Laai die Nuusflits af in PDF-formaat (om maklik per e-pos te stuur of uit te druk):
AGS Nuusflits, Vrydag 3 Desember 2021
HULPBRONNE
1. AGS van SA: Nasionale Kalender 2022
https://afm-ags.org/afm-calendar-2022/
2. Pastorale Brief: 4de Kwartaal (Nuut!)
https://afm-ags.org/pastorale-brief-4de-kwartaal-2021/
3. NOB Bemagtigingsbesoeke 2021: PowerPoint Aanbiedings (Laaste Kans!)
https://afm-ags.org/nob-empowerment-visits-2021-power-point-presentations/
4. NOB Bemagtigingsbesoeke 2021: Video Opnames (Laaste Kans!)
https://youtube.com/playlist?list=PLMguBPJZpLHYtSymo7ubUs2oXGS28rDn3
5. NOB Inhuldiging Foto Album: Hoogtepunte
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.1586119138392238&type=3
AGS Kollega,
INHULDIGING VAN DIE NUWE NASIONALE AMPSDRAERS
Die verkiesing van die nuwe Ampsdraers van die AGS van SA het plaasgevind op 16 en 17 November 2021 tydens ‘n hibriede in-persoon en digitale Algemene Besigheids Vergadering, gelyktydig gehou in 19 verskillende lokale. Die inhuldigingseremonie (met Covid-19-distansiëring & higiëneregulasies in plek) is op Dinsdag, 30 November 19:00 by die Doxa Deo Midstream-kampus gehou.
Die geleentheid is regstreeks gestroom en kan op Die AGS van SA se Facebook-blad besigtig word: Kliek hier vir die video. Pastoor Thandanani Savhasa, Presiderende Pastoor van die AGS Naledi Gemeente, het die taak van seremoniemeester met flair en onderskeiding vervul.
Die eerste Ampsdraers wat ná eenheid in 1996 verkies is, Dr Isak Burger (President), Dr Frank Chikane (Adjunkpresident), Pastoor George Mahlobo (Hoofsekretaris) en Pastoor Peter de Witt (Hooftesourier), is gevra om vir die nuutverkose Ampsdraers te bid. Ongelukkig moes Dr Chikane hom aan die geleentheid onttrek omdat hy aan individue met Covid-19 blootgestel is. Dr Japie La Poorta het in sy plek gebid, en ‘n opname wat Dr Chikane gestuur het, is gespeel. Pastoor George Mahlobo, President van die AGS Internasionaal en uitgaande President van Die AGS van SA, het woorde van bemoediging gebring en die induksie van die nuwe Ampsdraers waargeneem.
Jamela Vuma, bekroonde opnamekunstenaar en aanbiddingsleier van die AFM Impact Christian Centre in Midrand, het ons met Zoeloe- en Engelse aanbiddings liedjies bedien. Nkhensani Mthembi, die 11-jarige dogter van Pastoor Gerald en suster Thandi Mthembi, het die Ampsdraers gelukgewens. Pastoor Nimrod Kekana het ‘n spesiale gedig vir die inhuldiging geskryf en voorgelees en broer Andy Petersen het ‘n trompet nommer gelewer. Nadat die vier nuwe Ampsdraers elk ‘n kort boodskap gedeel het, het Dr Ina Smit, voorsitter van die Gauteng-Sentraal-streek, die geleentheid met gebed afgesluit.
In hierdie Nuusflits deel ons ‘n paar fotos van die geleentheid.
‘n Woord van Dank
Pastoor George Mahlobo en Dr Japie La Poorta, die uittredende President en Adjunkpresident van Die AGS van SA, verdien ‘n spesiale woord van dank vir hul jare van toewyding en diens aan die AGS. Hulle diensbare ingesteldheid, opregte harte en voortdurende opoffering, sowel as hulle korporatiewe geheue sal altyd onthou word en bly ‘n ryk bron van inspirasie en leiding.
Fokus op ons Visie
By die inhuldiging het ek die droom gedeel wat ek glo God in my hart vorm. Hierdie prentjie vloei uit die visiestelling van die AGS van SA: “We see a church accessible to all people, celebrating our unity and God given diversity, empowering our members for caring and changing communities to the glory of God.”
In hierdie verband: Sien ek ‘n kerk: Nie ‘n sosiale klub nie. Nie ‘n politieke organisasie nie. ‘n Pinksterkerk, wat funksioneer as ‘n uitdrukking van die Liggaam van Christus in Suid Afrika en wat morele en etiese leiding gee. Ek sien ‘n kerk wat relevant is vir die tyd waarin ons leef en terselfdertyd vashou aan Bybelse waardes en beginsels.
Dit is noodsaaklik dat ons Pastore toerus en oplei met die nodige Teologie, Leierskap en Entrepreneuriese vermoëns, om effektief te wees in die veranderende en uitdagende tye waarin ons leef.
Ek sien ‘n kerk toeganklik vir álle mense: Die post-Impressionistiese kunstenaar Vincent van Gogh het die kerk in Auvers in 1890 geskilder. Hy het dit uitgebeeld as ‘n plek van verdoemenis en somberheid – met donker vensters – wat die donker lug rondom die gebou weerspieël en geen lig van binne uitstraal nie. Uit die hoek wat hy dit geverf het, is daar ook geen deure sigbaar nie. Dit skep ‘n prentjie van ‘n ontoeganklike en onwelkome donker plek.
Die AGS moet altyd toeganklik wees vir ALLE mense. Lidmate van alle ouderdomme, sowel as besoekers moet by die deur gegroet word en welkom voel. Ons moet praktiese kerkplantings- en groeiplanne in plek stel om te verseker dat waar jy ook al mense vind, jy die AGS sal vind.
Nie net moet elke plaaslike gemeente toeganklik wees vir alle mense nie, maar ons leierskapstrukture moet ook toeganklik wees vir nuwe en opkomende leiers – beide manlik en vroulik. In hierdie verband voorsien ek ‘n doelgerigte leierskapsontwikkelings- en erkenningsprogram.
Die welstand en deurlopende ontwikkeling van al ons pastore is ook areas waar toeganklikheid baie belangrik is.
Ek sien ‘n kerk wat ons eenheid en God-gegewe diversiteit vier: Ons diversiteit moet nooit gebruik word as ‘n instrument vir verdeeldheid nie. Dit moet gevier word as ‘n bate in ons voortgesette ontwikkeling en groei. Ons diversiteit vind gestalte in ‘n ruiker van kulture, tale, tradisies, leerervarings, stories, maniere van uitdrukking en liturgieë. Nie een van hulle is “beter” as ander nie, net anders. Ons kan soveel van mekaar waardeer en leer indien ons aktief deelneem aan die diversiteit wat die AGS bied.
Ek sal ‘n gedeelte van my tyd en werk spandeer om die eenheid waarvoor baie van ons leiers, pastore en lidmate soveel opgeoffer het, te versterk en te verdiep. Die bereiking van strukturele eenheid in 1996 was ‘n merkwaardige mylpaal op hierdie reis wat nog moet voortduur, soos wat ons ons samehorigheid waardeer en versterk.
Ek sien ‘n kerk wat ons lidmate bemagtig om gemeenskappe te versorg en te verander, tot eer van die Here. Ons leef in ‘n wêreld en samelewing waar baie mense ly, behoeftig is, eensaam is en mishandel word. As kerk het ons ‘n mandaat om na mense in nood om te sien. Ons lidmate moet bemagtig word om vir ander om te gee op maniere wat werklik ‘n verskil maak aan die welstand van alle mense in ons gemeenskappe.
As Pinkstermense kan ons nie onverskillig teenoor die sosio-ekonomiese en omgewingskwale in ons samelewing wees nie. Ons moenie so op die hemel fokus dat ons van geen aardse nut is nie. Op Nasionale-, Streeks- en Plaaslike vlakke moet ons agente van verandering wees, en ons lidmate moet bemagtig word om op volhoubare maniere daarby betrokke te wees.
Ek is baie bewus daarvan dat die funksie van Die AGS van SA President vir ‘n seisoen aan my toegewys is. Ek sal my beste gee in hierdie tyd. Ek dank jou vir jou welwillendheid en vra nederig vir jou voortgesette gebed.
Seën!
Henri Weideman