Nuusflits: Vrydag, 12 Maart 2021

Laai die PDF-Weergawe hier af (om maklik te e-pos of uit te druk):

AFM 12 MAR AFR NUUSFLITS

HULPBRONNE:

1. GBM Aanlyn Registrasievorm:
https://afm.easychurch.co.za/?page_id=413

2. Pastorale Brief: 4de Kwartaal:
https://afm-ags.org/pastorale-brief-4de-kwartaal-2020/

3. AGS van SA Nasionale Kalender:
https://afm-ags.org/updated-afm-calendar-2021/

AGS Kollega,

1. BOODSKAP VAN BEMOEDIGING

Vandag sluit ek ‘n spesiale en relevante boodskap van bemoediging in, geskryf deur Past. Barend Petersen – ons Algemene Tesourier. Hy het ook sy eggenoot, Dawn en sy dogter, Grace gevra om spesifieke bydraes te lewer aan die Eggenote van ons Pastore asook ons Pastoorskinders. Mag ons AGS Pastorale Families geseënd wees deur hierdie woorde van bemoediging.

AAN ONS PASTORE – PAST. BAREND PETERSEN 

Vandag voel ek in my gees om net uit te reik en my hartlike dankbaarheid en meegevoel te betuig aan elke Pastoor, Mede-Pastoor, Lede van die Beheerliggaam, Lidmate en gesinne van ons geliefde AGS.  Ek skryf aan jou in ‘n tyd wat ek diep geraak is, want ek onthou diegene wat ‘n goeie stryd gevoer het en onder hierdie pandemie geswig het. Baie van ons het die afgelope jaar geliefdes verloor en die pyn is nog vars in ons geheue. Om afskeid te neem van ons geliefdes was soveel moeiliker, want ons kon nie rou soos ons gewoonlik gerou het nie en ons was sonder die ondersteuning wat ons gewoonlik deur ‘n tyd van hartseer sou gedra het.

Alhoewel die roeping van Pastore bonatuurlik is, bedien en leef ons ons lewens verweef in die lewensiklusse en die ervaringe van ons lidmate wat ons in hierdie gebroke wêreld bedien. Toewyding aan ons roeping as Pastoor verhinder nie ons en ons gesinne om blootgestel te word aan die beproewinge van die lewe nie, insluitend verlies, pyn, lyding, moedeloosheid, teleurstellings en dood. Ons ervaar ook die uitdagings van die lewe soos alle ander mense: as ouers, in ons huwelike, ons finansies, ons gesondheid en verbroke verhoudings. Soms is ons sprakeloos wanneer ons God desperaat vertrou vir ‘n wonderwerk en ons geloof beantwoord word met ‘n koue stilte vanaf God.

Ons weet dat God ons deur Sy Gees vertroos in pyn en siekte en dat hy ons siele kan genees. Pastore, ek is bewus daarvan dat ons byeenkomste diep geraak is deur die Covid-19 pandemie. Ons is nie in staat om te vergader vir dienste of gebedsbyeenkomste in ons kerke nie. Daar is geen uitreike, opelug konferensies, huisbesoeke of ander byeenkomste soos wat ons gewoond was nie. Ons sien ‘n vinnig veranderende wêreld – ‘n verskuiwing van dit waaraan ons gewoond is, na ‘n plek van onsekerheid. Die Covid-19 pandemie en selfs die houding van ons regering veroorsaak dat die kerk nadink oor haar invloed in die samelewing.

Ek het nagedink oor die profeet Habakuk wat in Hoofstuk 1:1-4 aan ons voorgestel word as ‘n wanhopige profeet – ‘n profeet wat God betwyfel. Hy is oorweldig deur die omstandighede rondom hom en dit lyk asof God Hom van die aardbol verwyder het. God is nêrens te vinde nie. Sy wanhoop is tasbaar, die pyn is werklik, die twyfel is verterend, die toekoms lyk bleek, en alle hoop het verdwyn. Te midde van die pyn en onsekerheid, te midde van die hopeloosheid en duisternis, ervaar Habakuk ‘n visioen van God se herstellingskrag wat deur Dawid so lewendig verkondig is, in Psalm 121″Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

Die profeet word nie meer beheer deur of selfs bekommerd oor sy omstandighede nie, sy oë is op God gerig. Hy word nie meer oorweldig deur wat hy om hom sien nie, maar deur wat hy glo. Hy verkondig hierdie woorde wat verewig is en wat vandag nog geld in Hoofstuk 3:

17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. 19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

2020 was een van die moeilikste jare vir ons almal en dit wil voorkom asof hierdie pandemie die wêreld langer gaan affekteer as wat ooit verwag is. Ek het al die herstellingskrag van God ervaar gedurende die moeilikste tye van my lewe. Gedurende die afgelope vier jaar het ek dit weer beleef en ek kan getuig van sy onfeilbare genade. My broers en susters, ek wil hê dat julle moet weet dat ons saam hierin is. As ‘n gesin van die AGS van SA bedank ons jou vir jou getrouheid en jou standvastigheid in geloof en dat jy nie opgee nie.

Vandag bid ek vir ons Pastore, hul eggenote en ook hul kinders wat deur moeilike tye gaan – veral die wat ‘n intense konflik of stryd ervaar tussen geloof en ons menslike ervarings. Ek bid dat jy en jou gesin die teenwoordigheid van God sal ervaar, soos Habakuk. Dat jou vertroue en hoop gestel is op dit wat hoër is as dit wat jy besig is om menslik te ervaar. Ek bid dat God ons sal dra in hierdie moeilike tye wanneer ons almal ‘n behoefte het aan sy teenwoordigheid – aan die Een wat ons tot sy diens geroep het om sy heerlikheid te verkondig.

AAN ONS PASTORE SE EGGENOTE – DAWN PETERSEN 

Ek skryf aan jou tydens hierdie pynlike tyd, maar ek vertrou dat God alles verstaan waardeur ons tans gaan. As eggenote van Pastore het ons ‘n groot verantwoordelikheid teenoor ons gesinne en veral as ons saam met ons man/vrou in die bediening lei.

Ons leef tans in onsekere tye met die uitbreek van Covid-19. Gedurende sulke tye kan ons geloof uitgedaag word, en dit kan moeilik wees om te sien waar God inpas by hierdie nuwe normaal. Ons kan getuig van die pyn en angs wat ons eggenote verduur wanneer ‘n geliefde aan die dood afgestaan word. Ek waardeer jou oortuiging om behoeftiges te help, en jou toewyding om gesinne en lidmate in ‘n tyd van onsekerheid gerus te stel. Ons het van ons lidmate begrawe, en sommige van ons selfs ons eie geliefdes. Die pyn wat ons dra en die vrees wat ons het, sal niemand verstaan behalwe die Here ons God nie.

Vandag wil ek elke eggenoot bedank wat in die veld is as ‘n werker in die voorste linie. Aan elke eggenoot wat nog nooit oor die werk gekla het nie, maar jou verantwoordelikheid in die bediening met blydskap aanvaar het. Jou uithouvermoë en krag om in die bediening te staan, gee elke eggenoot hoop om voort te gaan met hul gawes en roeping. Ek weet daar is tye wat ons nie eens waardeer word vir wat ons doen nie, maar ek is vandag geseënd dat ons as eggenote van Pastore langs mekaar kan loop en dat ek jou my “suster” of “broer” kan noem.

Onthou dat God se Woord ons vertel dat in die dag van swaarkry en moedeloosheid, ons skuiling moet soek by God wat ons geloof bevestig. Ons moet ons mans en vrouens ondersteun, sowel as diegene wat aan ons toevertrou is. God is nie onregverdig om ons werk en liefdesarbeid in moeilike tye te vergeet nie. Hy wat belowe het om altyd by ons te wees, is getrou om ons te onderhou. Wat my aan die gang gehou het was my oortuiging dat ons hierdie vaste fondament het. Ons dien ‘n onbeweeglike God wat ons laste op Sy skouers werp omdat Hy gelowiges nooit sal teleurstel nie!

Rus in die teenwoordigheid van God. Weet dat ons ook verkwik, vertroos en gevoed sal word. Sy oorvloedige lewe bring genesing aan ‘n vermoeide en belaste siel. Bly geseënd in oorvloed. Gaan voort van krag tot krag!

AAN ONS PASTOORSKINDERS – GRACE PETERSEN 

Omdat ek ‘n pastoorskind is, weet ek dat jou ouers konsekwent na ander omsien. Jy sien hoe hulle om 03:00 die oggend by ‘n gesin opdaag omdat ‘n geliefde oorlede is. Jy sien hoe hulle hul tyd, hulpbronne en energie opoffer vir die groter prentjie. As herders, sien jy hoe hulle onselfsugtig diegene dien wat God aan hulle toevertrou het.

As dit is wat menslik moontlik is in terme van omgee, hoeveel te meer gee God nie om nie? Hy sorg konsekwent vir jou. Hy wil daar wees vir jou tydens jou 03:00 in die oggend oomblikke. Hy het reeds sy Seun gestuur sodat jy ‘n lewe in oorvloed kan hê. Jy is die groter prentjie (wel, natuurlik saam met jou broers en susters) en dit wat in God se gedagtes was toe Hy sy Seun Jesus Christus gestuur het.

Jy word versorg. Jy is geliefd. Dit is ons besluit om Sy sorg te aanvaar. Nie net op die punt van redding nie, maar om dit werklik te aanvaar, daagliks. Om ons lewens te leef met die wete en die geloof dat daar na ons omgesien word deur ‘n God wat barmhartig en genadig is, lankmoedig is en vol liefde is.

Van een pastoorskind na die ander.

Seën!
M.G. Mahlobo

Spread the word...