Pastorale Brief: 2de Kwartaal

Laai die PDF weergawe hier af:

AFM Newsltr 2ND Qrt 2019 AFR WEB

Liewe Kollega,

Ons is tans besig om voor te berei vir ons jaarlikse AGS Nasionale Konferensie wat aangebied gaan word in Kaapstad. Die Konferensie se tema is: “Rooted in Christ” en die kernvers is Kolossense 2:6-7:

Geestelike volheid in Christus
6Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, 7in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

Die tema is gemik op die bemagtiging van ons lidmate en pastore, spesifiek oor hoe om ons verhouding met Christus so te verdiep dat ons sterk bly wanneer uitdagings op ons pad kom. In Psalm 1:3 vergelyk die Psalmdigter ‘n geseënde mens met ‘n vrugbare boom wat langs ‘n stroom water geplant word. Daar word verwag dat kinders van God stewig in Christus geanker moet wees, dat hulle voortdurend op God se Woord moet voed, Christus met ander moet deel en hul geloof ongeskonde moet hou.

Afgesien van die inspirerende aanddienste, sal daar ook PCD (“Pastoral Continuous Development”) sessies wees wat fokus op die kwessies wat nodig is vir geestelike groei. Pastore sowel as lidmate is welkom om dit by te woon. Die volgende onderwerpe sal aangebied word: “Gebed” deur Suzette Hattingh, “Opvolging” deur Dr. Anthony Jacobs en “Kerkplanting” deur Danie Vermeulen. Daar sal ook ‘n sessie wees wat gefokus is op die behoeftes van die pastoorsvrou.

Om aanlyn te registreer besoek die AGS se webtuiste deur die volgende skakels te gebruik:
https://afm.easychurch.co.za/?page_id=365
http://afm-ags.org/category/events/

Ek vertrou dat hierdie Pastorale Brief jou sal seën! Ons kyk dieper na ons Pinksterwortels en wat dit werklik beteken om ‘n “Apostoliese” Kerk te wees. Ons beskou die kwessie van leierskap en “hoe om te lei vanuit die binnekant” – deur te reflekteer op een van Pastoor Sam Adeyemi se aanbiedinge. Laastens deel ons ‘n bespreking oor die AGS se voorgestelde “Foreign Missions Policy” (Beleid t.o.v. Buitelandse Sendingprojekte)

APOSTOLIESE WORTELS:  SOOS IN DIE BEGIN
Dr. I.S. Burger – Vorige President van die AGS van SA  [email protected]

Die begin is belangrik, veral sover dit die kerk betref. Die Bybel verwys dikwels na die begin. Op Israel se reis na die Beloofde Land is hulle gewaarsku om nooit hul begin te vergeet nie, hoe God hulle uit Egipte uitgelei het. Toe Petrus aan die leiers in Jerusalem moes verduidelik waarom hy die huishouding van Cornelius gedoop het, het hy dit geregverdig deur hulle na die begin te verwys: “Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin.” (Handelinge 11:15). Met ander woorde, as God hulle waardig geag het, en vir hulle die Heilige Gees gegee het op dieselfde manier as vir ons in die begin, wie is ek om te diskrimineer? Aan die anderkant toe die Fariseërs die egskeiding probeer regverdig het en Moses selfs in hierdie verband aangehaal het, het Jesus verder gegaan as Moses na “die begin””. Hy het gesê: “Maar dit was nie van die begin af so nie.” (Matt. 19: 8.)

“‘n Visioenêre kerk sal nooit sy oorsprong verloor nie. Wortels is belangrik.”

Ek is meer en meer bewus van die gesonde en heilsame spanning tussen “waar ons vandaan kom” en “waarheen ons gaan.” Mense wil dikwels (en met goeie reg) van ‘n leier weet: Wat is jou visie, waar sien jy ons in die toekoms? Dit is belangrik om ‘n toekomsvisie te hê, maar dit is ewe belangrik om diegene wat jy lei te herinner aan waar hulle vandaan kom. ‘n Visioenêre kerk sal nooit sy oorsprong verloor nie. Wortels is belangrik. Dit kan rampspoedig wees om voort te gaan om te bou en dan te vergeet van die fondament en die plan.  Soos in die Bybel, hoe dit “aan die begin” was, sal aandui wanneer ‘n mens afwyk van die God-gegewe plan.

Die Apostoliese Geloofsending moet nooit sy oorsprong vergeet nie. As deel van die Pinksterbeweging moet ons gedurig herinner word dat Pinkster ‘n herstel van die kerk in die Apostoliese tye is (→ 100 n.C.). Dit is die Nuwe Testamentiese Kerk, die Kerk in die begin, waar byna die hele Pinksterbeweging in die begin van die 20ste eeu die “Apostoliese Geloofsending” genoem was. Ons denominasie is omtrent die enigste wat die oorspronklike naam behou het. En hierdie naam verbind ons onomwonde aan die kerk in Bybeltye. Is ons die naam waardig?

‘n Ware “Apostoliese kerk” soos die kerk “aan die begin”, is ‘n kerk waar die kenmerkende leerstellings, godsdienstige ervarings en basiese gebruike sal ooreenstem met die patrone van die vroeë kerk en “die geloof wat eenmaal aan die heiliges gegee is” (Judas 1:3). Wat is sommige van die belangrikste eienskappe?

(Met erkenning aan David A. Womack, “The Wellsprings of the Pentecostal Movement”):

1 – Jy sal dit vind in die manier waarop daar na die Skrif gekyk word. Hulle sal glo dat die Ou Testament die weg voorberei vir die koms van die Messias en hulle sal die Ou Testament interpreteer in die lig van die leerstellings van die Apostels. Hulle sal in die Nuwe Testament glo as die enigste geldige bron van Christelike leer, godsdienstige ervaring en praktykbeginsels. Hulle sal die Skrif in ‘n letterlike sin interpreteer waar die konteks nie natuurlik figuurlik of poëties is nie, want die Bybel is in wese ‘n praktiese boek – die Goddelike geïnspireerde Woord van God vir die mens.

2 – ‘n “Apostoliese kerk” sal elke leerstelling deur die apostels glo en sal enige godsdienstige leerstelling wat nie in die Nuwe Testament ingesluit is nie, verwerp. Daar kan vandag nie ‘n belangrike leerstelling wees wat nie ook vir die Christene van die eerste eeu belangrik was nie.

3 – ‘n “Apostoliese kerk” sal sy lidmate onderrig en aktief poog om die godsdienstige ervarings van die eerste-eeuse kerk te bewaar. Eerstens, verlossing as ‘n spesifieke ervaring waarin ‘n mens oortuig word van sonde, die sonde aan God bely, aanvaar dat Jesus Christus die Seun van God is, gereinig word deur die versoenende bloed van Jesus en ‘n heilige lewe begin leef voor God. Tweedens sal daaglikse gebed en meditasie op die Woord van God aan die orde van die dag wees. Gelowiges sal gedoop word in water en sal gereeld aan die nagmaal deelneem. Alle gelowiges sal aktief poog om die doop met die Heilige Gees te ontvang met sy kenmerkende teken en geestelike ervaring deur in ander tale te praat soos die Gees hulle uitspraak gee.

Alle gelowiges sal aktief poog om die doop met die Heilige Gees te ontvang met sy kenmerkende teken en geestelike ervaring deur in ander tale te praat soos die Gees hulle uitspraak gee.”

4 – ‘n “Apostoliese kerk” sal gekenmerk word deur die voortgesette manifestasie van die gawes van die Gees.

5 – So ‘n kerk sal intens missionaal wees – in konsep en aksie.

6 – Die priesterskap van alle gelowiges sal ‘n daaglikse werklikheid wees, aangesien elkeen sal besef dat hy/sy ‘n bediening in die liggaam van Christus het.

7 – ‘n “Apostoliese kerk” oorskrei rasse-, kulturele en taalverskille. Hierdie kenmerk was duidelik sigbaar op Pinksterdag, in Azusa Straat sowel as met die begin van die AGS in Doornfontein in 1908. Dankie Here, in April 1996 het hierdie kenmerk weer duidelik geword met ons eenwording!

8 – Die Wederkoms van ons Here Jesus Christus was ‘n brandende realiteit in die vroeë kerk. Dit was dieselfde met die begin van die moderne Pinkster-beweging. Dit was die tema van baie liedjies en preke. Daar was ‘n drang na ‘n heilige lewe. Ek twyfel of dit nog steeds die geval is. Ons moet onthou dat Pinkster-mense, mense is vir wie die Wederkoms ‘n daaglikse werklikheid is.

Die Wederkoms van ons Here Jesus Christus was ‘n brandende realiteit in die vroeë kerk.”

Ons, as Pinkster-pastore en lidmate, moet onsself, ons bedieninge, ons kerkdienste en ons plaaslike kerke voortdurend evalueer en toets. Die enigste manier waarop ons onsself van ons eie Pinkster karakter kan verseker, is om ons te meet en te vergelyk met die Christene van die eerste eeu.

Stem ons teologie ooreen met die Nuwe Testament, of is daar ander idees bygevoeg wat nie in die apostoliese lering gevind kan word nie? Staan die leerstellings van ons kerk duidelik uit in die Nuwe Testament, of moet hulle aan klein frases wat uit konteks uit die Skrif verwyder word, hang? Stem ons godsdienstige ervarings ooreen met dié van die vroeë Christene, of is daar net geestelike toestemming vir die geestelike gebeure van die eerste eeu? Het ons, as Pinksterlinge in ons beweerde terugkeer na die apostoliese teologie, die toegewyde, evangelistiese gees van die vroeë kerk gereproduseer? Het dit ‘n sendinguitreik opgelewer met enige moontlikheid om die Groot Opdrag van Christus uit te voer?

God help ons om die naam “Apostoliese Geloofsending” waardig te wees!

OM VAN BINNE NA BUITE TE LEI
Dr. Henri Weideman – Algemene Sekretaris van die AGS van SA – [email protected]

Een van die Nasionale Ampsdraers se 2019 bemagtigings sessies het ‘n video aanbieding deur Pastoor Sam Adeyemi, die senior pastoor van Daystar Christian Centre in Lagos Nigeria, ingesluit. Die titel van sy aanbieding was: “Leading from the inside out” en het basies gefokus op die belangrikheid van wat ons in ons innerlike wese is en dink en oor hoe dit die manier waarop ons groei en ander lei, beïnvloed.

In leierskap trek jy nie die mense na jou toe aan wat jy graag WIL aantrek nie, sê Adeyemi, maar die mense wat soos jy IS. Dit beteken dat die identiteit van leiers, sowel as die van die mense wat hulle volg, baie belangrik is. Hoe sien jy jouself? Wat glo jy ten opsigte van jouself? Glo jy die woorde wat die onderwyser of gesagsfiguur lank terug aan jou gesê het, dat jy nie in staat is om iets te doen nie, of dat jy nie goed genoeg is nie? Glo jy dat dit waar is? Sien jy jouself as minderwaardig en nie in staat om suksesvol te wees nie? Negatiewe stemme en ervarings, selfs gedurende ons vroeë kinderjare,  veroorsaak dat baie leiers ‘n beperkende beeld het ten opsigte van hulle eie vermoëns en moontlikhede.

Die probleem is dat as jy negatief is oor die lewe, en oortuig is dat jy nie in staat is om sukses te behaal of oor die nodige vermoëns besit nie, jy heel waarskynlik mense met dieselfde tipe ingesteldheid na jou toe sal aantrek. Volgens Adeyemi is die grootste geskenk wat jy aan iemand kan gee, ‘n nuwe begrip ten opsigte van hom- of haarself.  ‘n Nuwe beeld oor wie hulle is, wat hulle het en wat hulle kan wees.

God maak kampioene van gewone mense.”

Dit is wat God doen en dit is ook wat leiers moet doen: God maak kampioene van gewone mense. Hy vat gewone alledaagse mense, met al hulle kwessies en eiesoortighede en omvorm hulle in mense wat buitengewone dinge doen. Die Bybel is vol voorbeelde hiervan. Kyk maar net na die lewens van die disippels wat Jesus gekies het. Hulle was gewone mense. Jesus het nie net gesien wat hulle was nie (vissermanne), maar wie hulle kon word en wat Hy deur die Heilige Gees in en deur hulle kon doen.  Daardie gewone vissermanne het die leiers en apostels van die eerste kerk geword en het ‘n kernrol gespeel in die verspreiding en groei van Christenskap regoor die wêreld en selfs tot vandag toe.

Dit is wat ons as leiers behoort te doen: Ons moenie na die mense saam met wie ons werk kyk en wens dat ons ander, “beter” en meer vaardige lidmate en kollegas gehad het nie. Ons moet begin om die moontlikhede in hulle raak te sien.  Goeie leiers sien leiers in hulle volgelinge en begin om dit wat hulle sien te beskryf. Deur dit te doen het hulle ‘n bemagtigende effek op die mense om hulle.

…die feit dat leiers die transformasie waaroor hulle praat en preek moet modeleer. “

Dit is deel van wat dit beteken om ‘n visie te hê: Adeyemi sê: “Visie is om mense, plekke en dinge te sien, nie net soos wat hulle is nie, maar soos wat hulle kan wees.” Leiers moet moontlikheidsdenkers word en nie net die uitdagings in elke situasie raaksien nie, maar ook die geleenthede. ‘n Ander belangrike aspek van Adeyemi se praatjie was die feit dat leiers die transformasie waaroor hulle praat en preek moet modeleer. Ons praat baie oor hoe mense behoort te leef en wat hulle behoort te doen, maar doen ons dit self? Modeleer ons ons eie idees? Doen ons werklik dit wat ons sê? In hierdie verband wys Adeyemi na die voorbeeld van Jesus en ook na Sy leierskap – veral as dit kom by hoe ons will hê mense op ons moet reageer en hoe hulle ons as leiers moet hanteer. Hy het gepraat oor ‘n kultuur in sy eie land waarvolgens leiers tot so ‘n mate vereer en gerespekteer word dat mense sal padgee voor hulle en selfs uit die pad gestoot sal word, sodat hulle kan verbygaan. Hierop sê hy: “Dit behoort nie so te wees nie.  As enige iemand uit die pad gestoot moet word, stoot my uit die pad uit, maar moenie ander mense terwile van my wegstoot nie.” Ons leierskap moet gekenmerk wees deur diensbaarheid. (Servant Leadership) Ons ingesteldheid moenie wees om oor mense te regeer en hulle te hiet en gebied nie, maar eerder om hulle te dien deur ons leierskapsvaardighede.

Ons leierskap moet gekenmerk wees deur diensbaarheid. “

Adeyemi eindig sy aanbieding deur ons daarop te wys dat ons onsself voortdurend moet herontwerp. Ons behoort op ‘n voortgesette basis te groei en te ontwikkel. Ten opsigte van karakter, persoonlikheid en vermoëns behoort ons nie dieselfde persoon te wees wat ons ‘n jaar gelede was nie. Ons moet “sterf” op een vlak van ons bestaan, sodat ons kan groei na ‘n volgende vlak. As leiers is ons op ‘n daaglikse basis besig om die organisatoriese- en operasionele kultuur van ons organisasies en gemeentes te skep. Hoe ons onself sien. Hoe ons praat en onsself dra. Ons ingesteldheid, leefstyl en gedrag. Al hierdie dinge wat uit ons innerlike mens kom, bepaal hoe ons  lei en hoe ons die mense om ons beïnvloed en vorm.

Al hierdie dinge wat uit ons innerlike mens kom, bepaal hoe ons  lei en hoe ons die mense om ons beïnvloed en vorm.”

[Die doel van hierdie artikel was nie om dit wat Sam Adeyemi gesê het op te som nie, maar eerder om daarop te reflekteer. -Henri Weideman]

VOORGESTELDE BELEID OOR BUITELANDSE SENDINGPROJEKTE (“Foreign Missions Policy”)
Past. M.G. Mahlobo – President van die AGS van SA – [email protected]

Tydens die Nasionale Leierskapsforum (NLF) vergadering in Maart 2019, is ‘n konsepbeleid oor Buitelandse Sendingprojekte aanvaar – opgestel en aangebied deur die President van die AGS van SA. Hierdie beleid sal nou aan alle kerkstrukture gesirkuleer word ingevolge klousule 12.2 van die kerk se grondwet vir finale goedkeuring deur die NLF.

Die skakel na die beleid is hier ingesluit ter verwysing:
http://afm-ags.org/category/media/

Historiese Agtergrond
Dit was vir die eerste keer sedert sy eenheid in 1996 dat die AGS ‘n beleid oor Buitelandse Sendingprojekte aanvaar het. Voor 1996 het die voormalige kerkleiers ‘n departement gehad wat vir sendings in Suid-Afrika en vir buite die land se grense voorsiening gemaak het. Hierdie departement is gesluit (hoofsaaklik as gevolg van die desentralisasie van ons kerkstrukture). Na afloop van hierdie sluiting het ‘n hele aantal buitelandse sendingprojekte wat deur plaaslike AGS-gemeentes en individuele pastore bestuur word, ontstaan. In 2006 het die NLF besef dat daar geen nasionale, koördinerende en verteenwoordigende sendingliggaam in ons kerk was nie. Na ernstige oorweging van hierdie gebrek het die NLF ‘n “Missions Advisory Committee” (MAC) ingestel wat deur die President van die kerk op daardie tydstip, Dr Isak Burger gelei is. Een van die sleutelareas waarop MAC gefokus was, was die ontwikkeling van ‘n strategiese missionale beleid.

In 2011 het MAC ‘n meer omvattende en insluitende sendingstrategie aangebied. Die hoofdoel van hierdie strategie was om die AGS te omskep in ‘n Apostoliese beweging of in ‘n Missionale beweging. MAC se visie is genoem Visie 2020 en Qalakabusha (Nuwe begin). Dit het beoog om die AGS ‘n kerk te maak wat die hele Evangelie na die hele wêreld neem en ons gemeenskappe versadig met die teenwoordigheid en beginsels van die Koninkryk van God. Dit het aanleiding gegee tot die AGS se slagspreuk: “Waar jy ookal mense vind, sal jy die AGS vind.”

Visie 2020 (Qalakabusha) het met tyd deel geword van die AGS se visie en die strategiese implementerings plan beter bekend as die “One AFM Game Plan.” Die kerk is tans in die implementeringsfase van die “One AFM Game Plan”. Buitelandse perspektief is tans ‘n ontbrekende deel in die “One AFM Game Plan”. Die fokus is hoofsaaklik intern. Dit het die ontwikkeling van ‘n beleid op Buitelandse Sendingprojekte nodig gemaak.

Hierdie beleid sluit die volgende vyf kritiese elemente in:

  1. Koördinering van die werk wat tans deur die AGS van SA se sending-agentskappe en plaaslike gemeenstes regoor die wêreld gedoen word;
  2. Vestiging van AGS-kerke in lande waar dit nie bestaan ​​nie, veral in lande waar geen Evangeliese of Pinkster kerke teenwoordig is nie;
  3. Betrokkenheid en die rol van ons plaaslike gemeentes en ons AGS lidmate in die diaspora;
  4. Versterking van kerkstrukture (beleide), en
  5. Die ontwikkeling van kerkleierskap.

Koördinering van die werk wat tans gedoen word
Alle sending of missionale aktiwiteite buite ons land moet goed gekoördineer word. Die kantoor van die Algemene Sekretaris sal verantwoordelik wees vir hierdie koördinering.

Missionale aktiwiteite waar die AGS nie bestaan nie
Die beleid moedig die oprigting van AGS-kerke, waar dit glad nie teenwoordig is nie, aan. Die wette van die betrokke lande moet nagekom word. Ons moet altyd in gedagte hou dat die omvang van die Groot Opdrag in Mattheus 28: 18-20 verder gaan as Suid-Afrika en die hele wêreldgemeenskap dek. Die Nasionale Leierskapsforum (NLF) moet lande identifiseer wat die minste bereik word in terme van die Evangelie van Jesus Christus. Een aanwyser in hierdie verband moet wees waar daar geen teenwoordigheid van Evangeliese of Pinksterkerke is nie.

Ons moet altyd in gedagte hou dat die omvang van die Groot Opdrag in Mattheus 28: 18-20 verder gaan as Suid-Afrika en die hele wêreldgemeenskap dek.”

Missionale aktiwiteite in lande waar die AGS reeds bestaan
Die beleid lewer ‘n pleidooi dat alle agentskappe en individue van die AGS van SA wat betrokke is in buitelandse sendingprojekte in lande waar die AGS-kerk bestaan, die bestaande AGS rolspelers in ag sal neem met die oog daarop om hande saam te vat. Dit sal onnodige duplisering van AGS-kerke of kompetisie tussen  AGS-kerke  in die buiteland vermy.

Die rol van ons plaaslike gemeentes en lidmate
Daar is baie AGS-lidmate in die diaspora. Sommige het hul lidmaatskap behou by hul plaaslike AGS-gemeentes hier in Suid-Afrika.  Plaaslike gemeentes moet ons lidmate bewus maak van hul missionale roeping waar hulle ookal ontplooi word. Hulle moet aangemoedig word om hierdie roeping uit te leef.

Ontwikkeling van strukture en kerkleierskap
In baie lande waar die AGS gevestig is, is kwessies van goeie bestuur ( “Good Governance”) nagelaat. Ons sending-agentskappe en plaaslike gemeentes betrokke by buitelandse projekte word gevra om die kwessie van die ontwikkeling van kerkstrukture en leierskap (bestuur) te prioritiseer.

NLF se rol
Die NLF moet sendingaktiwiteite mobiliseer en koördineer om uit te reik na lande wat nie bereik is met die Evangelie van Jesus nie.

SLOT

Ons beplan voort aan ons Nasionale Konferensie met ‘n hart vol verwagting! Ek hoop regtig om baie van ons Pastore, lidmate en leiers daar te sien. Mag ons altyd stewig gewortel wees in Christus – God lief hê, Christus met ander deel, mekaar dien en saam groei!

Seën!
Past. M. G. Mahlobo
(President van die AGS van SA)