Nuusflits: Vrydag, 15 September 2023

AGS Nuusflits_Vrydag_15 SEPT 2023

HULPBRONNE

Konferensie: ‘n Woord van Dank –
Pastoor Selby Khumalo (Hoofsekretaris):
https://afm-ags.org/category/media/

Vang Op! Konferensie Sessies:
https://www.youtube.com/@theapostolicfaithmissionof621/streams

Liewe Kollega,

ABLAZE AGS NASIONALE KONFERENSIE 2023: REFLEKSIE

Ek is baie dankbaar dat ons 2023 Nasionale Konferensie (7-9 September) inderdaad nie net nog ‘n byeenkoms was nie, maar ‘n tyd van verfrissing, onderlinge gemeenskap en werklike opheffing. Ons is daaraan herinner dat óns die lig van die wêreld is. Dat hierdie lig nooit weggesteek moet word nie, maar soos ‘n lamp op ‘n kandelaar moet wees, en ‘n stad op ‘n heuwel – ‘n lig wat vir almal sigbaar is.

Ons lig moet só skyn dat mense ons goeie dade sal sien en die ware God in die hemel sal verheerlik. Ons lig moet skyn sodat dit ‘n impak op die volgende generasies sal hê en ons geloof en DNS as Pinkstergelowiges aan ons jongmense en kinders oorgedra word. Ons was soos baie ander, vroeër in die duisternis, maar sedert ons die Here se volk geword het, is ons mense van die Lig en moet ons doelgerig lewe soos mense wat aan die Lig behoort. Ons lig mag nooit die veranderende kulture en omstandighede rondom ons weerkaats nie. Net soos die maan wat geen lig van homself het nie, maar net die son weerkaats – so moet ons Jesus altyd weerkaats.

Tydens die PCD-sessies – wat baie goed bygewoon is – is twee baie relevante onderwerpe aangebied. Die een was oor geestesgesondheid en hoe ons dit proaktief kan aanspreek, en die ander oor ‘n Pinksterperspektief op die verskynsel van “valse” profete. Hierdie aanbiedinge kan afgelaai word vanaf die konferensie webblad: http://www.events.afm-ags.org/. Intussen het ons ook navrae ontvang oor Hermann du Plessis se boek getiteld “Leading with Intent”. Indien jy hierdie boek wil bestel, stuur ‘n e-pos direk aan Hermann by hermann@ttli.co.za. Hy sal dan terug antwoord met besonderhede rondom betaling en aflewering. Indien die boek direk by Hermann gekoop word is dit R200 (dit is heelwat duurder by boekhandelaars).

Ek bedank almal wat deel was van die organisasie om die konferensie moontlik te maak, sowel as almal wat deel was van die daaglikse program en elke individu wat die moeite gedoen het om dit by te woon. Sommige mense het ver gereis – selfs vir meer as een dag – om teenwoordig te wees. Ons het die diversiteit van ons kerk ervaar in aanbidding, in die program en in die bywoning. Baie mense het getuig oor die gees van eenheid en vrede onder almal wat teenwoordig was.

Verskeie mense het die konferensie beskryf as “kragtig en onvergeetlik”, as “’n bonatuurlike ontmoeting” en “vol van die krag van die Heilige Gees”. Ek het veral kennis geneem van die opmerking van iemand wat gesê het: “Ons identiteit is herbevestig.” My gebed is dat ons nie net sal aanbeweeg na die volgende, of ‘n ander konferensie en ervaring nie, maar dat ons die tyd sal neem om na te dink oor wat God deur sy Heilige Gees tydens hierdie konferensie met ons gedeel het. Mag ons dan nie soos die persoon wees wat hom/haarself in ‘n spieël sien weggaan en vergeet nie, maar laat ons regtig in die praktyk dóen wat ons gehoor het.

Vriendelike Groete!
Henri Weideman

Spread the word...