Mooiweer met 'n kans op reën

2016/02/17

Die laaste maande se uiterste weersomstandighede in groot dele van ons land – rekordhoë temperature en ongekende en langdurige droogtes – het my oor ’n paar dinge laat besin.

Eerstens het my verstaan en definisie van “mooiweer” heeltemal verander. “Mooiweer” was oor die jare die standaardmanier om te sê dat dit nie gaan reën nie, die son gaan skyn, dit gaan lekker warm wees. Weervoorspellers gebruik die term daagliks: “mooiweer en matig”, of “mooiweer en warm”.

Reënweer is tradisioneel nooit as “mooiweer” beskryf nie. Dit is veral wanneer ons vakansies, buitelugaktiwiteite en sport ter sprake kom dat reënweer deur baie as ongunstige en onplesierige weer beskou word.

Hoe kortsigtig (en selfsugtig) is dit nie! Met toenemende verstedeliking en al hoe minder mense wat direk van goeie reën afhanklik is, maak ¬reën vir baie van ons nie eintlik saak nie. Totdat die uiteindelike rimpelings van die droogte ons tref: leë damme, leë krane, duurder kos, ens.

Een ding het ek opnuut die laaste tyd besef: Mooiweer, goeie weer, is nie noodwendig sonskyn nie, maar is die weer wat ’n streek en land die nodigste het. Die laaste maande sou deurdringende, dae lange reënweer die wonderlikste, mooiste weer vir die grootste deel van ons land gewees het.

Natuurlik is dit ook waar in ons persoonlike lewe. Al verkies ons altoos die vredigheid van sonskyn en voorspoed in ons lewe, sal dít alleen ons kwalik tot geestelike en emosionele volwassenheid bring. God gebruik ook slegte “weersomstandighede” in ons lewe.

Tweedens het ek weer eens besef hoe nietig, afhanklik en broos die mens ten opsigte van die natuur en sy elemente is. Met al ons wonderlike wetenskaplike en tegnologiese vordering staan ons steeds verleë, verslae en magteloos teenoor die kragte van die natuur. Of dit nou ’n aardbewing, sinkgate, ’n tornado, droogte of vloede is – die natuur laat jou opnuut besef hoe klein en nietig jy eintlik is.

Derdens kan ’n mens dit nie miskyk dat verskillende natuurrampe opsigtelik gereelder en hewiger voorkom nie. Sommige daarvan is heeltemal buite ons beheer. Ander natuurrampe is in mindere of meerdere mate mensgemaak. Dink maar aan die besoedeling van ons grond, lug en water – ja, selfs die see. Uitermatige hitte en droogtetoestande was nog altyd deel van die natuur se gang en ritme. Uiterste klimaatstoestande het die afgelope 50 jaar egter met reëlmaat jaarliks toegeneem, met die afgelope seisoen byvoorbeeld die warmste in menseheugenis in groot dele van ons land. Die misbruik en uitbuiting van ons planeet en sy natuurlike hulpbronne deur ’n oorbevolkte en materialisties gedrewe mensdom kan nie meer ontken word nie.

Vierdens het die reaksie van diegene wat die meeste deur die droogte geraak is (die boere self) my diep getref. In die een mediaonderhoud ná die ander het landbouers te midde van en ondanks die uitmergelende droogte telkens hul geloof in God en hul afhanklikheid van Hom bely. Ironies, en tog wonderlik, dat ons dikwels in ons kwesbaarste en moeilikste tye ons afhanklikheid van die Almagtige besef.

http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/isak-burger-mooiweer-en-koel-met-n-kans-op-reen-20160217

Contact the AFM National Office
info@afm-ags.org
+27(12) 644 0490
+27(12) 644 0732/4
PO Box 9450, Centurion, 0046

PBO Number: 930004069


You can also send us a message using the online contact form.

AFM stands for "Apostolic Faith Mission" (in Afrikaans: "AGS - Apostoliese Geloofsending"). The AFM exists since 1908 and is the first and largest Pentecostal church in the country - with 1.4 million members in SA and currently established in 29 countries of the world. "Pentecostal" means that it is a church who believes that the Spirit of God is given to believers to live dynamic and overcoming lives. 
 
Read more