Laai die Nuusflits af in PDF formaat (om maklik per e-pos te stuur of uit te druk):
AGS Nuusflits Vrydag, 10 Desember 2021
HULPBRONNE:
1. AGS van SA: Nasionale Kalender 2022
https://afm-ags.org/afm-calendar-2022/
2. Pastorale Brief: 4de Kwartaal (Nuut!)
https://afm-ags.org/pastorale-brief-4de-kwartaal-2021/
3. NOB Inhuldiging Foto Album: Hoogtepunte
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.1586119138392238&type=3
AGS Kollega,
Neem asseblief kennis dat die Nasionale Kantoor op Vrydag, 10 Desember 2021 sal sluit en weer sal open op Dinsdag, 4 Januarie 2022. Die Nasionale Kantoorpersoneel het ‘n besonderse besige jaar gehad, veral met die voorbereiding en aanbieding van die onlangse GBM (Algemene Besigheidsvergadering). Ek wens al ons personeel ‘n goeie en veilige rustyd saam met hulle gesinne en geliefdes toe.
Indien daar iets is wat jy dringend met die Nasionale Kantoor moet kommunikeer, kan jy die Kantoorbestuurder kontak:
Desmond Alie by 079 864 3009
Ter kennisname gee ons graag die e-pos adresse van die nuutverkose Nasionale Ampsdraers:
Dr Henri Weideman: henri@afm-ags.org
Past. Barend Petersen: barend@afm-ags.org
Past. Selby Khumalo: selby@afm-ags.org
Past. Rudi Coertzen: rudi@afm-ags.org
Ek het ‘n paar video boodskappe opgeneem wat op die AGS van SA se sosiale media platforms gedeel sal word gedurende die vakansietyd. Maak asseblief ‘n nota hiervan: ‘n Kersboodskap op 25 Desember 2021, ‘n Nuwejaarsboodskap op 1 Januarie 2022 en ‘n boodskap oor ons Januarie-maand van Gebed en Vas op 4 Januarie 2022.
Die AGS Welsynsnaweek het gedurende die laaste naweek in November plaasgevind en ons nooi graag ons Gemeentes uit om ons meer te vertel oor watter aksies uitgevoer was deur die lidmate. Stuur vir ons ‘n kort verslag en foto’s na:
ashleyt@afmwelfare.org OF chantalle@afm-ags.org
Ons sien uit om terugvoer te ontvang en te hoor hoe AGS Gemeentes uitgereik het na ouer persone in hul gemeenskappe. Ons sal graag hierdie aksies wil deel op die AGS se sosiale media platforms. By voorbaat dankie vir jou deelname aan hierdie versoek.
Suid-Afrika het so pas nog ‘n 16-dae tydperk wat toegewy is aan die stryd teen geslagsgebaseerde geweld, voltooi. Dit voel soms vir my asof te veel mense net lippediens aan hierdie pogings gee, dat dit in die algemeen net by woorde bly, en dat die mishandeling en geweld teen vroue en kinders gevolglik ‘n voortslepende skandvlek in ons gemeenskappe bly.
Ons as gelowiges, saam as kerk, moet (en kan) ‘n verskil aan hierdie situasie maak. As Pastore en pa’s moet ons ander hieroor leer en die Bybelse standpunt duidelik maak: ‘n Man moet sy vrou liefhê en respekteer en haar behandel op ‘n manier wat God eer. Efesiërs 5:25 (AFR’83) sê: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê, soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het.” By sy opdrag tot liefde voeg Paulus in Efesiërs 5:33 die volgende by “… elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homsélf liefhet.” 1 Petrus 3:7 (NLV) sê: “En julle, mans, behandel julle vroue met respek. Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee. As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.”
Wanneer dit kom by hoe ouers hulle kinders moet hanteer, leer die Bybel dat ons ons oor ons kinders moet ontferm, hulle moet vertroos en hulle met die dissipline en leiding wat van God af kom, moet grootmaak. Die manier waarop ons lewe, moet hulle in staat stel om ons voorbeeld te volg, net soos ons God, ons Vader, navolg:
“Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor hulle wat Hom dien.” Psalm 103:13 (NLV)
“Soos ‘n moeder haar kind troos, so troos Ek julle” Jesaja 66:13 (NLV)
“Pa’s, moenie julle kinders so behandel dat hulle verbitterd word nie, maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra.” Efesiërs 6:4 (NLV)
“Wees navolgers van God soos geliefde kinders.” Efesiërs 5:1 (AFR’53)
Mag ons almal aktiviste wees teen die misbruik en geweld wat baie vroue en kinders beleef. Ons kan dit doen deur ‘n Goddelike voorbeeld in ons eie huise en gesinne uit te leef, maar ook deur hieroor te praat in ons vriendekringe, in ons gemeenskappe en by ons werkplekke. Ons moet nie net stilbly of wegkyk wanneer ons bewus is van voortdurende gevalle van mishandeling en geweld teen vroue en kinders nie, maar optree. Moenie misbruikers beskerm nie, rapporteer hulle! Beskerm kinders teen blootstelling aan geweld en skadelike inhoud op die internet en sosiale media, insluitend pornografie.
Ons moet sensitief en ondersteunend wees teenoor slagoffers van mishandeling en geweld en hulle op elke moontlike manier bystaan en ondersteun. Geweld teen vroue en kinders is iets waaroor ons moet praat en lering oor moet gee, maar dit moet meer as net woorde wees: Ons moet ook prakties ‘n verskil maak.
Hiermee ‘n spesiale woord van dank en waardering aan al ons Pastore en Gemeente Leiers, sowel as hul eggenote en families. Dankie vir jou getrouheid aan die Een wat jou geroep – veral gedurende 2021. Op baie maniere, hoofsaaklik as gevolg van die Covid- 19 pandemie, maar ook as gevolg van ander faktore, was hierdie ‘n uitdagende jaar vir baie van ons Pastore en hul gesinne. Ek dank jou dat jy aanhou om jou bes te doen. Mag jy tydens hierdie feestyd en skoolvakansie ‘n verfrissende tyd saam met familie en vriende vier.
Wees asseblief versigtig, kom voorkomende maatreëls na en indien jy reis, kom veilig terug.
Ek bid dat 2022 ‘n jaar vol nuwe geleenthede, gesondheid en seëninge vir julle almal sal wees!
Vriendelike groete en liefde
Henri Weideman