AS JY TWEEDE VIOOL SPEEL
Teks: Joh. 1:40-42: “Andréas, die broer van Simon Petrus…het eers sy broer Simon gaan soek…Hy het hom na Jesus toe gebring.”
Dit is opmerklik watter soort mense Jesus geroep het om Sy dissipels te wees. Doodgewone mense. Nie noodwendig bekend of buitengewoon talentvol nie. Paulus sê selfs aan die Korinthiërs dat die Here dikwels mense kies wat nie deur die wêreld as besonder slim, vernaam of sterk beskou word nie.
Met ‘n broer soos Petrus, was Andréas maar meestal op die agtergrond. In die Evangelie van Johannes lees ons maar net drie keer van hom. Elke keer wat jy egter van Andréas lees, het hy iemand na Jesus toe gebring.
In Joh. 1:42 het hy – nadat hyself eers by Jesus uitgekom het - sy eie broer, Petrus, na Hom toe gelei.
In Joh. 6:8 het Hy ‘n seuntjie met twee vissies en vyf garsbroodjies na Jesus gebring. Met hierdie karige voorraad het Jesus die honger menigte gevoed. In 12:22 lees ons van ‘n aantal Grieke wat Jesus graag wou sien. Weereens was dit Andréas saam met Filippus wat hierdie mense na Jesus gebring het.
In vergelyking met wat Petrus alles gedoen het, klink dit só beskeie – Andréas het elkekeer net maar iets of iemand na Jesus toe gebring: sy broer, ‘n seuntjie met broodjies en vissies en later ‘n paar Grieke.
Maar dink net hieraan: As Andréas nie vir Petrus gebring het nie, sou ons dalk nooit eers van Petrus geweet het nie, en sou hy nooit ‘n rol gespeel het in die koninkryk van die Here nie. Hoeveel armer sou die kerk en die wêreld nie gewees het nie!
As dit nie vir Andréas was nie, sou duisende mense verhonger het omdat daar geen brood en vissies sou wees wat Jesus kon vermeerder nie en sou die Grieke langer moes wag voordat hulle die wonderlike Evangelie van Jesus Christus ontvang het.
Die wêreldbekende evangelis, Reinhardt Bonnke was instrumenteel om miljoene mense na die Here te lei. Maar waar het dit begin? Wie het Reinhard Bonnke na die Here gelei? Hy het my vertel dat dit ‘n onbekende evangelis was wat verdwaal het in die omgewing waar die Bonnke-gesin gebly het en by hulle huis uitgekom het. Reinhardt was toe maar nog net ‘n jong seun. Hierdie onbekende en ongeroemde sendeling het hulle as gesin na die Here gelei. ‘n Gewone Andréas.
Baie mense sal feitlik enigiets doen om bekend en beroemd te word. Net ʼn beperkte aantal mense het egter die talente en geleenthede ontvang om uit te styg – soos Petrus. Jesus het immers self gesê dat ons nie almal dieselfde hoeveelheid talente ontvang het nie – sommige vyf, maar ander net een of twee. Die meeste van ons is maar net doodgewone mense. Ons haal nie die koerante en die nuus nie. Mense soos Andréas.
In ‘n simfonie-orkes is daar onder andere eerste en tweede viole. Die eerste viole is meer prominent. Hulle is meer op die voorgrond, meer in die kollig. ‘n Mens sou kon dink hulle is die belangrikste.
Dit sou egter ʼn ramp wees as daar nét eerste viole in ‘n orkes sou wees. Alhoewel die eerste viole wel die toon aangee en die wysie speel, sou daar ‘n groot gemis wees, want sonder die tweede viole wat die wysie melodieus ondersteun en “vol” maak, sou ‘n groot deel van die harmonie en skoonheid van die musiek verlore gewees het. Dankie tog vir tweede viole.
Dank die Here dat Hy aan ons die “Petrusse” van die lewe gee. Dankie tog ook dat almal nie Petrusse is nie! Te veel Petrus-karakters en Petrus-geaardhede sou die lewe baie meer gekompliseerd gemaak het. Dank die Here vir die baie “gewone” mense, vir die Andréasse! Ek het ’n gevoel dat dit die meeste van ons is. Mense wat nie altyd die “kitaar slaan nie”, maar mense wat ons samelewing en ook die kerk aanmekaar hou en die lewe sommer net vol en mooi maak.
Dalk voel jy ook dat jy so min vir die Here kan doen, dat jou bydrae so gering is. Doen egter wat jy kán vir Hom. Bring die bietjie wat jy het vir Hom. Eendag sal jy sien watter verskil jou bydrae gemaak het.
As jy die gawes en persoonlikheid van ‘n Petrus het, leef dit eg en ten volle uit. Wees nederig oor die besondere talente en geleenthede waarmee die Here jou toevertrou het.
En jy, Andréas, speel maar jou tweede viool. Die orkes van die lewe sou ondenkbaar wees sonder jou!
