regering verwag om vir sy burgers te doen, bv. openbare protes. Hulle reken dat openbare druk deur massademonstrasies vinniger resultate lewer as ‘n stembrief.
As leier van hierdie kerk wil ek ons lidmate ernstig aanmoedig om wel te stem omdat dit een van die maniere is waarop ‘n landsburger regeringsbesluite kan beïnvloed. Dit is binne die mag van die kiesers om diegene in regeringsposisies aanspreeklik te hou teenoor die burgers van die land. Burgers kan altyd aanspreeklikheid eis deur middel van siviele aksies soos demonstrasies indien die regering nie sy mandaat en beloftes nakom nie. Daar is baie wat sê: “Ek weet nie vir wie om te stem nie.” Inderdaad, dit is ‘n dilemma vir baie Suid-Afrikaners. Wel, ek is nie oortuig dat daar op hierdie tydstip ‘n politieke party is wat ‘n kits oplossing het vir al die land se probleme nie. Enigeen wat ‘n vinnige oplossing vir die land se probleme belowe, is belaglik.
Ons moet onself laat lei deur Bybelse beginsels, gelykheid, geregtigheid, ubuntu en sosiale samehorigheid. Ek weet dat baie van julle vir die komende verkiesings gebid het. Ek vra dat ons die komende Sondag, 5 Mei 2019 tyd sal neem om te bid vir God se ingryping in die komende verkiesings op 8 Mei 2019.
Seën!
M.G. Mahlobo