BEWYSE OF GETUIENISSE
GODSDIENSAKTUEEL
Soos gepubliseer in BEELD GODSDIENSAKTUEEL
BEWYSE OF GETUIENISSE
Deur Isak Burger
Vir iemand wat die (Afrikaanse) koerante gereeld lees, het dit die afgelope paar jaar duidelik geword dat daar mense is wat nie ‘n geleentheid verby laat gaan om geloof in God te diskrediteer nie.
Daar kan sekerlik geargumenteer word dat dit nie noodwendig negatief is dat mense hulle vrae, twyfel en verskille oor God en godsdiens so openlik bespreek nie.
Daar is egter mense wat uit hulle pad gaan om nie alleen striemende en beledigende aanvalle op gelowiges te maak nie, maar ook uitlatings oor God te maak wat as godslasterlik beskou kan word en groot aanstoot gee aan mense wat Hom aanbid en liefhet.
Hulle verkieslikste metode is om venynige en grootliks-ongesubstansieerde aanvalle te doen op persone wat as publieke eksponente van die Christendom gesien word. Die mees populêre etiket wat hulle dan om so ‘n persoon se nek hang, is om hom (of haar) ‘n “fundamentalis” te noem en te insinueer dat diegene oningelig, agterlik en eintlik onnosel is.
In een so ‘n brief in Beeld word gelowiges uitgedaag om bewyse te bring om die bestaan van God en ‘n geestes- of buite-sintuiglike wêreld te bewys sodat wetenskaplikes kan kyk of hulle dit kan bevestig.
In ‘n vorige artikel was dit juis die punt wat ek wou tuisbring - dat God en hierdie “ander” wêreld waarvan ons deel is, nié deur die wetenskap bewys kan word nie – doodeenvoudig omdat die wetenskap homself tot die sintuiglike wêreld beperk.
Om vir bewyse oor God en die geesteswêreld te vra, is presies wat die Jode 2000 jaar gelede met Jesus gedoen het toe hulle om “tekens” gevra het. Jesus het geweier om aan hulle versoek toe te gee en gesê dat Hyself die Teken is.
Soos in die tyd van Jesus, sal mense wat sonder geloof en slegs deur die bril van die sintuiglike en die rasionele kyk, die spore van God wat die hele skepping vol lê, miskyk. Paulus het immers self gesê: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1Kor.2:14).
Miskien moet ons in plaas van “bewyse” praat van getuienisse. Baie mense (en dit sluit nie net Christene in nie) het dinge gesien en beleef waarvoor daar nie wetenskaplike verklarings is nie.
Feitlik elke godsdiens se aanhangers kan verhale oor die bonatuurlike vertel - selfs sataniste.
Die ironie is dat spiritualiteit en manifestasies van die bonatuurlike juis in ons huidige postmoderne dispensasie meer prominent is as in baie geslagte. Natuurlik is ‘n groot deel daarvan nie Christelik nie. Okkultisme in vele gewade kom jy oral teë.
Christene hoef nie verbaas te wees hieroor nie. Die bose is ook deel van die geesteswêreld en is eweneens instaat tot die bonatuurlike. Beide in die Ou en Nuwe Testament is daar vele voorbeelde van die bonatuurlike werke van die bose. Dis vandag steeds die geval.
Mense wat bewyse soek van die bowe-sintuiglike wêreld, glo waarskynlik nie die Bybel nie, het waarskynlik nog nie met die realiteit van demoniese manifestasies te doen gehad nie en kan veral nie praat oor enige verhouding of ervaring met God nie.
Daar is vandag honderde miljoene Christene – meer as ooit tevore – gelowiges van alle vlakke, stande en akademiese agtergronde, wat kan getuig van die bonatuurlike werk wat die Here in hulle lewens gedoen het – geestelik, liggaamlik en in hulle daaglikse lewe.
Vanwaar kom sommige ateïste om die persoonlike getuienis van sulke mense te bevraagteken? Jy kan mense se opinies bevraagteken, van hulle dogma en godsdienstige oortuigings verskil, maar om iemand se persoonlike, eerlike en hartlike getuienis oor God en hulle ervaring met Hom te bevraagteken en belaglik te probeer maak, is vermetel en arrogant.
Honderde miljoene mense, waarvan ek een is, kan vandag getuig dat die Here hulle lewens radikaal verander het. Hulle familie en vriende kan dit bevestig. Dit het gebeur toe hulle Jesus Christus as persoonlike Redder en Verlosser aanvaar het. Is dit “wetenskaplik” om sulke lewensveranderende getuienisse te bevraagteken?
Ek beskik oor honderde getuienisse van mense van integriteit wat in elke area van hulle lewe die werklikheid van God, Sy krag en Sy liefde beleef het.
Ek het niks meer te sê vir mense wat eis dat ons bewyse van God moet lewer nie.
