AGS Pastorale Brief: Laai die PDF weergawe hier af
Liewe kollega,
Op Vrydag die 25ste Mei is die Apostoliese Geloofsending van Suid Afrika se 110de verjaarsdag gevier! Hierdie historiese mylpaal is gevier met ‘n spesiale byeenkoms wat gehou is by die AGS Centurion gemeente in Pretoria met Pastoor Rudi Briel en Mariesa Briel as gasheer en gasvrou. Die tema van die diens was “The Going Gospel – Moving Forward” en is uitgebeeld deur middel van ‘n 110-jaar embleem wat spesifiek vir die geleentheid ontwerp was. Die kern van die embleem is die pyl wat simbolies is van die AGS se apostoliese DNA – simbolies van nuwe grond wat betreë word en die missie wat voortgedra word.
Die gaste was onder andere die Nasionale Ampsdraers, Streeks Ampsdraers in en rondom die Gauteng provinsie (verteenwoordigend van streke, netwerke en nasionale departemente), die AGS Nasionale Kantoor personeel, die leierskap van die AGS Centurion gemeente asook spesiale gaste van die Pinkster/Charismatiese Christen gemeenskap. In hierdie brief deel ons die boodskap wat gelewer is deur ons gassprekers op daardie oggend. My wens is dat hierdie Pastorale Brief jou sal seën deur jou te herinner aan:
- Waar die AGS vandaan kom (Kyk terug…)
- Die huidige impak en groei van die AGS (Kyk om ons…)
- Die toekomspad van die AGS (Kyk vorentoe…)
KYK TERUG… – OM VORENTOE TE BEWEEG MOET ONS ONTHOU WAAR ONS MISSIONALITEIT VANDAAN KOM
Dr. I.S. Burger – Voormalige President van die AGS
Die term “missionaal” het vandag ‘n sleutelwoord in kerkkringe geword, maar die konsep self is net so oud soos die kerk. Die kerk is in werklikheid die resultaat van God se missie. Hoe ver moet ons dan terug kyk? Die missionale konsep begin met God, Hy is die groot Sendeling. Hy is ook die eerste Afsender. Ons noem dit die Missio Dei. Die Vader stuur Sy Seun (Joh 3:16). Die Vader en die Seun stuur die Heilige Gees. Dan stuur die Vader, Seun en Heilige Gees ons (Joh 20:21). Die kerk is in wese a gestuurde entiteit, beide individueel en kollektief.
Die vroeë kerk, in besonder die kerk in Antioch, was ‘n missionale kerk.
Die kerk in Jerusalem was sentripetaal (m.a.w. middelpuntsoekend – beweeg na die middelpunt) terwyl die kerk in Antioch sentrifugaal was (m.a.w. middelpuntvliedend – beweeg weg van die middelpunt). Die kerk in Jerusalem was geneig om te fokus op die Jode en die dissipels was teësinnig om die stad te verlaat. Hulle was ook huiwerig om die bekering van nie-Jode te erken, bv. Cornelius en sy huishouding (Handelinge 10). Onthou ook die raadsvergadering in Handelinge 15. Antioch (in hedendaagse Turkeye) was ‘n missionale kerk wat Paul, sowel as ander, op verskillende missionale reise gestuur het. Dit is nodig dat ons onsself evalueer ten opsigte van hierdie aspek. Reflekteer ons die houding en ingesteldheid van die kerk in Jerusalem of van die kerk in Antioch? Om dit anders te stel: is ons “missional” of “attractional”? Is ons ‘n “Gaan en wees” kerk of ‘n “Kom en kyk” kerk?
“…impliseer missionaliteit die inkarnasie van Christus in ons gemeenskappe deur óns, Sy Kerk.”
Ons moet aanvaar dat God se belangrikste ontmoetingspunt met die wêreld nie ‘n kerkgebou is nie, maar die markplein (m.a.w. daar waar mense daagliks funksioneer). Ons verwys na die inkarnasie van Christus om te benadruk dat God mens geword het. In ‘n afgeleide betekenis impliseer missionaliteit die inkarnasie van Christus in ons gemeenskappe deur óns, Sy Kerk. Christus moet sigbaar wees deur ons. Hand 4:13 gee uitdrukking hieraan: “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.”
Wat die vroeë kerk nie gehad het nie, was ‘n missionale bestuursraad of ‘n missionale program. Sendingwerk was nie ‘n “program” nie, dit was die wese en kern van kerk-wees. God se missie in die wêreld is nog steeds verlossend. Hy wil Sy kerk gebruik as Sy hoof instrument. Om die metafoor van ‘n wiel te gebruik – sendingwerk was nooit bedoel om ‘n speek in die wiel te wees nie, maar die wielnaaf (of te wel die “hub”), die kern. Alle ander bedieninge en aktiwiteite is die speke wat hulle belangrikheid, waarde en betekenis vind deur deel te wees van die wielnaaf – geankerd in die Missio Dei.
“Sendingwerk was nie ‘n “program” nie, dit was die wese en kern van kerk-wees.”
Terwyl die term/konsep missionaal ‘n “moderne” woord is, was die ware betekenis daarvan aanvanklik deel van die AGS:
- John G Lake en sy metgeselle kom vanaf Amerika om sending/missionale werk te doen.
- Die doping van die Heilige Gees, net soos in die vroeë kerk, het gelowiges gemobiliseer om te getuig en te werk vir God. (Hand 1:8)
- Daar was slegs ‘n paar voltydse werkers, maar menigte voltydse getuies.
- Die rol van Goddellike genesing het die negatiewe sentimente van baie oorkom.
Of om dit op ‘n ietwat ander manier te sê: “It is not so much that God has a mission for his church in the world, but that God has a church for His mission in the world.” (Christopher Wright). Die AGS was inderdaad so ‘n kerk en behoort baie ernstig daaroor te wees om weer so te wees.
KYK OM ONS… – VIER DIE AGS SE IMPAK IN SUID-AFRIKA
Dr. H.J. Weideman – Algemene Sekretaris
Die AGS het met een gemeente in Doornfontein begin. In die begin van 1911 was daar 513 onopgeleide werkers (338 swart & 175 wit), waarna soms verwys is as die “Apostolic Faith Missionaries”. Oor die jare het die AGS gegroei tot 1.4 miljoen lede, gestruktureerd in 43 streke en netwerke, 1806 gemeentes, 2498 Pastore, 5 nasionale departemente (Kinder, Jeug, Mans, Susters, Welsyn), 9 gespesialiseerde bedieninge en ‘n Teologiese Kollege. Die administratiewe Hoofkantoor is in Central Office Park, Jeanstraat 257, Centurion.
Vroeë AGS lidmate het die missionale taak beskou as hulle hooftaak, kommissie of opdrag. Op daardie stadium was die name “Apostoliese Geloofsending” en “Apostoliese Geloofsbeweging” gebruik as sinonieme, selfs in die notules van die Uitvoerende Raad.
“Elke lidmaat behoort te verstaan wat dit beteken om
missionaal te wees…”
Vandag is die AGS in die proses om ‘n hedendaagse missionale beweging te word. Elke lidmaat behoort te verstaan wat dit beteken om missionaal te wees: Om daagliks te lewe vanaf die basis om “gestuur” te wees in sy/haar gemeenskap en op elke terrein van die samelewing as ‘n agent van verandering op te tree. Elke lidmaat behoort ‘n impak te maak op die lewens van ander met die boodskap, waardes, karakter en liefde van Jesus.
Ons “One AFM Game Plan” is die kommunikasie platform wat verskeie vlakke van AGS leierskap herbelyn met hendendaagse missionaliteit. Ons missionale strategie is geloods gedurende November 2013 en het vyf drywers of fokuspunte, naamlik:
- Dissipelskap –begeleiding van ons lidmate om ware volgelinge van Jesus te word en nie net slegs aanhangers (of te wel “fans”) nie. Om gelowiges te begelei om nie net kerklidmate of toeskouers te wees nie, maar aktiewe spanlede in die Groot Opdrag.
- Bemagtiging – van alle lidmate tot ‘n missionale leefwyse.
- Ekumeniese Betrokkenheid – om die liggaam van Christus te herken as alle lewegewende kerke en saam te werk, waar moontlik, om ons missie te vervul.
- Gemeenskapsbetrokkenheid – om die ware behoeftes in ons gemeenskappe aan te spreek, om sosio-ekonomies en geestelik relevant te wees.
- Goeie Bestuur – om te struktureer, te lei en onsself te bestuur met integriteit en aanspreeklikheid as deel van ons alledaagse getuienis as volgelinge van Christus.
KYK OM ONS… – VIER DIE AGS SE INTERNASIONALE IMPAK
Rev. F.C. Chikane – President van AGS Internasionaal
Nie baie kerke, veral Pinkster en Charismatiese kerke wêreldwyd, het die voorreg gehad om 110 jaar te vier nie. Die AGS is een van die oudste Pinksterkerke gebore vanuit die Azusastraat Herlewing in Los Angeles, California, VSA. Die AGS internasionaal het ‘n teenwoordigheid in omtrent 35 lande in 6 kontinente van die wêreld. Die AGS is gebore vanuit die krag van die Heilige Gees (Herlewing gelei deur die Gees). Die AGS se groei het globaal plaasgevind in 5 fases:
“Die AGS internasionaal het ‘n teenwoordigheid in omtrent 35 lande in 6 kontinente van die wêreld.”
- Die Handelinge Manier. Gewonde bekeerlinge (in die era van die diamant en goud stormloop en myners vanaf buurstate) wat getuies word van wat hulle beleef het (Handelinge 1:8).
- Georganiseerde missies. Strek oor die Suidelike Afrika streek, Kenia, Rusland en Nigerië.
- Gedesentraliseerde vorms van missie. Individuele gemeentes, “hubs”, alleen sendelinge ens. Strek oor België, Brazilië, Portugal, Mauritius, Rusland, Indië, Pakaistan, Fiji ens.
- Die Zimbabwe model. Politiese en ekonomiese krisis wat lei tot migrasie na ander dele van die wêreld – waar hulle ookal hulself bevind het, het hulle AGS gemeentes geplant – strek oor Groot-Brittanje, Ierland, VSA, Australië, Verenigde Arabiese Emirate ens.
- Dissipelmaking van die wêreld (op ons drumpel) in Suid-Afrika en stuur hulle terug na die lande waarvandaan hulle kom, byvoorbeeld Ethiopië en Eritrea.
Die eenheid wat in die AGS in 1996 bereik is, het die deur geopen vir die ontwikkeling, groei en uitbreiding van “missionale” kerke. Uitreiking na uitdagende gebiede en die ontwikkeling van AGS kerke internasionaal het gevolg.
“Ek hoop dat alle AGS lidmate soos Hezmalhalch en Lake kan wees en optreë as missionale agente om die onbereikbares te bereik, asook die “post”-christene van die wêreld.”
Ek tywfel dat Thomas Hezmalhalch, John G Lake en hulle span ooit kon besef het dat dit wat hulle geplant het sou groei tot waar die AGS vandag is. Die les wat ons hieruit moet leer is dat klein dingetjies (of wat ons beskou as onbeduidend) – soos die mosterdsaad – kan lei tot groot dinge! Ek hoop dat alle AGS lidmate soos Hezmalhalch en Lake kan wees en optreë as missionale agente om die onbereikbares te bereik, asook die “post”-christene van die wêreld.
KYK VORENTOE… – DIE AGS BEWEEG DIE TOEKOMS IN!
Past. M.G. Mahlobo – President
TYE HET VERANDER
Een van die mees beduidende veranderinge sedert die ontstaansdatum van die kerk tot nou, is die konteks waarin die kerk vandag funksioneer. Pendelstelsels het verander vanaf kool en stoom lokomotiewe na die vinnige spoorwegstelsel (spoedtreine, soos die Gautrein). Die tempo van kommunikasie is baie vinniger as in 1908. Dit word duidelik gesien in die geleidelike vervanging van “slakkepos” deur e-posse en sosiale netwerk opsies. Inligting is in oorvloed beskikbaar en maklik toegangklik.
Ons wêreld het verklein tot ‘n “small village”. Al hierdie veranderinge het voordele en nadele, maar die veranderinge het ‘n meer positiewe as negatiewe impak op die verspreiding van die Evangelie van Jesus Christus. Dit is nou moontlik vir die kerk om ‘n groot getal mense regoor die wêreld te bereik binne ‘n kort tydperk.
Aan die negatiewe kant het hierdie veranderinge ook tot die verspreiding van ‘n sekulariserende kultuur gelei. Hierdie sekulêre kultuur neig om geloof te beperk tot ‘n private, persoonlike aangeleentheid – wat kontrasterend is met die Groot Opdrag (Mattheus 28:18-20). Dit gedy op humanistiese neigings wat die menslike belangstelling bevorder en God wegstoot na die buitekant (materialisme en hedonisme). In hierdie konteks is die engiste dryfveer tussen die gelowe nie ‘n saak van waarheid of onwaarheid nie, maar van verskillende persepsies van “een” waarheid. Al hierdie negatiewe aspekte bied aan die kerk ‘n geleentheid om God se Koninkryk te verteenwoordig deur die sout en die lig van die wêreld te wees. (Matteus 5:13-14)
ONS VISIE
“Ons sien ‘n kerk (AGS) wat toeganklik is vir alle mense, wat eenheid en ‘n Godgegewe-diversiteit vier, wat lidmate bemagtig om met sorg gemeenskappe te transformeer tot die glorie van God.” Die visie verklaring reflekteer 4 kritiese komponente:
- Toeganklikheid
- Viering
- Besorgdheid
- Transformasie
STRATEGIE
Die opkoms van die missionale kerk is die enkele grootste ontwikkeling in die Christendom sedert Reformasie. Om missionaal te wees is nie “kerk-soos-gewoonlik” nie. Daar word 3 skuiwe benodig om missionaal te wees. Hierdie skuiwe het te doen met bedieningsfokus, mense-ontwikkeling en die leierskap agenda. Dit is ‘n verskuiwing van interne na ‘n eksterne bedieningsfokus, van program-ontwikkeling tot mense-ontwikkeling en vanaf kerk-gebaseerd na Koninkryk-gebaseerd in terme van die leierskap agenda (Reggie McNeal 2009).
Die vroeë geskiedenis van die AGS dra onmiskenbare bewys dat elke aktiwiteit in die kerk gedrewe was deur die passie om siele te wen deur die Evangelie van Jesus Christus. Hierdie instinktiewe gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag was deel daarvan om gevul te wees met die Heilige Gees. Dit is hoe ons ons naam moet verstaan: Apostoliese Geloofsending.
“Ons wil ‘n gemeenskap van God se mense wees wat hulself definieer en organiseer rondom die ware doel van die kerk “
Dit is hoekom die konsep van missionale kerk die basis is van ons strategie. Ons wil ‘n gemeenskap van God se mense wees wat hulself definieer en organiseer rondom die ware doel van die kerk – om ‘n agent te wees van God se missie in hierdie wêreld. Dit is ‘n kerk waar lidmate en leiers hulle self sien as “gestuurde” mense van God – “gestuur” op die missie van Jesus. Ons “One AFM Game Plan” is die platform wat ons gebruik om begrip aangaande ons missionaliteit en ook praktiese implementering teweeg te bring.
IMPLEMENTERING VAN MISSIONALITEIT
Op ons reis om weer ‘n missionale kerk te word is daar twee groot skuiwe wat toekomstige implementering sal lei – en dit het te doen met ons lidmate en ons Pastore.
Lidmate. Met die ontstaan van die AGS was daar nie ‘n onderskeiding gemaak tussen “lay” en “clergy” lede nie. Ons het na mekaar verwys as Broeders en Susters. Daar was van elke lidmaat en leier van die kerk verwag om ‘n getuie van Jesus Christus te wees deur die krag van die Heilige Gees, daar waar hy/sy ookal hul bevind. Dit is hoe die AGS gegroei het tot die kerk wat dit vandag is in Suid-Afrika, verskillende Afrika lande en ander dele van die wêreld. Gewone AGS lidmate wat gedoop was met die Heilige Gees was aangevuur om hulle getuienisse te deel. God het met hulle gewerk, hulle getuienis bevestig deur tekens en wonderwerke. Die sleutel tot ‘n missionale kerk lê by die lidmate. Die lidmate treë op as apostoliese agente in die wêreld. My boodskap aan ons lidmate is geen ander as die boodskap wat toegeskryf word aan Francis van Assisi: “Preach the Gospel all the time, if necessary use the words”. Ons gedrag moet harder praat as ons woorde en preke.
“Die sleutel tot ‘n missionale kerk lê by die lidmate.”
Pastore. Een van die hoof skuiwe wat ons pastore moet maak is om “coaches” te word. Dit kan die beste geillustreer word as ‘n verskuiwing vanaf net ‘n “Herder” wees, na ‘n “Coach” wees. Die tabel hieronder wys van die mees belangrike verskille tussen die twee rolle:
SLOT
Ek vertrou dat hierdie Pastorale Brief jou op ‘n reis gevat het na die AGS se missionale verlede, huidige impak in Suid-Afrika en die wêreld, asook ons glorieryke toekoms! My boodskap aan jou: As kerk, hou aan beweeg in die toekoms in! Mag God aanhou om die AGS en ander lewensgewende kerke te gebruik as Sy instrument om Sy missie in die wêreld te bereik.
Mag elke AGS lidmaat hulle posisie as hedendaagse Apostoliese Agente en Koninkrykswerkers opeis. Mag elke AGS Pastoor en leier in hulle rol as afrigter, “coach” en toeruster van die gelowiges instap – en ons lidmate bemagtig om hulle gemeenskappe met sorg te verander na ‘n plek waar God verheerlik word.
Voorwaarts AGS! Voorwaarts met die “Going Gospel”!