REAKSIE OF INISIATIEF?
REAKSIE OF INISIATIEF?
Isak Burger
Soos gepubliseer in BEELD GODSDIENSAKTUEEL
September 2008
Daar is iets wat Jesus geweier het om te doen – dit was om gedwing te word tot reaksie. Jy sal sukkel om in die Evangelies ʼn voorbeeld te kry van waar Jesus reaksionêr opgetree het.
Die reël was dat Hý die inisiatief geneem het en ándere het gereageer. Jy sien dit byvoorbeeld in sy hantering van die Fariseërs. Wanneer hulle Hom in ʼn hoek probeer druk het met ʼn moeilike vraag, het hy gewoonlik die inisiatief oorgeneem deur vir hulle ʼn vraag te stel wat hulle nie kon beantwoord nie.
In Sy konfrontasies met demone, was dit telkens húlle wat vervaard soos vlermuise in ʼn grot gereageer het wanneer ʼn skerp lig aangeskakel word.
Selfs met Sy verhoor voor die Hoëpriester en Pilatus, toe Hy allermins in ʼn beherende situasie was, het Hy Hom nie laat dwing om hulle vrae te beantwoord nie. Pilatus het dit baie vreemd gevind. Selfs in daardie vernederende oomblikke het Hy geweier om reaksionêr op te tree.
ʼn Reaksie impliseer dat iemand anders die leiding neem en jou aksie bepaal – jy re-ageer immers. Reaksionêre uitsprake word dikwels berou en reaksionêre besluite is dikwels swak besluite.
Dis dalk in hierdie lig dat ʼn mens Jesus en Paulus se ongewone voorskrifte moet verstaan, nl. dat ons onsself nie moet wreek nie; dat ons die ander wang moet draai en twee myl moet saamstap as een myl van ons verwag word. Dit is telkens ʼn voorbeeld van hoe reaksionêre gedrag deur inisiërende optrede vervang word. Nou is die ander party se wind uit sy seile gehaal, want hy het nie meer die inisiatief aan sy kant nie.
Ek besef dis nie ons natuurlike styl nie. Dis menslik om te reageer – en watter oor-en-weer reaksies is daar nie op alle vlakke in SA nie! Om venynige reaksie deur die inisiatief van die liefde te vervang, is egter die styl van die Koninkryk.
Dis nie altyd maklik nie. Ek moet myself gereeld bedwing en dissiplineer in hierdie verband. Laat ek eerlik wees: Daar is gereeld artikels en briewe in ons koerante waarop ek brand om te reageer.
Wanneer dit vir my veral moeilik is om nié in reaksie te kom nie, is wanneer uitlatings in die media gemaak word wat so afbrekend en sinies met God, die Bybel en Christene omgaan – veral t.o.v. dié leiers wat deur die Here gebruik word en ‘n positiewe verskil in mense se lewens maak, asook dié wat die integriteit en die gesag van die Bybel ondermyn.
Dit is natuurlik ook so dat hierdie soort artikels en briewe vanuit joernalistieke oogpunt meer nuuswaardig is as die tradisionele en konvensionele standpunte en daarom eerder in die media gedra word.
Ek aanvaar dat daar ook moderne apologete is wat geroep is om dwalinge sistematies, logies en rasioneel te weerlê. Ek bewonder die beredeneerdheid van sulke mense, maar voel myself nie heeltemal daartoe geroepe nie.
Ek het ʼn geruime tyd gelede besluit om sovêr as moontlik myself van sulke twiste te weerhou en met meer oorgawe as ooit die eenvoudige, dog kragtige en wonderlike Evangelie van Jesus Christus op elke moontlike manier te verkondig en uit te leef.
Ek weet daar is magte wat harder as ooit aan die werk is om mense se geloof in God en Sy Woord te ondermyn. Daar is egter ook ʼn ander Mag, groter as die mag van die bose, naamlik die Heilige Gees, wat wêreldwyd op ʼn skaal soos nooit vantevore nie, mense soekend maak na God.
Terwyl dit nodig is om sout van die aarde te wees en die kwaad en die bose te weerstaan, is ons ook geroep om lig vir die wêreld te wees.
Wat my opgewonde stem, is die feit dat al meer mense op die markplein nie meer skroom om aan God eer te gee en vir Hom uit te staan nie. Hier dink ek nie net aan ʼn aartappelboer wat vir skares vertel wat die Evangelie in praktyk beteken nie. Ek dink aan die talle sport- en televisiesterre en ander mense van invloed wat, sonder om te dweep, hulle verhouding met Jesus Christus bely en aan God eer bring. Ek dink aan gewone mense uit alle rassegroepe wat nie opgeneem word deur ingewikkelde dogmatiese en leerstellige argumente nie, maar wat weet en getuig dat hulle lewe deur God verander is.
Dit gee my hoop!
