Laai die PDF weergawe hier af (om maklik te e-pos of uit te druk):
AGS Nuusflits: Vrydag, 21 Oktober 2022
OKTOBER
HULPBRONNE
Pastorale Brief: 3de Kwartaal 2022
https://afm-ags.org/pastorale-brief-3de-kwartaal-2022/
AGS van SA Nasionale Kalender 2023
https://afm-ags.org/category/media/
Oktober: Pastore Waarderingsmaand
https://afm-ags.org/pastors-appreciation-october-2022/
1. MOENIE VREESAGTIG WEES NIE
Bid Sonder Ophou
Daar is verskeie omstandighede en scenario’s wat in die wêreld en veral tans in Suid-Afrika plaasvind, wat veroorsaak dat baie van ons diep bekommerd en vreesagtig is, selfs tot die punt van angstigheid. Paulus bemoedig ons met die volgende woorde: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.” Filippense 4:6-7 (NLV).
Gebed gaan nie net daaroor dat ons God voorsien van ‘n “inkopielys” van dinge wat ons nodig het of begeer nie. Dit gaan nie oor die gebruik van ‘n geestelike spaarwiel wanneer ons in die moeilikheid is nie. Dit gaan oor die vestiging van ‘n verhouding met God wat gebou is op ons geloof en vertroue in Hom. Op grond van hierdie verhouding kan ons ons versoeke, bekommernisse en behoeftes aan Hom voorlê, met die wete dat Hy na ons luister en omgee.
Die Bybel is vol individue en groepe mense wat gebid het vir ‘n verskeidenheid dinge waaroor ons vandag nog bid: Siekte, gevaar, droogte, finansies, vrees en bekommernisse. Ons kan oor enige iets bid. Paulus leer ons om te bid in plaas daarvan om ons oor hierdie dinge te bekommer. Sommige mense sal sê dit is feitlik onmoontlik om nie bekommerd te wees nie, gegewe hul huidige ervarings.
In plaas daarvan om met angs en vrees te leef, in plaas daarvan om pessimisme en gevoelens van hulpeloosheid te ervaar, sal ons gebede ons in die atmosfeer van God se vrede bring. Sy vrede is nie relatief tot die vlak van vrees of bekommernis wat ons ervaar nie. Dit oortref ons begrip op elke moontlike manier, in elke situasie. Die implikasie hiervan is dat mense wat bid, ‘n “abnormale” vlak van vrede ervaar, selfs in die moeilikste en uitdagendste omstandighede. Gebed trek ons nader aan God se teenwoordigheid en beskerm ons harte en gedagtes teen hopeloosheid en angs.
Dit beteken nie dat mense wat bid en wat dan in alle omstandighede God se vrede ervaar, niks aan die situasie moet doen nie. Mense van gebed word nie geroep om passief en onaktief te wees nie: Ons moet steeds doen wat nodig is en wat ons kan, terwyl ons God vertrou om die res te doen. “The people who know their God shall stand firm and take action.” Daniel 11:32b (ESV). Die beste manier om angs oor die realiteite van ons lewe en land te vervang, is om sonder ophou te bid. As ons dit doen, is die belofte dat die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, ons harte en gedagtes in Christus Jesus sal bewaak.
Die 26ste Pinksterwêreldkonferensie Kom Byeen Om Te Bid Vir Vrede En Herlewing
(Seoel, 14 Oktober 2022) – Die derde en laaste dag van die 26ste Pinksterwêreldkonferensie het begin op die golwende heuwels en welige gronde van die Koreaanse skiereiland, bekend as die Gedemilitariseerde Sone (DMZ). Meer as 25 000 aanbidders het na Vredespark gekom, wat by die afbakening tussen Noord-Korea en Suid-Korea geleë is. Die groot skare het bymekaargekom om te bid vir vrede in die skiereiland, versoening tussen die Koreaanse nasies en herlewing in die volgende generasie. Die openingsviering het die 47 nasies wat in die Pentecostal World Fellowship verteenwoordig word gevier met ‘n parade van vlae, die godsdienstige demografie van elke land en hul unieke behoeftes aan gebed.
2. OKTOBER: PASTORE WAARDERINGSMAAND
As kerk het ons oor die laaste paar jaar ‘n tradisie gevestig om veral te fokus op die waardering van ons Pastore, hul gades en kinders gedurende Oktober maand. In hierdie verband is ‘n Omsendbrief aan Streke, Netwerke en Departemente gestuur en kan afgelaai word vanaf die onderstaande skakel:
https://afm-ags.org/pastors-appreciation-october-2022/
3. AGS VAN SA NASIONALE KALENDER 2023
Die AGS van SA Nasionale Kalender vir 2023 is nou beskikbaar vanaf die AGS webblad – gebruik gerus die onderstaande skakel om die kalender af te laai:
https://afm-ags.org/category/media/
Vriendelike Groete!
Henri Weideman